Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
ADHD ‘herbedraad’: Brein leer sélf verander
Deur die brein as’t ware te herbedraad, kan terapeute kinders én volwassenes met ADHD se lewe ingrypend help verander. Riëtte Grobler het met die neuroterapeut Helena Bester oor haar nuwe boek oor dié onderwerp gesels.
Grafika: iSTOCK

Nie almal met ADHD (aandagafleibaarheid-hiperaktwiteitsindroom) is dieselfde nie.

Daarom is daar nie net een vorm van terapie, of kombinasie van terapieë, wat vir almal sal werk nie. Vir terapeute soos Helena Bester, ’n remediërende konsultant en neuroterapeut met ’n private praktyk, het ontwikkelings in die neurowetenskap die afgelope paar jaar opwindende deure vir die behandeling van mense met ADHD oopgemaak. Neuroterugvoerterapie is een daarvan.

In haar nuutste boek, Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes, skryf Bester neuroterugvoer is ’n relatief nuwe behandeling in Suid-Afrika, hoewel dit toenemend algemeen gebruik word.

Sy het ook drie ander toonaangewende boeke oor leerprobleme en aandagafleibaarheid geskryf : Help, my kind makeer iets (1996), H elp, my kind veroorsaak chaos (2000) en Beheer aandagafleibaarheid (2006).

Bester was eers ’n onderwyser en het besef aandagtekortsindroom is vir baie leerlinge in hoofstroomskole ’n reuse-probleem.

“Dit het vir my duidelik geword dat daar baie intelligente kinders was wie se prestasie nie ’n weerspieëling van hul ver­moëns was nie,” sê sy.

Diepte-navorsing het haar ’n leergereedheidsprogram vir voorskoolse kinders op die been laat bring, en haar eie kliniek het later gevolg.

In haar private praktyk het sy baie werk met groepe kinders, meditasie en fokusoefeninge gedoen.

Nadat sy ’n neuroterugvoerterapie-kongres bygewoon het, het sy besef die aanslag wat sy in haar praktyk gevolg het, word deur ’n formele tipe terapie aangepak.

“Vir die eerste keer in al die jare wat ek met ADHD gewerk het, het ek gehoor die wekvlak van die brein kan beheer word – en deur dit te doen, kan ons aandag beheer.”

Sy het opleiding in elektro-enkefalogram-bioterugvoer (EEG Biofeedback) ontvang en sowat nege jaar gelede neuroterapie by haar praktyk ingefaseer. Omdat die resultate daarvan so goed was, is dit tans die hoofterapie in haar praktyk.

“Dit werk fantasties en word nie net vir ADHD gebruik nie, maar vir ’n reeks versteurings en sindrome, waaronder angsversteurings, depressie en slapeloosheid,” sê Bester.

Sowat 50% van haar pasiënte is kinders en 50% is volwassenes, onder wie sowat 70% ADHD het.

Wat is neuroterapie?

Bester verduidelik neuroterapie is ’n nie-indringende vorm van behandeling wat die brein leer om homself reg te stel, sonder enige insette van buite.

“Ons sit dus nie enigiets in die brein nie X  daar is geen chemiese bestanddeel betrokke nie. Dit is asof ’n mens vir die brein ’n spieël wys en vir hom terugvoer gee oor sy eie werking.”

Dié terugvoer vind plaas deur middel van rekenaars en elektrodes wat aan ’n pasiënt se kopvel gekoppel is.

“Die pasiënt sit voor of langs my en kyk op ’n monitor. Ek neem lesings van die breingolfaktiwiteit en sien dit op ’n ander skerm. Die pasiënt sien ’n speletjie of prentjie. Dit wat in die speletjie gebeur, hou direk met sy breingolfaktiwiteit verband.”

Gerekenariseerde terugvoer leer die brein om breingolwe met sekere frekwensies wat gunstig is vir bepaalde aktwiteite te vermeerder, en ook om breingolwe met funksies wat ongunstig is, te verminder.

“Aan my kant dui ek aan wat die optimale grense vir breingolffunksionering is. Daardie grense is gegrond op die grootste databasis van breinfunksionering wat bestaan. Daarvolgens weet ons hoe ’n vierjarige seuntjie of 40-jarige man se breinaktiwiteit behoort te lyk. As dit nie so is nie, stel ons grense wat ideaal is.”

Sy verduidelik dat wanneer die brein binne daardie grense funksioneer, dit positiewe terugvoerseine kry en gevolglik na daardie grense begin terugkeer.

“Gunstige breingolfpatrone in die betrokke area of areas van die brein word so versterk.”

Hoe werk dit?

Die menslike brein het ongeveer 100 miljard breinselle of neurone, wat elk tussen 100 en 10 000 sinapse of verbindings met ander neurone het, sê Bester.

“Daar bestaan mikroskopies klein gapings tussen die verbindings en die neurone. Breingolwe word met die elektriese aktivering en deaktivering van die neurone geassosieer. Die aktivering van die neurone veroorsaak ’n elektriese stroom wat met behulp van gesofistikeerde tegnologie in meetbare breingolwe omgeskakel kan word.”

Ontwikkelings in die neurowetenskap die afgelope paar jaar dui op die neuroplastisiteit van neurone. Dit beteken nuwe verbindings kan in neurone groei, en juis dít het tot die sukses van die behandeling gelei.

Die gevolge van neuroterapie is mettertyd permanent wanneer die brein geleer het om op nuwe maniere te funksioneer.

Die behandeling is boonop gemik op die persoonlike profiel van elke pasiënt.

“In die hoofstroombenadering kry almal met ADHD, of hulle nou dromerig, hiperaktief of ’n kombinasie van die twee is, dieselfde kombinasie-terapie. In neuroterugvoerterapie gee ons egter ’n spesifieke behandeling vir elke soort ADHD.”

Dit duur volgens Bester gemiddeld twee jaar voordat nuwe neuron-verbindings gevestig is en om wanfunksionele patrone te herstel. Gemiddeld sowat 40 neuroterapiesessies word aanbeveel, met opvolgsessies daarna.

Wat van medikasie?

Op die vraag oor hoe sy voel oor die gebruik van medikasie soos Ritalin in die behandeling van ADHD antwoord Bester: “Toe ek jonk en dapper was het ek altyd praatjies begin deur te sê Ritalin is goed X vir onderwysers. Ek het baie teenkanting hieroor gekry, veral van neuroloë en pediaters.”

Hoewel sy steeds nie van die beginsel van langtermynmedikasie vir kinders hou nie, het ervaring haar effens van oortuiging laat verander.

Vandag glo sy daar is ’n plek vir medikasie as die situasie dit noodsaak.

“Dit is ’n realiteit in ons land dat net ’n klein persentasie mense toegang het tot duurder, meer gesofistikeerde terapieë. Dit is dus nie ’n praktiese oplossing nie.”

Wanneer spesialisspanne besoek aan skole aflê, medikasie deur ’n pediater voorgeskryf word en die gebruik daarvan deur die skool gemonitor word, kan iets soos Ritalin ’n groot verskil in kinders se lewens maak.

“In daardie gevalle is dit goed en nodig.”

In ander gevalle meen sy daar is nie genoeg ingryping of bestuur om gedragsverandering by ’n kind teweeg te bring nie.

“Dan kry die kind die heeltyd net negatiewe terugvoer. As jy dan ’n pilletjie gee en die terugvoer is beter, die kind presteer beter en almal baklei nie die hele tyd met hom nie, dink ek ook medikasie is sinvol.”

Bester maan ouers om ’n kundige se diagnose te kry voordat ’n kind sonder meer op medikasie geplaas word.

“Ouers het ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak hulle hoor nie sommer by juffrou ‘hoor hier, jou kind het ADHD en het Ritalin van die huisdokter nodig nie’.”

Waar kry jy ondersteuning?

​Bester sê ondersteuning is baie belangrik vir mense met ADHD, asook diegene wat na hulle omsien.

Twee organisasie waar ’n mens kan aanklop om hulp, is The ADD Lab in Johannesburg (​addlab.co.za) en die
Suid-Afrikaanse ADHD-ondersteuningsgroep (ADHASA) (​adhasa.co.za).

Wat is ADHD?

“ADHD kan as ’n neurochemiese wanbalans in sekere dele van die brein gedefinieer word,” skryf Helena Bester in Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes.

Sy sê die Engelse afkorting ‘ADHD’ vir “attention deficit hyperactivity disorder” is so algemeen bekend dat dit ook in Afrikaans deur professionele en gewone mense gebruik word. Dit staan in Afrikaans as aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom bekend.

Die 18 simptome waarvolgens ADHD gediagnoseer word, is subjektiewe eerder as objektiewe maatstawwe. Om die regte diagnose te maak, is dit belangrik dat ’n kenner alle faktore in ag neem wat ’n pasiënt beïnvloed.

“Ouers moet dus die terapeut en skool se perspektief kry, terwyl daar by volwassenes ook na hul werk gekyk moet word,” sê Bester.

“Die huidige konteks waarin iemand homself bevind, moet ook in ag geneem word.

“As jy uit drie hoeke na die simptome kyk, is die kans beter dat die diagnose akkuraat sal wees.

“Ouderdom en ontwikkelingsvlak moet ook in ag geneem word en jy moet vasstel of die simptome die persoon se lewe benadeel.”

Wen!

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes word uitgegee deur Tafelberg.

Twee Leefstyl-lesers kan elk ’n kopie van die boek wen.

Stuur ’n e-pos met die woorde “ADHD-kompetisie” in die onderwerpveld aan ​leefstyl@beeld.com.

Skryf in een paragraaf waarom jy die boek wil hê.

Jou inskrywing moet ons teen Donderdag om 10:00 bereik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.