Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
A tot Z van siekteverlof

Oudpres. Jacob Zuma se siekbrief is bevraagteken nadat hy vandeesmaand ’n hofverskyning misgeloop het. Wat is jou regte met siekteverlof? Delia du Toit vind uit.

Jy’t ’n siekbrief nodig as jy meer as twee agtereenvolgende dae by die werk afneem, maar dit hoef nie deur ’n algemene praktisyn uitgereik te wees nie.

Dis ’n Maandagoggend en die werksweek lê soos ’n berg voor jou. Dan begin jy redeneer: Laas week was so rof, jy verdien ’n afdag. Jou een kollega neem immers gereeld siekteverlof en jy byna nooit; jy’s ook geregtig daarop. Sê net jy’t gisteraand iets geëet wat nie met jou akkordeer nie. Beter nog; kry jou man of vrou om te bel. Dis net een dag, niemand gaan dit mos bevraagteken nie.

Oppas, want as jy uitgevang word, kan jy lelik in die moeilikheid wees.

Jy is geregtig op siekteverlof gelykstaande aan ses weke se werksdae elke drie jaar.

As jy dus vyf dae per week werk, is jy geregtig op 30 dae se betaalde siekteverlof elke drie jaar.

Dit is die wetlike minimum, sê Chantelle Bensch, ’n prokureur wat spesialiseer in arbeidsreg by Higgs Attorneys in Johannesburg. “Jou werkgewer mag egter meer siekteverlof toestaan, of die siklus verkort (dus, byvoorbeeld, ses weke se werksdae in siekteverlof elke 30 maande pleks van 36 maande). Dis egter nie van toepassing op werknemers wat minder as 24 uur per maand werk nie.”

Ses weke elke drie jaar of twee weke per jaar.

Siekteverlof werk op ’n drie-jaar-siklus, minimum, en kan nie beperk word tot ’n pro rata-aantal dae per jaar nie, verduidelik Charlie Higgs, ook van Higgs Attorneys. Jy kan dus al drie jaar se siekteverlof in een jaar gebruik. As jy egter weer siek word voor die volgende drie-jaar-siklus begin, sal jy jou gewone verlof moet gebruik om ’n dag vry te neem.

Dit geld nie vir jou eerste ses maande by ’n nuwe werk nie.

In jou eerste ses maande word siekteverlof op ’n pro rata-grondslag toegestaan. Jy kry slegs een dag se betaalde siekteverlof vir elke 26 dae wat jy werk. Dit word steeds van jou totale siekteverlof oor drie jaar afgetrek, maar die aantal dae wat jy die eerste ses maande vry kan kry, word net beperk. As jy meer dae siek is (byvoorbeeld twee dae in jou eerste maand), word die ekstra dae van jou gewone verlof afgetrek. In jou sewende maand sal al jou siekteverlof vir die drie jaar-siklus dan beskikbaar word. “Jy kan dus al jou oorblywende siekteverlof in die sewende maand opgebruik, maar sal dan niks oorhê vir die res van die drie-jaar-siklus nie,” sê Chantelle.

Siekteverlof kan nie gebank word nie.

As jy nie jou siekteverlof in ’n drie-jaar-siklus gebruik nie, verval dit. Jy sal weer net ses werksweke se siekteverlof aan die begin van die volgende drie-jaar-siklus kry.

As jy nie jou siekteverlof in ’n drie-jaar-siklus gebruik nie, verval dit.
Wat as jou siekteverlof opgebruik is?

Enige verdere vrye dae word dan van jou gewone verlof afgetrek. Wanneer dit opgebruik is, kan jy onbetaalde siekteverlof neem. Jy kan egter op dié punt ongeskiktheid verklaar, indien jy nog ’n onredelike lang tydperk weg gaan wees by die werk. Jou werkgewer kan dan ’n ondersoek doen en behoort eers ander alternatiewe buiten afdanking te oorweeg. Jy moet ook eers die geleentheid gegee word om jou kant van die saak te verduidelik, sê Charlie.

Alternatiewe oplossings sluit in om jou werk aan te pas volgens jou gesondheid en vermoë, of om ’n tydelike werknemer aan te stel totdat jy herstel.

Jou werkgewer kan betaling weerhou as jy nie ’n siekbrief het nie.

As jy meer as twee agtereenvolgende dae, of meer as twee keer binne agt weke, siek is en nie ’n siekbrief kan wys wanneer jou werkgewer vir een vra nie, kan betaling vir daardie dae weerhou word, sê Chantelle.

“Die wet vereis nie ’n siekbrief vir ’n enkele dag se siekteverlof binne agt weke nie. As jy nie gewoonlik oor naweke werk nie, hoef jy wetlik ook nie ’n siekbrief te hê as jy net die Maandag of net die Vrydag afvat nie – die Saterdag of Sondag geld dan nie as ’n agtereenvolgende werksdag nie.”

Lees egter jou kontrak versigtig, waarsku Lara Haskins, ’n mensehulpbronne-konsultant van Johannesburg. “Sommige maatskappye vereis wel ’n siekbrief as jy die dag voor of ná ’n naweek of vakansiedag afvat. As dit maatskappybeleid is en jy het nie ’n siekbrief nie, hoef jou werkgewer jou nie vir daardie afdag te betaal nie.”

Oppas vir Maandae en Vrydae.

Hoewel die wet nie ’n siekbrief vereis as jy net een dag voor of ná ’n naweek afvat nie, kan jou werkgewer ’n dissiplinêre ondersoek doen as dit gereeld gebeur. As jy dan nie kan bewys jy was werklik siek nie, of jou werkgewer kan bewys jy was nie siek nie (oppas vir daai Facebook-foto’s), kan daar ’n dissiplinêre verhoor gehou word, sê Charlie.

Werkgewers moet egter probeer redelik wees, sê Lara. As jy byvoorbeeld een dag matige sinusitis het en afvat, selfs al is dit op ’n Vrydag, gaan jy nie noodwendig dokter toe gaan nie en jou werkgewer behoort dit te kan verstaan. Maar as jy elke paar weke daarmee sukkel, besoek eerder jou dokter en kry ’n siekbrief.

Oudpres. Jacob Zuma se siekbrief.Foto: Verskaf
Jou werkgewer mag jou siekbrief bevraagteken.

Jou werkgewer mag jou geneesheer kontak om seker te maak die brief is geldig. Jy hoef egter nie enige detail oor jou toestand te gee nie en jou dokter sal dit ook nie onthul selfs al kontak die werkgewer hom/haar nie – ’n doktersbesoek is vertroulik, sê Chantelle.

Zuma se siekbrief vir ’n “mediese toestand” is dus aanvaarbaar, sê Marius Scheepers, ’n arbeidsregprokureur van Pretoria.

“Ander dele van die brief word egter met goeie rede bevraagteken. Die datum op die brief is verander, maar die verandering is nie deur die dokter geparafeer nie. Wetlik moet ’n verandering op enige dokument geparafeer word. ’n Werkgewer sal dalk nog so ’n verandering aanvaar, maar hoef nie. Met so ’n hoëprofiel-saak het die regter beslis goed opgetree om dit te bevraagteken.”

Dit hoef nie noodwendig ’n doktersbrief te wees nie.

Enige geneesheer se siekbrief is geldig – mits hulle by ’n professionele mediese raad geregistreer is, sê Charlie. Dit hoef egter nie die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA), waar ’n algemene praktisyn sou registreer, te wees nie.

’n Geregistreerde homeopaat, chiropraktisyn of tradisionele geneesheer, byvoorbeeld, se brief is ook geldig. Jy mag ook vir geestestoestande afvat mits ’n geregistreerde terapeut vir jou ’n brief gee.

Siekteverlof kan net gebruik word as jy siek is.

Jy kan nie siekteverlof gebruik om vakansie te hou of vir enige rede buiten jou eie siekte of besering nie. Jy mag afvat om na ’n siek familielid of selfs troeteldier om te sien, of ná ’n naaste se dood, maar dit geld as familieverlof en jy kan nie jou siekteverlof daarvoor gebruik nie. Jou werkgewer mag ook vir ’n bewys vra, sê Lara.

Werknemers wat meer as vier dae per week werk, kry drie dae se familieverlof elke 12 maande. Dit kan nie gebank word nie en word eers beskikbaar nadat jy vier maande by die maatskappy gewerk het.

Meer oor:  Regte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.