Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Yoshi reg vir die wye wêreld
Totsiens, koningin van die Twee Oseane! Yoshi die karetskilpad groet ná 20 jaar haar tuiste by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad. Sy is nou gereed om op haar eie die groot blou dam se water in te vaar. Foto: Jean Tresfon
Yoshi se spesiale huldeblyk wat die Twee Oseane-akwarium se bioloë vir haar gehou het. Foto: NADIA KRIGE

Dié geleentheid het bewonderaars die kans gegee om ordentlik van Yoshi – oftewel die “koningin van die Twee Oseane” – afskeid te neem en ’n paar van die mense wat ’n spesiale rol in haar ontwikkeling gespeel het, te vereer. Hulle is onder andere dr. Pat Garratt, die akwarium se heel eerste kurator, wat ten spyte van karetskilpaaie se slegte reputasie vir die beskadiging van akrielglas wat in groot tenke gebruik word, toegelaat het dat Yoshi jare gelede ’n tuiste in die destydse I&J-roofuitstalling gevind het.

Die besluit om haar vry te laat het nie sommer uit die bloute gekom nie, sê Musson. Dit is noukeurig oorweeg deur die span bioloë wat al so ’n lang pad saam met haar loop, of in die geval, swem.

Nou in haar middel twintigs, is Yoshi geslagsryp en het sy onlangs begin tekens toon dat sy moontlik gereed is vir paar en eiers lê.

Hoewel ’n datum vir die vrylating nog nie vasgestel is nie, meen die akwarium se woordvoerder, Renée Leeuwner, dat dit tussen 27 November en 5 Desember sal gebeur.

“Dit hang maar af van die weersomstandighede,” sê sy.

In my vroeëre gesprek met Spilby, wat ook aan die stuur van die akwarium se seeskilpad-rehabilitasieprojek staan, vra ek of sy veilig sal wees daar buite in die onbekende.

“Kyk, dis eintlik waar sy hoort. Daar’s verskeie studies wat bewys dat karetskilpaaie suksesvol vrygelaat kan word. So, ons glo dis die beste ding wat ons vir haar kan doen,” sê hy en voeg by dat hulle haar bewegings deur middel van ’n satelliet-sender sal dophou.

Info in syfers

’n Kykie na Yoshi se geskiedenis in syfers:

20 jaar gelede: Sy het op 3 Julie 1997 by die Twee Oseane-akwarium aangekom.

24 of 25 jaar: Die akwa­rium skat sy is so oud.

2 kg: Soveel het sy geweeg toe sy by die akwarium aangekom het. Sy is van ’n Japanse visvangtuig verwyder nadat sy in sy nette verstrengel geraak het.

182 kg: Dís die gewig wat sy die afgelope 20 jaar in aanhouding bygekry het.

Seeskilpad-rehabilitasie

Yoshi se vrylating sal darem nie te eensaam wees nie, aangesien sy ’n gevolg van 25 klein karetskilpaaie uit die akwarium se rehabilitasiesentrum vir geselskap sal hê.

Die akwarium se woordvoerder, Renée Leeuwner, en Yoshi. Foto: H. LOCKHART

Hoewel hulle eintlik in die warmer waters van noordelike KwaZulu-Natal aangetref word, is dit nie ongewoon om jong karetskilpaaie gedurende die wintermaande op Wes-Kaapse strande aan te tref nie.

Dit gebeur gewoonlik wanneer storms hulle van koers af waai en hulle al langs die sterk
Agulhas-seestroom na die suide dryf.

Teen die tyd dat hulle by die akwarium aankom, is hulle gewoonlik deur die koue Atlantiese waters verswak, erg ontwater en soms ook beseer.

By hul aankoms by die sentrum word die seeskilpadjies dadelik ondersoek, skoongemaak (van enige alge of swamme) en word hulle geweeg, waarna ’n lang proses van mediese aandag begin. Sodra hul toestand bestendig is, kan hulle op ’n soel somersdag weer vrygelaat word.

“Ons is baie trots daarop dat 80% van ons gerehabiliteerde seeskilpadjies weer hul pad na die wye oseane vind,” sê Musson.

Dit is egter nie ’n goedkoop onderneming nie en die akwa­rium bestee sowat R12 per seeskilpad per dag aan rehabilitasiekoste.

’n Nuwe aannemingsprogram stel die publiek egter in staat om hierdie koste te help dek (en seeskilpadbewaring te ondersteun), deur geldelike verantwoordelikheid vir een of twee skilpaaie te neem.

  • Meer inligting: aqua­rium.co.za

Het jy geweet?
  • Karetskilpaaie is die mees algemene seeskilpadspesie in Suid-Afrika.
  • Hulle word in die broeiseisoen aan die noordelike kuslyn van KwaZulu-Natal aangetref.
  • Wyfies lê tussen 100 en 120 eiers oor ’n tydperk van 15 dae in die somer.
  • Slegs 1 uit 1 000 karetseeskilpadjies bereik volwassenheid.
  • Wyfies het die amper magiese vermoë om na hul moederstrand terug te keer. Wetenskaplikes meen dat hulle gebruik maak van die aarde se geomagnetiese velde om hul pad te vind. Die Twee Oseane-akwariumspan glo dat Yoshi ook só haar pad na haar oorspronklike tuiste sal vind.
  • Hierdie seeskilpaaie kan 80 jaar oud word en kan tot 450 kg weeg.
  • Dié spesie swem tot 38 km per dag.
  • Plastieksakke en -strooitjies wat in die see beland, hou ’n groot bedreiging vir seeskilpaaie in, want hulle kan maklik die vullis vir kos aansien.

Meer oor:  See  |  Twee Oseane  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.