Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Baba met ingewande-defek ná drie maande tuis

Die seuntjie se ma het vas bly glo elke skoppie wat sy tydens haar swangerskap voel, is ’n boodskap van hom dat sy haar nie moet bekommer nie – ten spyte daarvan dat die helfte van sy ingewande en lewer buite sy buik in ’n deurskynende membraansak ontwikkel het.

Beneline Maleho, Melvory van Wyk en hul baba, Ephraim.

Ná drie maande se behandeling in die intensiewe sorg vir babas, kan klein Ephraim Maleho, wat in die Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad gebore is, uiteindelik huis toe gaan. Maar eers moes ’n slim mediese plan gemaak word.

Toe Beneline Maleho se dokter op 13 weke ’n sonar doen, het hy gesien die fetus se ingewande ontwikkel buite sy buikwand. Dit is ’n toestand wat bekend staan as eksomfalos.

Volgens Maleho het sy en Ephraim se pa, Melvory van Wyk, gewonder hoe hul kind sal oorleef. Met elke skop wat sy gevoel het, was dit egter asof hy vir haar sê sy moenie bekommerd wees nie.

Met Ephraim se geboorte is hy dadelik na die afdeling vir neonatale intensiewe sorg geneem.

Dr. Ricky Dippenaar, hoof-neonatoloog by die Blaauwberg-hospitaal, sê Ephraim se geval was veral ongewoon, met nie net sy ingewande nie, maar ook die helfte van sy lewer wat deur die buikwand na buite gedruk en in die membraansak was.

Met so ’n groot deel van sy ingewande buite die buik, het Ephraim se liggaam nie ontwikkel met die spasie wat gewoonlik binne die buik vorm nie. Die ingewande en organe kon nie net teruggeplaas word in sy liggaam nie. Hulle moes eers wag dat sy vel groei om meer plek in sy buik te skep.

Jy sien, dit is die wonderwerk wat ’n ma beteken.

Mediese personeel moes Ephraim in ’n hoogs gekontroleerde omgewing hou om die dun membraan te beskerm wat buite sy buik was en te verseker dat hy nie infeksie kry nie.

Dippenaar het die amniotiese membraan gehou met Ephraim se geboorte. Dit bevat stamselle wat uiteindelik die baba se lewe kon red en wat gebruik is om die dun membraan te versterk waarin sy ingewande en helfte van sy lewer was.

Baba Ephraim is gebore met sy ingewande wat in ’n membraansak buite sy liggaam gevorm het.

Dr. Beelke D’hondt, ’n pediatriese chirurg by die hospitaal, sê sy en Dippenaar kon die amniotiese membraan twee keer gebruik waar ander behandeling dalk nie doeltreffend sou wees om infeksie te vermy nie. Daarmee is daar tyd gewen terwyl die baba se buikholte en die vel daaroor kon groei.

Dippenaar het gesê dit blyk net logies te wees dat dieselfde membraan wat die baba in sy ma se baarmoeder beskerm, as ’n natuurlike wand gebruik word. Dit het anti-bakteriese eienskappe en help om ontsteking te verminder.

Ná twee maande was die buikholte groot genoeg en Ephraim se organe kon veilig daarin inpas. Die operasie is gedoen deur D’hondt en dr. Alexander Zühlke, ’n rekonstruktiewe plastiese chirurg.

Uiteindelik in sy ma se arms en by die huis, het Ephraim mooi gewig aangesit en was dit nie meer nodig dat hy met ’n buis gevoer word nie. “Jy sien, dit is die wonderwerk wat ’n ma beteken,” het Dippenaar gesê.

Meer oor:  Kaapstad  |  Tuis  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.