SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Gesondheid
Talle atlete se tande pla hulle

Top-atlete sukkel dikwels met vrot tande en tandvleissiekte. Dié probleem kan hul prestasie op die sportveld benadeel en kan moontlik toegeskryf word aan sportdrankies, diëte wat ryk is aan koolhidrate en strawwe oefen-roetines, meen kenners.

Kundiges van Brittanje en Noord-Amerika het 39 gepubliseerde studies oor die mondgesondheid van top- of ander professionele sportmense bestudeer. Hulle het bevind dat 15% tot 75% van hulle gesukkel het met vrot tande, 15% het gely aan matige tot ernstige tandvleissiekte en 36% tot 85% is deur emalje-erosie geaffekteer.

Die syfers is bykomend tot ’n peiling wat tydens die Olimpiese Spele in 2012 in Londen gedoen is waarin 46,5% van die atlete erken het dat hulle nie die afgelope jaar by ’n tandarts was nie en 18% gesê het tandprobleme het in die verlede hul prestasie beïnvloed.

“Mondgesondheid hoef nie atlete se prestasie te benadeel nie, want al dié toestande is maklik voorkombaar,” sê Ian Needleman, ’n professor by die University College London, een die leiers van die studie.

Tandprobleme veroorsaak pyn en inflammasie, dit kan slaap- en eetpatrone benadeel en kan selfvertroue op die sportveld ’n knou gee, sê hy.

Die navorsing is gepubliseer in die British Journal of Sports Medicine en sê verder dat atlete funksioneer onder intense eet- en oefendruk wat ’n uitwerking het op hul tande. Spoeg help om tande teen verweer en verrotting te beskerm en dus kan ontwatering tydens swaar oefening die risiko van swak mondgesondheid verhoog. Om vinnig energie terug te kry eet atlete dikwels maaltye wat baie koolhidrate bevat of hulle drink energiedrankies wat soms suur is en baie suiker bevat. As hulle nie daarna hul tande borsel nie, kan dit die emalje van hul tande beskadig.

“Ons sê nie energiedrankies is sleg nie en ons sê ook nie atlete moet dit nie drink nie,” beklemtoon Needleman.

“Maar mense moet bewus wees van die kwesbaarheid van hul mondgesondheid en die eenvoudige stappe wat hulle kan neem om die risiko te verminder. Water is byvoorbeeld beter vir eenvoudige hidrasie. En onthou om net te spoeg, maar nie jou mond uit te spoel nadat jy tande geborsel het nie.

“Vir atlete wat baie energiedrankies moet drink, is tandepasta met baie fluoried en mondspoelmiddels belangrik.”

– Sapa-AFP 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.