Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Terug na ’n wêreld voor Covid-19, maar ...

Stuk-stuk keer die mensdom weer terug ná meer as ’n jaar van isolasie, amper soos uit ’n lang winterslaap. Covid-19-enstowwe maak dit veral in die VSA en Europa vir mense moontlik om weer – maskerloos – te lééf. Maar, vra Marguerite van Wyk, is mense sielkundig voorbereid daarop?

Gereed vir partytjie ná die pandemie! ’n Vermaaklikheidskunstenaar, geklee in ’n blomkostuum, wag besoekers van die Zone-nagklub in Kosovo in. Die klub het vandeesweek sy deure (met enkele beperkings) heropen nadat dit vir 16 maande gesluit was. Foto: AP

New York maak reg vir 2021 se somerbesoekers. Die City of New York (@nycgov) twiet trouens: “We’re back, baby! New York is set to FULLY reopen on July 1. You ready?” #SummerOfNYC.”

Suitsupply, ’n mode-handelsmerk vir mans, laat loop met sy nuwe advertensieveldtog met die slagspreuk: “The New Normal is coming’’ . . . en die bob-haarstyl is weer hoogmode.

Wêreldwyd is daar plekke waar die mensdom weer stadig maar seker maskerloos die lewe betree wat ons voor die pandemie geken het. Mense keer terug na ’n soort normaal, ná lang grendeltye wat die pandemie meegebring het.

In Suid-Afrika, waar massas mense nog nie ingeënt is soos elders in die wêreld nie, vergaap ons onsself byvoorbeeld aan skares by oorsese sportbyeenkomste.

Dink aan die duisende toeskouers wat pas die Serwiër Novak Djokovic by Wimbledon toegejuig het toe hy Matteo Berrettini in die eindstryd verslaan het.

’n Nuwe uitbundigheid heers. Mense is hoopvol, danksy suksesvolle inentingsprogramme in Europa en Amerika. Vir die eerste keer sedert die virus in Desember 2019 in Wuhan, China, uitgebreek het, maak mense weer hul bollas los.

Maar daar is ook vrae oor dié nuwe ontwaking. Herinner dit nie aan die “Roaring Twenties’’, wat destyds gevolg het in reaksie op die Spaanse Griep van 1918 nie? Daardie uitspattige, sorgelose lewensblydskap wat F. Scott Fitzgerald vasgevang het in The Great Gatsby kom by ’n mens op. En die gelyknamige fliek met Baz Luhrmann as regisseur en Leonardo DiCaprio in die rol van die flambojante Jay Gatsby.

Dit gee ’n uitstekende blik op die wilde 1920’s, ’n tydperk waar hedonisme – alles van losse sedes tot drankmisbruik en opportunisme – hoogty gevier het.

’n Meedoënlose gefuif

Daar is moontlik ’n paar parallelle tussen die 1920’s en nou, meen prof. Nicholas Christakis, ’n sosioloog van Yale. Hy is die skrywer van Apollo’s Arrow: The Profound and Enduring Impact of Coronavirus on the Way We Live.

Hy reken dié somer (in die Noordelike Halfrond) se partytjie-atmosfeer gaan waarskynlik nog tot 2023 duur omdat mense verlig is nadat hulle so lank die sielkundige, fisieke en ekonomiese uitdagings van die virus probeer hanteer het.

Waarskynlik, glo hy, gaan baie nou meedoënloos allerlei geleenthede ondersoek in nagklubs, restaurante, kroeë, by sportbyeenkomste, musiekkonserte en politieke optogte. En ’n mens sou losser seksuele sedes kon verwag, glo hy.

Maar is die mensdom sielkundige gereed hiervoor? Met meer as vier miljoen mense wat wêreldwyd weens die virussiekte gesterf het, is daar ook die kwessie van kollektiewe rou wat soos ’n donker wolk oor mense hang.

Hoe kan ’n mens teen dié agtergrond soomloos beweeg van verlies na vreugde?

Dr. Rosa Bredekamp, ’n sielkundige van Durbanville, waarsku dat dit dalk nog te vroeg is om aan ’n post-Covid-19-samelewing te dink. “Volgens medici gaan die virus nog vir ’n onbepaalde tyd met ons wees. Ons sal dus ’n geleidelike proses van normalisering moet volg.’’

Die pandemie het só wyd uitgekring, verduidelik sy, dat omtrent niemand onaangeraak is nie. Van mediese personeel wat fisieke en emosionele uitbranding ondergaan het, tydelike hospitale wat opgerig moes word, begrafnisondernemers wat mense moes bystaan om finaal afskeid te neem van geliefdes sonder die fisieke nabyheid waaraan ons gewoond was . . .

Die sterwendes kon nie deur geliefdes in hospitale besoek word nie en dikwels is troosdienste virtueel aangebied.

“Families en vriende kon mekaar dikwels nie eens, soos wat gewoonlik die geval is, fisiek en persoonlik bystaan nie.’’

Maar, sê Bredekamp, hoe ’n samelewing herstel, word bepaal deur sy veerkragtigheid en mense se ondersteuningsnetwerke.

Ná enige internasionale ramp (dink aan 9/11 en die tsoenami van 2005), waar die mensdom kollektief ly, is dit belangrik om posttraumatiese hanteringsvaardighede te ontwikkel, reken Bredekamp. Berading is noodsaaklik vir emosioneel kwesbares. Aanlyn berading werk ook uitstekend, maar nie almal het toegang tot die soort geriewe nie.

’n Ander wêreld . . . Terwyl die kuns- en vermaaklikheidswêreld in Suid-Afrika omtrent tot stilstand gekom het weens die Covid-19-pandemie, was die Royal Albert Hall in Londen Maandagaand van hoek tot kant vol vir die 150ste Royal Albert-gedenkkonsert. Foto: GETTY IMAGES

Jou eie poel trane

“Mense moet geleer word om te probeer sin maak uit die ervaring. Wanneer jy ’n mate van vrede daaroor bereik – en dit behels baie kognitiewe werk – kan jy weer aangaan met jou lewe,” sê Bredekamp.

“As jy nié die nodige raad kry om dit te doen nie, kan die posttraumatiese stres manifesteer in slaapversteurings, vergeetagtigheid, en herhalende negatiewe gedagtes wat jou teister en angs,” sê sy.

Hoe meer ingrypend die ramp, hoe moeiliker is dit om te verwerk. Die beste manier om dit te hanteer is om daaroor te praat.

Bredekamp raai mense ook aan om by ondersteuningsgroepe aan te sluit. Maar sy maan as té veel mense oor dieselfde ramp gesels, sommige ’n versadigingspunt bereik. “Wanneer jy later nie meer krag het om na ander se emosionele stres te luister nie, kan dit tot (emosionele) ontploffings lei.”

En hoewel rou ’n persoonlike ervaring is, het baie mense veral tydens die pandemie gevind dit het hulle gehelp om gewaarwordings en emosies op sosiale media te deel om die kollektiewe gevoelens van rou te hanteer, vertel Bredekamp.

Gee ’n mens nié aandag aan jou geestesgesondheid nie en probeer om te vinnig terug te keer tot ’n meer normale samelewing sonder om die Covid-19-trauma te verwerk, kan dit jou werk- en verhoudingslewe negatief beïnvloed, waarsku Bredekamp.

Maar sal ons ooit weer emosioneel ten volle kan herstel van die sielkundige uitwerking van Covid-19?

Dis ’n ope vraag, maar Bredekamp meen ons kan as individue en groepe besin oor die gehalte van ons bestaan, totdat dinge gladder verloop in Suid-Afrika waar die inentingsprogram nog nie so omvangryk soos in Amerika en Europa is nie.

“Ons kan dink hoe ons verandering in ons lewe kan inbring om die kollektiewe sielkundige welsyn in die land te bevorder. Die trauma van Covid-19 kan omskep word tot ’n positiewer benadering tot geestesgesondheid. Dit sal tot voordeel strek van die hele bevolking.’’

Maar dis dalk makliker gesê as gedaan.

Een manier om hierna te kyk, vertel Hannelore Olivier, ’n spirituele berader van Kaapstad, is om juis kollektiewe verlies soos dié te bejeën soos een van haar mentors, die pastorale terapeut Trevor Hudson, dit doen. “Hy reken elke mens sit voor sy eie poel trane. En dít laat my altyd besef, ongeag hoe iemand op iets reageer, wees net sorgsaam,’’ verduidelik Olivier.

Sou daar dus in teenreaksie op die inperkings en beperkings van die pandemie ’n feestelike gefuif onder mense losbreek, moet ’n mens nie oordeel nie, meen Olivier.

“Elke ou hanteer dit anders. As iemand dit dus hanteer deur losse sedes, oormatige drankgebruik of opportunisme, beteken dit sy hartseer sit nog baie vlak . . . elke mens sit voor sy eie poel trane.’’

Werk sag met mekaar

“In my reis in kontemplatiewe spiritualiteit, of ander praktyke wat ek volg om meer bewustelik deur die lewe te reis, het ek geleer geen reël of tydvoorskrif of resep geld vir ’n individu wat werk met verlies of rou nie.

“Elke ou se poel trane is uniek. Net jý sal weet hoe jy dit kan hanteer. Maar ons moet wel leer hoe om saggies met mekaar se verlies om te gaan,” sê Olivier.

Party mense wil ontsnap uit die pyn en dit “vervang’’ met uitbundigheid. Olivier meen sy ervaar meer diepte en wysheid as sy “teenwoordig’’ in pyn bly en dit nie vervlak (of ontken) nie. Vir haar lê die ankers in dié tye in stilte.

Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp, meen naas kollektiewe skuld, vier emosionele uitbranding en angs hoogty – by sowel gesondheidswerkers as gewone mense wat na ouers en ander omsien wat verswak is en in ’n hoërisikogroep is om siek te word of te sterf.

“Voeg hierby die gepaardgaande oorlewingskuld, grootskaalse werk- en finansiële uitdagings en ’n mens begin beter verstaan hoekom mense so sukkel met geestesgesondheid.’’

Heppel meen internasionaal, maar veral in Suid-Afrika met sy uitdagende politieke situasie, is ons samelewing nog nie in staat om die eise van ’n meer normale samelewing, post-Covid-19, te hanteer nie.

“Ons kan dit nog nie medies óf sielkundig hanteer nie . . . want ons sal nog geruime tyd versigtig moet wees omdat ons die virus moontlik kán opdoen. Én die kollektiewe trauma luier . . .

  • Van Wyk is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad.

‘Hoekom het ék dan oorleef?’

Verskillende mense reageer verskillend op die virussiekte. Daar is berigte van mense wat topfiks is wat sterf, terwyl ander met onderliggende siektetoestande dit oorleef. Dit is nie ongewoon dat mense wat die siekte oorleef agterna daaroor wonder of selfs ’n bietjie skuldig voel nie.

Navorsing wys dat oorlewingskuld by tot 90% van oorlewendes voorkom ná traumatiese gebeure, vertel Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp.

Mense wat Covid-19 oorleef het en diegene wat dit nie opgedoen het nie, kan dieselfde ervaar. Selfs dié wat betyds ingeënt kon word kan wonder hoekom húlle so gelukkig is, terwyl ander moes sterf. Simptome van oorlewingskuld sluit enigiets in van angs, depressie, hoofpyn, naarheid en slaapversteurings.

“Wanneer dit oorgaan na die ernstige posttraumatiese stresversteuring (PTSV), en mense skielik nagmerries of selfs terugflitse kry van die trauma waaraan hulle blootgestel is, (byvoorbeeld van ’n pa wat kort voor sy dood nie kan asem kry nie) moet ’n sielkundige of mediese dokter geraadpleeg word as dié simptome langer as ’n maand duur,’’ meen Heppell.

Baie mense wat familielede of vriende weens die virus verloor het, word geteister deur die gedagte dat hulle onwetend ’n draer van die virus was en geliefdes geïnfekteer het.

Heppell sê mense moet in gedagte hou dat besonderhede oor die virus steeds in groot onsekerheid gehul is.

“Mense moes soveel aanpassings in hul leefwyse maak weens Covid-19. Ná die eerste vlaag het hulle gehoop dinge gaan verbeter en het effens teruggekeer tot normaliteit. Toe die tweede vlaag kom, het hulle besef hulle gaan nóg meer aanpassings moet maak, maar leefstylaanpassings het vlotter begin gaan.

“Nou besef ons daar wink dalk ’n vyfde vlaag. Ons is meer voorbereid op hoe ons nou moet leef, maar mens kan nooit presies weet of jy al die voorsorgmaatreëls tref nie. Dit bly maar altyd met jou gevoelens smokkel.’’


    Meer oor:  Mensdom  |  Isolasie  |  Covid-19
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.