Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bekende dieet werk nie vir gewigsverlies – studie

’n Amerikaanse studie het bevind dat die gewilde Intermittent Fasting-eetplan, waarmee met tussenposes gevas word, alleenlik en sonder ander aanpassings aan jou dieet byna geen voordeel vir gewigsverlies inhou nie.

Met dié eetplan, wat soms eerder as ’n eetpatroon beskryf word, mag jy net sekere tye van die dag eet en die res van die tyd moet jy vas. Daar is geen beperking op die hoeveelheid kos wat jy mag eet nie.

Talle bekendes, soos onder andere Marc Buckner, ster van The Bachelor SA, volg dié eetplan en baie mense sweer daarby.

In ’n onlangse studie deur navorsers aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco is egter bevind dat om met tussenposes te vas het min tot geen invloed op gewigsverlies nie.

Die studie is op oorgewig en vetsugtige Amerikaners tussen 18 en 64 jaar oud gedoen.

Die helfte van die 116 deelnemers het vir 12 weke lank net soos gewoonlik drie gestruktureerde maaltye per dag geëet, terwyl die ander helfte die eetplan gevolg het en net tussen 12:00 en 20:00 elke dag geëet het.

Matige afname

Die laasgenoemde groep het net ’n matige afname (1,17%) in gewig getoon, en volgens die navorsers is dit nie ’n betekenisvolle verskil van diegene wat drie gewone maaltye geëet het nie (0,75%).

Die skrywer van die studie, dr. Ethan Weiss, ’n kardioloog aan die universiteit, en sy span het tot die gevolgtrekking gekom dat dit “in die afwesigheid van ander veranderlikes nie méér effektief vir gewigsverlies is om met tussenposes te vas nie”.

Voor Weiss en sy mede-navorsers se studie is die meeste studies oor die eetplan op muise gedoen. Weiss het die eetplan ook self etlike jare gevolg.

Geen SA statistieke

“Ons het nie statistieke oor Suid-Afrika nie, maar op grond van navrae en inligting op sosiale media is dit ’n soort dieet wat bekend is onder mense wat gewigsverlies-diëte ondersoek,” sê Irene Labuschagne, ’n dieetkundige aan die voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch.

“Die sukses van enige dieetpatroon sal uiteindelik afhang van die kwaliteit van die dieet en die voedsel. Dit sal nie slaag deur met tussenposes te vas as die maaltye nie gesond is nie, ongeag die tydsberekening van die maaltye,” sê sy.

“Die vermoë om vir ’n tydperk by ’n dieetpatroon te hou is een van die belangrikste bepalers van suksesvolle gewigsverlies.

“ ’n Eetpatroon moet een wees waarby ’n mens kan hou – dit moet genotlik wees, ’n ryke verskeidenheid voedsel bevat, en in gepaste porsiegroottes en met matigheid geëet word. As ’n mens gewig wil verloor, moet jy nie net veranderinge oor ’n maand of twee aanbring om gewig te verloor nie.

Bly weg van suiker en sout

“Die primêre fokus moet wees op die veranderinge wat op lang termyn aangebring word om gewig te verloor en, nog belangriker, om dit af te hou.”

Labuschagne sê ’n ideale dieet is een met minder verwerkte voedsel, en minder suiker en sout.

“Vermy dit om enige voedselgroep uit ’n dieet te sny of te vermy, tensy dit om mediese redes absoluut nodig is. Dit kan lei tot ’n tekort aan sekere voedingstowwe.”

Sy sê om te vas kan ook nadelige gevolge hê.

“Risikofaktore soos hipoglisemie as gevolg van langdurige vas, veral vir mense met diabetes wat nie noukeurig gemonitor word nie en diabete wat nie gediagnoseer is nie, of ander ongesonde individue, word gewoonlik nie verduidelik nie.

Voordat dit aanbeveel word, moet hierdie benaderings getoets word vir bekostigbaarheid, toepaslikheid, kulturele sensitiwiteit, praktiese uitvoerbaarheid, verbruikers se begrip en veiligheid, sê sy.


Meer oor:  Amerika  |  Dieet  |  Intermittent Fasting  |  Gewigsverlies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.