Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Wuppertal toe op ’n drafstap vir bewusmaking!

Wat noop ’n ingenieur met ’n doktorsgraad om ’n 300 km-roete oor bergspitse heen na Wuppertal te draf? In stede van ’n drie uur lange rit na hierdie Cederberg-dorpie kies Pieter Holzhausen om honderde meters se klim oor rotsagtige areas aan te pak – met ’n belangrike doel voor oë. Sarie Marais-Nell vertel.

Pieter (37) sal Vrydag omstreeks 05:00 voor die NG moederkerk op Stellenbosch wegspring vir ’n 300 km-wedloop oor agt dae en agt bergspitse heen.

‘Om ruimtes oor berge heen bymekaar te bring, was nog altyd my droom. ’n Mens moet net die regte roete oor die berge kry om mekaar te vind,” verduidelik Pieter Holzhausen (37) sy filosofie.

Van Vrydag af sal hierdie Stellenbosser egter min tyd kry vir filosofeer, wanneer hy 05:00 voor die NG moederkerk op Stellenbosch wegspring vir ’n wedloop oor agt dae en agt bergspitse heen.

Sy eindpunt: Wuppertal, 72 km suidoos van Clanwilliam. Met ’n uitdagende roete om ’n besondere rede: Bewusmaking van die probleme wat hierdie mense beleef nadat die grootse deel van hul bekende omgewing op Oujaarsdag in 2018 afgebrand het.

“Die brand het 80% van hul geboue verwoes en hul hoofbron van inkomste – toerisme – geruïneer. Die regering se noodlenigingsprogram het September gestop en dit laat hulle in ’n netelige posisie,” verduidelik Pieter nadat hy met hul Morawiese leraar gesels het.

“Ek het nog altyd geglo Wuppertal met sy bekoorlike huisies – afgesonderd, maar pragtig tussen die bergspitse – is spesiaal. In hul midde het ek in die verlede oop harte, oop huise en hope ondersteuning geniet.

“Ek het ’n intense hartseer beleef toe ek van die brande hoor. Met hierdie projek wil ek graag dit wat ek gevoel het, uitleef in aksie. Veral noudat Wuppertallers ’n tweede golf van omgee benodig. Dit gaan ’n lang pad na herstel wees vir hierdie gemeenskap wat beoog om hul huisies volgens hul geskiedkundige aard te herstel.

Wanneer hy daardie aand sy vellies by die Agter-Tafelberg-hut ophang, kan hy ’n verdere 22,7 km afmerk.

“As ek selfs net ’n bietjie bewusmaking kan bring, dan kan hande daarop volg. Ek is bekommerd dat hierdie groot terugslag hulle op so ’n agtervoet mag plaas waarvandaan hulle moeilik sal herstel.

“Toerisme en rooibosboerdery is Wuppertal se lewensbloed, maar toerismegewys het dit tans nie veel om te bied nie. Die skoenfabriek, kerk en skoolkoshuis het gelukkig bly staan, daardie dag toe meer as 200 mense ontwortel is.”

Pieter, ’n vryskut-raadgewende ingenieur, put lewensvreugde daaruit om bergspitse draf-draf te oorwin. Daarom sy besluit om bewusmaking van hierdie mense se behoeftes te koppel aan sy alternatiewe roete na Wuppertal.

Om hierdie 300 km-bergroete sonder bystand en met sy Wuppertal-gemaakte velskoene aan te durf, was geen impulsiewe besluit nie. Dis die resultaat van sy draf-ekspedisies oor jare heen, asook deeglike beplanning.

“Omdat ek oor plase en deur natuurreservate gaan draf, moes ek spesiale toestemming by die betrokke grondeienaars en CapeNature reël. Ook omdat ek video’s van my roete gaan maak.”

Vrydag hardloop Pieter eerstens oor Bothmaskop berglangs na Jonkershoek en die Bergriviernek na Franschhoek – 30,4 km en vele klimme vanaf sy wegspringplek.

Die Stellenbosse ingenieur Pieter Holzhausen se eindpunt is Wuppertal, 72 km suidoos van Clanwilliam, met die doel om bewusmaking te skep van die probleme wat hierdie mense beleef nadat die grootse deel van hul bekende omgewing op Oujaarsdag in 2018 afgebrand het.

Dag twee neem hom na die Hawequa-natuurreservaat, waar hy die Cats-pas en Perdekoproete oorwin voordat hy berglangs oor Wemmershoek na Elandspad draf.

Wanneer hy daardie aand sy vellies by die Agter-Tafelberg-hut ophang, kan hy ’n verdere 22,7 km afmerk.

Pieter draf Sondag deur die Limietberg-natuurreservaat na Du Kloof, waarna ’n stywe klim volg na die Kromrivier-plato en die Limietberg-roete vir sy nagrus in die McBain-gastehuis by Eerste Tol – 30,4 km verder.

Maandag vertrek Pieter vanaf Bainskloof bo-oor Bailey’s Peak (1 445 m bo seespieël) na die Waterval-natuurreservaat buite Tulbagh – ’n 40,2 km-roete.

Dalk is dag vyf die grootste uitdaging, wanneer hy van Tulbagh af deur die Ou Roodezandpas draf na waar die Vier-en-Twintig Riviere ontspring.

Daarna kruis hy die Olifantsrivier-plato na die Groot Winterhoek-bewarea; met ’n slaapkans eers 58 km verder in Beaverlac.

Dag ses sal meer genade betoon wanneer hy deur die Olifantsriviervallei oor plase en grondpaaie Citrusdal toe draf, 40,5 km vanaf Beaverlac.

Die roete op dag sewe vanaf Citrusdal na Kromrivier in die Cederberg-wildernisarea strek oor 32,8 km en sluit die stywe Boskloof-klim in.

Volgens plan voltooi Pieter hierdie reis-met-vellies op Vrydag 15 November deur eers die Gabriëlspas te oorwin, en verby die miniatuurdorpies Langkloof en Eselbank te draf.

Wanneer hy 38,2 km verder sy besonderse wedloop teen homself en teen die natuur afsluit, hoop hy om sy beoogde mikpunt – R50 000 vir die mense van Wuppertal – te kon bereik.

  • Vir meer inligting, of om bydraes te maak vir hierdie inisiatief, onder meer vir die bou van ’n dagsorgfasiliteit vir die dorp se kleuters, loer gerus by www.backabuddy.co.za/run-to-wupperthal.
  • Of kontak Pieter by 084 998 6386, of volg sy agt-dae-avontuur (ondersteun deur Backcountry Cuisine en Outdoor Es-cape op Stellenbosch) op Instagram @runtowupperthal.
Meer oor:  Pieter Holzhausen  |  Wuppertal  |  Vakansie  |  Buite  |  Bewusmaking  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.