Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Natuurlik beeldskoon
’n Mooi vel kan teen ’n winskoop uit jou eie kombuis kom, skryf Chanté Daries.
Klapperolie-bevogtiger Foto’s: Christina Sukop
Heuning-gesigwasseep vir die behandeling van aknee.

’n Mooi voorkoms kom meestal teen ’n prys – gewoonlik teen honderde rande vir ’n paar druppels room, seep of serum in skoonheidshuise se duursame verpakking.

Maar ’n mooi vel hoef jou nie ’n arm en ’n been te kos nie, het Christina ­Sukop van Port St. Johns met ’n bietjie navorsing op die internet uitgevind.

Christina ken die kruis van ’n probleemvel, maar ’n jaar gelede het sy besluit sy wil nie meer duur chemiese produkte op haar vel gebruik nie.

“Toe ek begin ondersoek instel na die chemiese bestanddele wat in gewilde velsorgprodukte gebruik word, het ek gevind van die bestanddele is sleg vir jou vel en boonop onnodig,” vertel sy.

Daarom het sy begin soek na natuurlike alternatiewe en afgekom op ’n rits resepte vir velsorgprodukte wat jy sommer self in jou kombuis kan maak.

Sy het dit probeer, hier en daar haar eie alternatiewe ontwikkel en in die loop van ’n paar maande gevind haar vel hou van hoe sy hom behandel. Op haar blog, Natural Nerd (naturalnerd.co.za), deel sy verskeie natuurlike velsorgresepte.

Die natuur se wonderkuur

Volgens Sukop is veral laventelolie, teeboomolie, onverwerkte heuning en suurlemoensap baie goed vir ’n mens se vel.

Laventel werk vir alle velsoorte, ook vir ’n sensitiewe vel. Dit is ook antibakteries, dit reguleer die afskeiding van sebum, wat ’n veluitslag veroorsaak, en dit verminder inflammasie en die tekens van letsels.

Suurlemoen help om die voorkoms van letsels te versag en is ook ’n ligte afskilferaar.

Heuning is anti-inflammatories, anti-bakteries, strelend, verminder littekens en bevogtig die vel.

Teeboomolie is anti-bakteries en reguleer die afskeiding van sebum.

Klapperolie-bevogtiger

(Maak 125 ml)

Jy benodig:

½ koppie organiese klapperolie

1 teelepel vitamien E-olie

10 druppels laventelolie

5 tot 7 druppels teeboomolie (opsioneel, voeg by vir die behandeling en voorkoming van aknee)

Só maak ’n mens

Meng alles behoorlik. Sit dit in ’n mooi houertjie.

Heuning-gesigwasseep vir akneebehandeling

(Maak 250 ml)

Jy benodig:

300 g rou, onbehandelde heuning

5 eetlepels vars suurlemoensap

1 teelepel vitamien E-olie

5 druppels teeboomolie

5 druppels laventelolie

2 druppels kaneelolie of 1 teelepel fyn kaneel

Só maak ’n mens

Meng alles saam en sit dit in ’n mooi houertjie.

 Besoek ook naturalnerd.co.za.

Gebruik die seep só

  Gebruik die akneeseep net een keer per week, want die kaneel kan jou vel irriteer. As jy dit daagliks wil gebruik, berei die seep sonder die kaneel voor en voeg ’n druppel kaneelolie of ’n knippie kaneelpoeier een maal per week op jou hand by voordat jy jou gesig was.

  Moenie jou oë hiermee was of grimering daarmee verwyder nie. Die kaneel kan brand as dit in jou oë kom.

  Die seep sal in lae skei as dit lank staan. Skud goed voordat jy dit aanwend.

  Laat die seep minstens twee minute lank op jou gesig voordat jy dit afwas. Jy kan dit tot ’n uur lank los – veral met kaneel by – as ’n gesigmasker.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.