Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Wildehonde, vry honde

Jo Kromberg lê op haar tent se stoep en geniet die uitsig. Foto’s: Hendrie Cloete, Izak van Zyl en verskaf
Op ’n reënerige oggend in die bos, ervaar Jo Kromberg die oomblik wat ’n trop wildehonde hul vryheid herwin.

Die uur is vroeg, die oggend al klaar warm ten spyte van die reën wat die afgelope paar dae hier in die Lapalala-wildtuin geval het.

Ons sit in afwagting agterop ’n wildritvoertuig naby ’n boma van houtpale en wag. Die karkas van ’n rooibok is ’n ent van ons af aan ’n boom vasgemaak.

Dan gaan die boma se hekke oop en 21 wildehonde verskyn.

Ses van hulle volwasse, 15 opgeskote tieners. Almal aarsel aanvanklik. Dan sien die ouer honde die prooi en amper soos een man is hulle ses op hul kos en verslind die bok.

Een van die wildehonde in die Lapalala-wildtuin.

Die telge hang langer onseker terug. Hulle is die afgelope drie maande hier in die boma gebore en dit is hul eerste kennismaking met die buitewêreld. Tien minute later skep een egter moed en toe hy dit waag om die eerste tree te gee, volg sy broers en susters dapper.

Binne sewe minute is almal klaar gevreet en die trop hardloop die bos in om hul nuutgevonde omgewing te verken. Soos blits is hulle weg en toe sien jy geharde gidse en omgewingspesialiste ’n traan wegpink.

Ek ruik wilde salie en vars dou. Dís die reuk van die vroeë oggendaarde in Afrika wat wakker word. Dis toonkrul-lekker om terug te wees in die bos ná maande se inperking!

Ek bevind myself by die Lepogo Lodges se Noka-kamp ongeveer drie uur se ry van Johannesburg af naby die Waterberge in die Vaalwater-omgewing. Ek ruik wilde salie en vars dou. Dís die reuk van die vroeë oggendaarde in Afrika wat wakker word. Dis toonkrul-lekker om terug te wees in die bos ná maande se inperking!

Ek’s deel van ’n handjievol joernaliste wat uitgenooi is om hierdie spesiale oomblik te ervaar.

Die boma was vir drie maande die wildehonde se tuiste. Die ses volwasse honde is hierheen verplaas van wildteelplase waar die boere gedreig het om hulle van kant te maak.

Die Noka-kamp troon oor die Palalarivier.
Luukser as vyfster

Die Noka-kamp lê uitgestrek bo-op ’n styl krans met ’n uitsig oor die Palalarivier baie ver ondertoe en die heuwels en berge op die horison. Die Lapalala-wildtuin self beslaan ongeveer 50 000 ha en daar is slegs twee lodges op die hele eiendom. Ons het die vorige dag hier aangekom met hoë verwagtinge en ons was nie vir een oomblik teleurgestel nie.

Ons gids, Hendrie, het ons ontvang by die hek waar jy jou kar agterlaat en op die eerste uurlange wildrit na die kamp het ons klaar kameelperde, sebras, leeus, allerhande bokspesies en ’n renoster en haar kalf gesien.

Dié wildtuin is die tuiste van die Groot Vyf.

Die ingang tot die lodge kom met eerste oogopslag beskeie en onopvallend voor – groot “tente” wat met die omgewing saamsmelt.

’n Oranje sonsak soos ’n mens net in die Bosveld sien.

Ons gasvrou, Ursula, en haar span verwelkom ons met ’n drankie en dan word ons na ons slaapplek begelei. Goed, kom ons praat oor ons Suid-Afrikaners se definisie van ’n “tent”. En wat dit ook al mag wees, liewe leser, dié blyplek is so ver van daardie definisie af as wat die Kardashians is van goeie smaak.

Goed, kom ons praat oor ons Suid-Afrikaners se definisie van ’n “tent”. En wat dit ook al mag wees, liewe leser, dié blyplek is so ver van daardie definisie af as wat die Kardashians is van goeie smaak.

Massiewe glasvensters oral gee mens ’n onbelemmerde, asemrowende uitsig oor die rivier ver benede. Die eenheid bestaan uit ’n sitkamer, slaapkamer, badkamer met buitestort en twee patio’s waarvan een ’n klein swembad het. Die hele plek se beligting, musiek, blinders en temperatuur kan beheer word vanaf ’n iPad, spesifiek geprogrammeer vir daardie eenheid.

Dit is ook duidelik, selfs vir die leek, dat daar aan elke argitektoniese en ontwerpdetail fyn aandag geskenk is en alles is op die hoogste moontlike standaard – van die suiwer bokhaarkomberse en die kwaliteit tee en koffie tot die marmertafel buite. Geen koste is ontsien nie.

Daar is slegs vyf villas met ’n maksimum plek vir 12 mense, so fisieke afstand is geen probleem hier nie.

Met moeite lig ek my kaak van die grond af, want middagete wag op ons, bestaande uit heerlike garnale en ’n smaaklike hamburger. Alles word vars gemaak op die perseel en slegs die beste bestanddele word gebruik en in smullekker kunsstukke omskep in die hande van die sjef, Tsepeso, en sy span. Die diens is eweneens uitstekend. Ongelukkig steek die reën ’n stokkie voor ons wildrit daardie middag, maar ek gebruik die tyd om ure in my enorme borrelbad te lê, met sagte, rustige musiek terwyl ek my verlustig in die ongelooflike uitsig.

Ursula vertel my dat elke sent wins wat die eienaars maak, teruggaan in die bewaring van die omgewing.

  • Hierdie lodge is duidelik vir die rykes bedoel, want ’n nag sou ’n ruk gelede R16 500 per persoon gekos het.

Covid-19 het ons lewe op baie maniere kom bederf, maar dit beteken ook jy kan nou teen R5 000 per persoon per aand hier kom slaap.

Dit sluit verblyf, alle kos en sekere aktiwiteite soos wildritte in. Drankies en ’n bewaringstarief is uitgesluit.

Dis dalk steeds ’n stywe bedrag, maar Noka-kamp is ’n eens-in-’n-leeftyd belewenis . . . en dalk sien jy die trop vry wildehonde.

Meer oor:  Wildehonde  |  Lapalala-Wildtuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.