Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Net een drankie kan fetus se brein beskadig
’n Diagnose van aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit is in sommige kringe baie meer aanvaarbaar as FAS.

“Jy hoef nie ’n alkoholis te wees om ’n kind met fetale alkoholsindroom te hê nie. Een, twee of drie drankies kan jou kind affekteer.”

So sê Leana Olivier, uitvoerende hoof van die stigting vir alkoholverwante navorsing (SAN), ’n nieregeringsorganisasie.

Suid-Afrika het een van die hoogste voorkomssyfers van fetale alkoholsindroom (FAS) ter wêreld.

Die SAN se jongste navorsing het ’n 6%-voorkomssyfer in die woongebiede Galeshewe en Roodepan in Kimberley gevind.

“Dit beteken 6% van die kinders daar het breinskade as gevolg van alkoholgebruik.”

Die departement van gesondheid raam die nasionale voorkomssyfer van FAS is ook 6%.

In dele van Galeshewe was die voorkomssyfer so hoog soos 11%. “Daar is areas in die Wes-Kaap waar die voorkomssyfer 20% is.”

Die tweede hoogste voorkomssyfer ter wêreld is in Amerika: 1% tot 3%.

Navorsing in 2002 in Gauteng het ’n voorkomssyfer van 2,7% gevind.

“Dit is ’n gebrek aan kennis,” sê Olivier. “Vroue sê altyd vir jou: ‘As ek maar net geweet het ek was swanger.’ ”

FAS is die ergste vorm van fetale alkoholspektrumafwyking (Fasa). Laasgenoemde beskryf enige moontlike geboorteafwyking te wyte aan voorgeboortelike blootstelling aan alkohol.

Alkohol kan enige orgaan van die ontwikkelende fetus aantas. Die brein is egter die sensitiefste orgaan en word daarom meestal beskadig.

Waar die alkohol slegs breinskade veroorsaak het, kan dit moeilik wees om te diagnoseer en is intensiewe sielkundige toetse nodig.

“Hierdie kinders word dikwels in die skool as ‘stout’ of ‘lui’ afgemaak, want al hierdie kinders is hiperaktief en aandagafleibaar.”

Die aard van die breinskade hang af van wanneer die ma in die swangerskap alkohol gebruik het en in watter fase van ontwikkeling die fetus se brein was.

“Vandat die ma swanger raak en tot en met die kind se geboorte word die brein aangetas (as sy alkohol gebruik).”

Olivier waarsku boodskappe in die media en van sommige dokters kan soms misleidend wees.

Sy sê geen alkohol mag tydens swangerskap gebruik word nie.

Alkohol bereik die ongebore baba binne 20 minute nadat jy dit gedrink het deur jou bloedstroom, sê sy.

“Daardie ongebore babatjie se lewer is totaal onderontwikkel en onbevoegd om die alkohol te metaboliseer.

“Dis hoekom die kinders so beskadig word.”

FAS kom in alle sosio-ekonomiese en bevolkingsgroepe voor en is veral ondergediagnoseer in die wit bevolking, sê sy.

“ ’n Derde van die wit bevolking gebruik private gesondheidsdienste en jy vind selde dat ’n pediater FAS by ’n kind diag­noseer.

“ ’n Diagnose van aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit is in sommige kringe baie meer aanvaarbaar as FAS.

“Enige vrou van vrugbare ouderdom wat seksueel aktief is, wat alkohol gebruik en nie op ’n gesinsbeplanningmetode is nie, loop die risiko om ’n kind met FAS te kry.”

 Vir meer inligting, kontak die SAN by ​info@farrsa.org.za, bel 021 686 2646 of besoek www.farrsa.org.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.