Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dok verloor 70 kg: Skryf boek toe mense wou weet hoe kry hy dit reg
Dr. Adriaan Liebenberg, ’n neurochirurg, weet hoe dit voel om gewalg te wees deur die persoon wat in die aantrekhokkie se spieël na jou terugkyk. Rochélle Human het by hom gehoor hoe hy 70 kg verloor het.
Liebenberg, nadat hy 70 kg verloor het met ’n dieet wat hy self ontwikkel het. Foto: Estie Thirion
Liebenberg het by 161 kg gedraai voor hy die dieet wat hy self ontwikkel het, aangepak het.
Die breinchirurg se dieet word deur Penguin Books uitgegee.

 Hy ken die trauma van oorgewig wees. Daarom het dr. Adriaan Liebenberg – ’n neurochirurg van Kaapstad – Die breinchirurg se dieet vir ander vet mense geskryf.

Ses jaar gelede het hy ’n manier gevind om gewig te verloor sonder om ’n kitsdieet te volg en sonder om homself die kos waarvan hy hou, te ontsê.

Hy was 39 jaar oud toe hy sy dieet begin het. Dit het hom twee jaar geneem om 70 kg af te skud.

Mense het hom byna nie herken nie. Hulle wou weet wat hy gedoen het en of hulle dit ook sal kan doen.

Hy het verplig gevoel om sy “geheim” met mense te deel.


Ongesonde kinderjare

As kind het Liebenberg met sport aktief gebly, maar tuis het hy ongesonde kos geëet.

“Ek dink ’n mens se ouers probeer liefde wys deur dit waarmee hulle grootgemaak is.”

As jong man het hy begin gewig optel en het hy uiteindelik by 161 kg gedraai.

“Ek was rêrig baie vet,” sê hy. “Dit het my huwelik in daardie stadium baie skade berokken, asook my persoonlike en werkverhoudings.

“Ek het lang ure gewerk en my tussendeur aan kos vergryp.

“Ek sou 12 uur lank niks eet nie en dan twee hamburgers, ’n hele bord tjips, ’n Bar-One en drie bottels Coke drink.

“Dan dink ek ek is oukei, maar ek besef nie ek het pas 20 000 kilojoules ingeneem nie.”

Hy het gedink as hy R50 miljoen wen, sou hy dit ruil vir ’n mooi lyf. Hy was glad nie selfversekerd nie en was kwaad vir homself.

“Dit was eintlik ’n baie slegte tyd,” sê hy. “Jy gaan staan in Edgars se aantrekkamer en jy kan nie eens die klere aankry nie en daar is ses vet mense wat uit verskillende hoeke vir jou terugkyk.”

Sy hartspier was verdik. Sy seun was ook oorgewig en sy dogter was goed op pad daarheen.

“Hulle het gedoen wat Pappa gedoen het.”

Hy het ’n punt bereik waar hy besef het hy het geen selfbeheersing nie.

Hy het eers ’n dieetkundige gaan sien wat vir hom ’n eetplan uitgewerk het, maar hy kon dit nie volhou nie.

“Dit was nie kos waarvan ek hou nie. Dit was nie goed wat ek kon voorberei nie.

“Dit was net heeltemal onmoontlik om te doen.”

Hy begin toe self wetenskap­like artikels oor dieet, oefening en gewigverlies lees.

“As jy vir ’n oorgewig mens sê van nou af eet jy hoenderborsies in water gekook en geposjeerde broccoli, en elke oggend 05:00 moet jy gaan draf – selfs dié wat desperaat is, kan dit net vir ’n paar weke volhou.”

Met sy kennis van die brein se werking en navorsing oor hormone wat eetlus beheer, het hy ’n volhoubare manier ontwikkel om gewig te verloor sonder om homself te verhonger.

“Ek het dit so rustig begin doen, van ’n kant af. Ek het myself niks ontsê nie. Ek het net geleer hoe om slimmer te eet en baie matige oefening te doen.”

Stadig maar seker het hy gewig verloor.

Mettertyd is hy terug kardioloog toe: Sy hartspier was normaal en dit was nie meer nodig vir hom om bloeddrukpille te neem nie.


Elke dag se energiebanksaldo

Die kernbeginsel van Die breinchirurg se dieet is volgens Liebenberg nie juis baanbrekerswerk nie: ’n Mens moet minder eet en meer oefen.

“Die fisiologiese basis van ’n liggaam is baie eenvoudig: As jy vir hom minder energie gee as wat hy nodig het, krimp hy; as jy vir hom meer energie gee, groei hy.”

Sy metode sluit wel ’n paar berekeninge in.

Wenke vir . . .

Mense wat oefening verpes:

“As ek sjokolade eet, wil ek dit vir die volgende drie dae hê, want my liggaam is verslaaf daaraan. So, met tyd, as jy leer om gesonder goed te eet, gaan die kosdrange gelukkig weg.” 

Diegene wat dié dieet volg, moet daagliks hul energiebanksaldo – die verskil tussen die energie, gemeet in kilojoules, wat jy inneem teenoor dit wat jou liggaam met daaglikse aktiwiteite en oefening verbrand – neerskryf en bereken.

Liebenberg glo nie dit is te veel gevra nie.

“Jy moet daardie dissipline hê om jou dieet te beheer. As jy kyk na mense soos professionele atlete of modelle – hulle doen dit outomaties, sonder om te tel, want hulle het dit deur die jare aangeleer.”

Die meeste van die mense wat die dieet volg, skryf hul daaglikse energiebanksaldo vir die eerste ses tot nege maande neer, tot hulle dit verstaan.

“Dan hou hulle op neerskryf, want dan raak dit ’n leefstyl.

“Die mense leer deur kilojoules neer te skryf watter kosse veilig en goed is.”

’n Ander belangrike ding moet ook gebeur: ’n Mens moet vir ander vertel jy gaan die ­dieet aanpak.


Groter selfvertroue

Gewigverlies en die dryfveer om gewig te verloor gaan vir die meeste mense oor seks, meen hy.

“Hoe ons voel ons lyk vir die teenoorgestelde geslag, bepaal vir ’n groot deel van ons lewe hoeveel selfvertroue ’n mens het en jou interaksie met ander mense.

“Vandat ek ’n lyf het waarop ek trots is, het my lewens­gehalte en my lewensbenadering dramaties verander. Ek het nou selfvertroue oor omtrent alles.”

Hawermout: wonderkos

Aanvanklik was dit vir Liebenberg moeilik om ’n komplekse koolhidraat te vind wat maklik en vinnig is om te berei en hom lank sal versadig hou.

Toe “ontdek” hy hawer.

Kitshawermout kan vinnig berei en tussen afsprake geëet word.

Met die skryf van die boek was hy verbaas om oor hawer se verskeie gesondheidsvoordele op te lees.

“Dit is eintlik ’n wonderkos,” sê hy.

Hawermout bedwing slegte cholesterol en is al gekoppel aan ’n 7%-vermindering in die LDL-cholesterolvlak.

Die vesel in hawermout laat ’n mens versadig voel en voorkom só dat jy later in die dag meer eet. Dit verlig ook hardlywigheid en help met bloedsuikerbeheer.

Liebenberg glo ’n mens se eetgewoontes moet volhoubaar wees. Daarom gebruik hy meestal kitshawermout eerder as onverwerkte hawer, wat die gesondste vorm is.

 Bykomende bron: WebMD

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.