Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gesondheid!
Sit is die nuwe rook (blog)
'n Tuisgemaakte trapmeul-werkstasie. Foto: Wikipedia

Sit is die nuwe rook; dis die nuwe kanker.

Dié stelling het dr. Hooman Zahedi, ’n chiropraktisyn van Australië, oornag beroemd gemaak. In sy boek Straight Forward: why forward posture affects your health and how to fix it sê hy ’n langdurige gesittery belemmer sowel die interne organe as ruggraatgesondheid.

Hy verduidelik hoe ’n mens se lyf  homself nie kan korrigeer as ’n mens sit nie, omdat ons geen spiere agter ons ruggraat het nie. Jy kantel vorentoe en dit veroorsaak dat al die organe voor in jou liggaam saamgedruk word. Dit raak vertering, bloeddruk en asemhaling. Hy sê jy kan dit ervaar as sooibrand of irritasie in die ingewande, omdat daar dan nie genoeg spasie vir organe is nie.

Volgens 'n onderhoud in die ​Los Angeles Times​ met Dr. James Levine, die ontwerper van die trapmeul-lessenaar, is sit op die lang termyn gevaarliker as rook, dit word geassosieer met 'n hoër kans tot depressie en meer mense  sterf daaraan as aan vigs-verwante komplikasies. 

Ons sit onsself dood.

Dit beïnvloed verál die rug.

En ons sit van kleintyd af. Vanaf die skoolbanke tot die kantoor, dekades in en uit. Vandag sit die kinders van kleintyd af voor hul iPads.

Ek het kollegas in die nuuskantoor hieroor uitgevra. Die antwoorde was skokkend. Niemand het nié laerugprobleme nie. Degenerasie en osteoartritis van haar S4- en S5-rugwerwels is by ’n produksieredakteur van kwalik 35 gediagnoseer. Haar dokter het haar op medikasie gesit vir dié probleem maar die medikasie maak haar siek. ’n Musiekjoernalis het ’n diskusherniasie. ’n Subredakteur het vir my sy 8 cm lange litteken gewys weens ’n rugwerweloperasie.

Ek voel nou amper soos die gelukkige een wat nie veel letsels het om oor te spog nie. Die uitslag van X-strale tien dae gelede wys matige L5/S1-vernouing met gepaardgaande gewrigsvernouing en tekens van osteoartritis, maar geen ander probleme nie.

Zahedi stel voor dat ’n mens in die motor asook kantoor die volgende doen indien jy nie alreeds ’n spesiale stoel of kussing het nie: Sit eenvoudig ’n handdoek of ’n boek in die gaping in die onderste rugleuning van jou stoel of karsitplek.

Kenners voorspel ’n groot skuif in kantooruitleg. Een daarvan is staanlessenaars. Daar is reeds ’n paar op ’n vloer in dié gebou. Ek tik vandag dié blog staande. Ek het my rekenaarsleutelbord op ’n hoë rak wat op die regte hoogte voor my afskorting is, gesit en die skerm omgedraai.

Dit bied dadelik verligting van drukking op die rugwerwels, maar soos ’n mens maar is, vergeet jy en begin dan slordig staan ook. Jy plaas te veel gewig op een knie of heup, of jy leun met elmboog op die tafel. My volgende probleem sal seker kroegelmboog wees!

Want ’n mens se lyf kan nie onthou as jou brein besig is met ander dinge nie.

Voordat ruglyers drastiese operasies ondergaan, is daar egter baie en effektiewe konserwatiewe maniere om pyn te hanteer.

Pilates en fisiosessies, die regte stoel en die aanleer van liggaamsintelligensie deur rugoefeninge gereeld te doen, kan myle help. Pynpille, anti-inflammatoriese middels en spierverslappers sal nie eens nodig wees nie.

Niks is egter beter as gereelde beweging nie. Ons is ontwerp om te beweeg. Drink baie water sodat jy dikwels van jou werkstasie moet opstaan.

(Gaan uit saam met die rokers wat elke uur gaan rook; moet net nie begin rook nie!)

Die beste dog ligsinnigste raad kom van die satiriese digitale tydskrif  ​The Onion:

In ’n poging om werkende mense te help om hul fiksheid en gesondheid te verbeter het die Mayo-kliniek riglyne voorgestel waarvolgens ons van ons werkstasies moet opstaan, by die kantoor moet uitgaan ... en nooit weer terugkeer nie.

Strek jou bene deur uit die kantoor te stap en al jou verantwoordelikhede agter te laat. Vir bykomende effektiwiteit, én om die bloedsomloop verder te verbeter, kombineer dié aktiwiteit met die aksie van jou toegangskaart rég oor die parkeerterrein gooi.

Bykomende bronne: The Telegraph

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.