Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Die tyd van vuur en pes

’n Historiese skets van ou Londen vóór die Groot Brand op ’n teëlmuur in een van die moltreinstasies. Foto’s: Sam J. Basch
Dit was hierdie tyd van die jaar in 1666 dat Londen so te sê in puin gelê is deur ’n brand. As jy weet waar om te kyk, kan jy steeds tekens daarvan in dié moderne wêreldstad sien, skryf Sam J. Basch.

September in Engeland is heerlik.

Dis herfs en nog ’n tydjie vóór die winterkoue toeslaan; die somer se ergste hitte is aan’t wyk en selfs die lug is blou.

Maar Londen se inwoners onthou steeds September om ’n ander rede – die Groot Brand van 1666.

Die grootste deel van die stad is binne vyf dae in puin gelê, met selfs die yslike St. Paulus-katedraal wat verwoes is.

In die vroeë oggendure van 2 September het ’n gloeiende kooltjie in die koninklike bakker, Thomas Farriner, se bakhuis in Pudding Lane ontvlam. Die grootste deel van die stad is binne vyf dae in puin gelê, met selfs die yslike St. Paulus-katedraal wat verwoes is.

Hedendaagse toeriste sal skaars hiervan kennis neem, maar die getuienis van dié ramp is steeds daar.

Neem die moltrein na Monument-stasie, digby Pudding Lane. Dis steeds ’n nou stegie soos toentertyd, maar blink kantoorgeboue het sedert die brand 354 jaar gelede hier verrys.

Destyds was Londen se huise houtstrukture waarin ook hoogs vlambare kerswas, lappe en brandhout vir die kombuis onder in die kelders geberg is – die perfekte materiaal om ’n groot brand aan te vuur.

Die uitsig oor Londen vanaf die Monument to the Great Fire of London is asemrowend – letterlik, nadat jy die toring se 311 wenteltrappe tot bo in die Doriese pilaar van 62 m geklim het. Daar word gesê as dit plat lê, sal die monument se goue punt op presies die plek wees waar die bakhuis in Pudding Lane was.

Terloops, “pudding” is die Ou Engelse woord vir die ingewande van slagdiere wat deur die steeg na die Teemsrivier daar naby geneem is – g’n niks te make met nagereg nie!

Die gerestoureerde Staple Inn-geboue gee ’n goeie idee van ou Londen se argitektuur. Hierdie deel van die stad het die Groot Brand vrygespring.
Baantjies vir boeties?

As jy verder deur die stad wandel, kaart in die hand, sien jy oral teen geboue English Heritage se blou borde met die inskrywing: “ . . . destroyed in the Great Fire of 1666” en “rebuilt by Sir Christopher Wren”.

Hy was jonk en boonop ’n goeie akademikus, maar Wren was eintlik ’n amateur-argitek.

Hy het wel goeie kontakte gehad. Hy was op goeie voet met koning Karel (Charles) II en die aartsbiskop van Kantelberg (Canterbury). Meer nog, sy oom was die biskop van Ely naby Cambridge.

So is hy gekontrakteer om die stad te herbou – insluitend St. Paulus (nogal met ’n koepel). Die brand het in ’n ovaalvorm uitgewaaier, van naby die Toring van Londen tot by Fleetstraat en die Strand, noord tot by Smithfield-mark en London Wall. Bykans 90 kerke, duisende eetplekke en kroeë, meer as 13 000 huise en talle imposante gildesale is in die brand vernietig.

Dit het ingesluit die goudsmede se Goldsmiths’ Hall waar silwer- en goue ware se egtheid met ’n stempel gewaarmerk is: vandaar die woord “hallmark”.

’n Goue beeldjie op die plek waar die Groot Brand uitgewoed het.

Kyk na die straatname terwyl jy stap: Fish Street Hill, Paternoster Row, Ald­gate, Cornhill en Gutter Lane. Dis presies dieselfde name as dié van 1666.

Hoewel die koning en Wren ’n nuwe Londen wou bou, het die invloedryke handelaars gepleit dat ekonomiese bedrywighede dadelik weer aan die gang kom.

Dus is Londen se oorspronklike uitleg behou soos vóór die brand. Die strate is wel effe breër gemaak en houtgeboue is verbied.

Die huidige Cheapside was Londen se prominentste straat waarop koninklikes gestap het na Westminster.

Die huidige Cheapside was Londen se prominentste straat waarop koninklikes gestap het na Westminster. Die naam het niks met goedkoop te make nie; dis afgelei van die Angel-Saksiese ceap wat beteken sake doen, om te beding.

Oral was markte soos by Newgate in Shamblesstraat, wat ’n slagmark vir diere was. Hierdie handel sien jy in vele systrate: Bread asook Milk-, Poultry-, Threadneedle-, Wood- en Shoe-laan.

Cannonstraat is ’n vervorming van Candlewick en daar is ook nog Watling – een van die stad se oudste strate, gebou op ’n ou Romeinse pad vanaf die kus by Dover.

Nou is dit eers tyd vir keel natmaak. Probeer Ye Olde Watling, die pub in hierdie straat waar Wren se werkers smiddae gekuier het terwyl hulle die katedraal herbou het.

Waar is die brand geblus? By Cock Lane en Giltspurstraat wat “Pye Corner” genoem is, naby die St. Bartholomew’s-hospitaal. Tot in 1910 was hier ’n pub op die hoek, The Fortune of War, waar grafrowers uitgehang het. Hulle het pasgestorwenes se lyke opgegrawe om aan die hospitale te smous. Die hospitale het dit gebruik vir anatomiestudie, maar die polisie het toegeslaan toe die grafrowers begin het om mense te vermoor om lyke in die hande te kry.

Ye Olde Watling in Watlingstraat, een van Londen se oudste strate, gebou op ’n ou Romeinse pad.
The Anchor, gebou in 1615, is een van die mooiste historiese pubs in Londen se Bank­side aan die suidekant van die Teems.
Fopnuus en builepes

Kyk bo teen die muur by Pye Corner na die goue beeldjie van ’n naakte pokkel-seuntjie met die inskrywing dat die Groot Brand ’n straf vir Londenaars se sonde van oordadigheid was.

Maar dis slegs een storie.

Soos hedendaagse fopnuus, was daar talle samesweringsteorieë: van dat die Katolieke en godsdiensfanatici of die koningshuis self die brand laat stig het, tot vreemdelingehaat teenoor Nederlanders en Franse met wie Engeland in ’n oorlog gewikkel was.

Soos hedendaagse fopnuus, was daar talle samesweringsteorieë: van dat die Katolieke en godsdiensfanatici of die koningshuis self die brand laat stig het, tot vreemdelingehaat teenoor Nederlanders en Franse met wie Engeland in ’n oorlog gewikkel was.

Gelukkig vir ou Farriner wat dalk daardie Saterdagaand té veel bier gedrink en nooit sy oond skoongemaak het nie, neem iemand toe ’n kreupel Fransman kwalik wat “buitendien nie gesond in sy kop is nie”.

Ná ’n kort verhoor is die Fransman in die openbaar gehang.

Die jaar 1666 het gevolg op Londen se eerste ramp: builepes. Soos ’n skrywer die volgende jaar sou skryf: “ . . . the two late dreadful judgements of plague and fire . . .”

Net soos ons tans die verspreiding van die koronavirus probeer keer, is die besmette siekes in 1665 geïsoleer – letterlik in hul huise toegesluit met die vensters toegespyker.

Alle byeenkomste, selfs begrafnisse, is verbied en ’n aandklokreël ingestel. Reisigers is weggewys by verblyfplekke, winkels en kroeë is gesluit, en kos het skaars geword soos handelaars, bakkers en bierbrouers aan die pes gesterf het.

Soos van ouds troon die St. Paulus-katedraal steeds bo die omringende geboue van Londen uit. Die foto is vanaf Bankside geneem.
Bankside – Londen se duskant

Jy kan gaan aansit vir ’n bier en egte Britse vis en skyfies by The Anchor – gebou in 1615 – op die oorkantste oewer van die Teems.

Samuel Pepys het geskryf hoe die vuur op hom “gereën” het in ’n bootjie op die Teems.

Hierdie deel word Bankside genoem en dis waarheen die beroemde joernaalskrywer Samuel Pepys van die Groot Brand gevlug het. Hy het geskryf hoe die vuur op hom “gereën” het in ’n bootjie op die Teems.

“When we could endure no more upon the water, we (went) to a little ale-house on the Bankside,” het hy geskryf.

Jy gaan baie in Bankside te siene kry. Dit het die Groot Brand vrygespring wat aan die noordekant van die rivier gewoed het.

Gaan kyk gerus na Southwark-katedraal waar William Shakespeare skynbaar dienste bygewoon het. Benewens ’n beeldjie van hom in die kerk, is sy broer hier begrawe. ’n Replika van sy Globe-teater hier naby bied heerlike vermaak, soos in Shakespeare se tyd.

Byna weggesteek tussen hoë geboue is die Golden Hind, ’n replika van sir Francis Drake se vlagskip waarmee hy om die wêreld gevaar het.

Hy was ’n vertroueling van koningin Elizabeth en het in 1580 ’n enorme hoeveelheid goud, silwer, juwele en speserye vir haar gebring.

Sy het hom terstond daar op die dek tot ridder geslaan – ’n titel vir ’n seerower!

Drentel deur die Borough-mark wat ná meer as ’n 1 000 jaar steeds eetgoed vir ieder en elk bied.

Dit het deesdae ’n meer kosmopolitiese atmosfeer met Oosterse visgeregte in kerriesous, eksotiese Franse sjokolade, Switserse kaas en Italiaanse ham en brode, benewens natuurlik Engelse varkworsies en spek.

Teen laatmiddag gaan soek jy die ou pub Prospect of Whitby, wat nou reeds 500 jaar bestaan – al sedert Hendrik (Henry) VIII se tyd.

Gerieflik op die rivier, was dit die plek waar smokkelaars in die 17de eeu bymekaar gekom het. Die kroeg het ’n lekker maritieme atmosfeer met ou skeepsmaste as pilare en die toonbank wat op houtvaatjies rus.

Geniet jou bier buite op die stoep met ’n uitsig oor die glastorings van moderne Londen.

* Bykomende bronne: Neil Hanson se The Dreadful Judgement: The True Story of the Great Fire of London uitgegee deur Corgi Books (2012); en Adrian Tinniswood se By Permission of Heaven: The True Story of the Great Fire of London uitgegee deur Pimlico (2004).

Meer oor:  Pes  |  Londen  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.