Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Amputasies: Revolusionêre nuwe prostese-prosedure

’n Opwindende nuwe prosedure wat die lewe van mense met onderste ledemaat-amputasies drasties kan verbeter, is onlangs vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer.

Die nuwe osseo-integrasie-prostese herstel die normale anatomiese lynrigting van die dybeen (femoraal) wat algemene loop-afwykings verminder in mense met amputasies bo die knie. Beeld: Verskaf

’n Professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met die Instituut vir Ortopedie en Rumatologie (IOR) by die Mediclinic Winelands, die prostetikus Eugene Rossouw, en medeprofessor Munjed Al Muderis van die Osseo-integrasiegroep van Australië, het op 5 November vanjaar Suid-Afrika se eerste osseo-integrasie-prostese-inplanting uitgevoer.

Die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe (FGGW) sê in ’n verklaring die prosedure is oorspronklik in Australië deur Al Muderis ontwikkel, en behels die chirurgiese inplanting van die Osseo-integrasiegroep van Australië se osseo-integrasie- prostetiese ledemaat (OGAP-OPL).

“Die OGAP-OPL is ’n revolusionêre nuwe soort prostese wat wegdoen met die tradisionele prostetiese vassuig-sok deur die prostetiese ledemaat direk aan die persoon se skelet te heg. Dit bied unieke voordele wat die lewensgehalte van mense met amputasies drasties kan verbeter,” sê prof. Nando Ferreira van die US se afdeling vir ortopedie aan die FGGW.

Ferreira is die chirurg wat die prosedure gelei het.

Mense met amputasies ervaar gereeld probleme met die tradisionele sok-prostese, insluitende velirritasie, probleme met hoe dit pas weens byvoorbeeld sweet en veranderinge in die volume van die stompie deur die loop van die dag, ongemak wanneer hulle sit, en die tyd wat dit neem om die prostese aan te sit en af te haal.

Kandidate word versigtig gekeur vir geskiktheid en tans word slegs individue vir die operasie oorweeg wat ernstige sok-probleme ervaar wat groot inbreuk maak op hul werk en daaglikse lewe.
prof. Nando Ferreira

Probleme wat verband hou met sok-prostese is iets van die verlede met ’n osseo-integrasie-prostese aangesien dié prostetiese ledemaat direk aan die skelet geheg word. Ontvangers het ook beter propriosepsie (persepsie van die ledemaat se posisie en beweging) en kan die loop-oppervlak voel, wat hulle toelaat om met meer selfvertroue te loop.

Die osseo-integrasie-prostese herstel ook die normale anatomiese lynrigting van die dybeen (femoraal) (sien beeld hierby), wat algemene loop-afwykings verminder in mense met amputasies bo die knie.

Die prosedure is egter nie sonder komplikasies nie. Infeksie rondom die inplanting en frakture in die oorblywende been is die mees beduidende komplikasies wat ná osseo-integrasie kan voorkom.

“Kandidate word versigtig gekeur vir geskiktheid en tans word slegs individue vir die operasie oorweeg wat ernstige sok-probleme ervaar wat groot inbreuk maak op hul werk en daaglikse lewe,” sê Ferreira.

Die ontvanger van Suid-Afrika se eerste osseo-integrasie-prostese-inplanting is ’n 28-jarige vrou wat in 2009 ’n traumatiese amputasie bo haar knie gehad het. Sedertdien sukkel sy met haar sok-prostese, wat inbreuk maak op haar werk en alledaagse aktiwiteite. (Die pasiënt verkies om anoniem te bly.)

Só werk dit:

“Die OGAP-OPL se unieke ontwerp, materiaal en vervaardigingsproses laat toe dat daar been binne-in die oppervlak van die inplantasie groei en so “integreer” die prostese met die skelet.

’n Spesiaal ontwerpte stut wat dan deur ’n opening in die stompie steek, wat chirurgies gemaak is, vorm ’n koppelingspunt vir die eksterne komponente van die prostetiese ledemaat,” verduidelik Ferreira.

Al Muderis is die Australiese chirurg wat die baanbrekerswerk oor osseo-integrasie gedoen het en oor die afgelope dekade die OGAP-OPL-prostese ontwikkel het, asook die chirurgiese tegniek en die rehabilitasie-protokol.

Tot nou is die prosedure al ongeveer 750 keer uitgevoer, meestal in Australië.

“Prof. Al Muderis se entoesiasme om die lewe van mense met amputasies te verander, is sigbaar in sy onvermoeide werk en gewilligheid om ander chirurge op te lei in sy tegniek,” sê Ferreira.

Prof. Al Muderis se entoesiasme om die lewe van mense met amputasies te verander, is sigbaar in sy onvermoeide werk en gewilligheid om ander chirurge op te lei in sy tegniek.
prof. Nando Ferreira

Ferreira het na Sydney, Australië, gereis saam met die egpaar Eugene (prostetikus) en Fransien (fisioterapeut) Rossouw, om opleiding van Al Muderis te ontvang in die chirurgiese prosedure, prostetiese passing en rehabilitasie. Hierdie span is tans die enigste groep wat gesertifiseer is om die OGAP-OPL-prosedure in Suid-Afrika uit te voer.

Vir die chirurgie op die plaaslike pasiënt is Ferreira bygestaan deur dr. Gerhard Pienaar, ’n ortopediese chirurg van die Instituut vir Ortopedie en Rumatologie aan die Mediclinic Winelands, en Al Muderis, wat van Australië gereis het om toesig te hou oor die operasie.

Die pasiënt sterk goed aan en het haar eerste prostese-passing twee weke gelede gehad. Sy het begin met die 12 week lange rehabilitasie-protokol wat progressiewe gewigslading vir ses weke met twee krukke behels, gevolg deur ses weke van bystand-mobilisasie met een kruk.

Die span is van plan om hierdie prosedure aan nog pasiënte te bied, in die openbare, sowel as die private gesondheidsektor, en hoop dat dit ’n goed aanvaarde opsie sal word vir Suid-Afrikaners met amputasies, volgens die verklaring.

Meer oor:  Prof. Nando Ferreira  |  Prostese  |  Operasie  |  Amputeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.