Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bestuur die jeukery só
Lyers aan ekseem sal jou vertel dié aandoening het ’n manier om jou hele lewe oor te neem, skryf Alet Wichmann. 

Ekseem is nie net ’n rooi uitslag nie, dit kan ’n mens se hele lewe oorheers.

Mense wat leef met ekseem sal jou vertel dis nie net die jeukerigheid van ’n uitslag nie. Ekseem het die vermoë om jou hele lewe omver te werp.

Dit begin met ’n uitslag wat jeuk, dan hou dit jou snags wakker en bedags is jy doodmoeg. As jy dit krap is dit seer en kan selfs ontsteek en om dit te behandel kan erg ongerieflik wees.

Atopiese ekseem is by verre die algemeenste vorm en dit kom veral onder kinders voor. Atopie beteken ’n oorgevoeligheid vir spesifieke allergene uit die omgewing wat ’n onmiddellike hipersensitiwiteitsreaksie, soos byvoorbeeld ekseem, asma of hooikoors, ontlok.

Dis veral algemeen onder Westerse kulture en tot 20% van kinders in Brittanje en Ierland word daarmee gediagnoseer. Die goeie nuus is dat 80% van kinders se atopiese ekseem teen puberteit verdwyn, sê dr. Tamara Jaye, ’n algemene praktisyn met ’n diploma in allergologie. Net sowat 2% van volwassenes leef daarmee.

Dis in jou gene

Ekseem word meestal geneties oorgedra. As een ouer geneig is tot atopiese allergie, soos asma, ekseem of hooikoors, het hul baba ’n 50%-kans om atopiese ekseem te ontwikkel; indien dit waar is vir albei ouers, is dit 80% seker dat hul baba dit sal hê; en selfs as die ouers nie enige van hierdie allergieë getoon het nie, maar een van hul ander kinders het atopiese ekseem, is die kans 30% tot 40% dat hul ongebore baba dit ook sal ontwikkel.

Navorsing deur prof. Irwin McLean en sy span aan die Universiteit van Dundee in Skotland het ’n sterk verband gevind tussen atopiese ekseem en ’n geenmutasie wat die produksie van filaggrin, ’n proteïen wat die boonste lagie selle op jou vel aanmekaar hou, inhibeer. ’n Tekort aan filaggrin laat die epidermis van die vel verdroog en skilfer en gevolglik is daar nie ’n behoorlike laag wat jou liggaam beskerm teen eksterne faktore nie. Deur dié reeds beskadigde vel kry irriterende stowwe, soos sepe en wasmiddels, boonop toegang tot jou reeds kwesbare vel en vererger die velkwaal.

Hoe lyk atopiese ekseem?

Dit steek gewoonlik rondom die ouderdom van drie maande die heel eerste keer kop uit en veroorsaak ’n rooi uitslag hoofsaaklik op die gesig en aan die buitekante van die arms en bene.

In ouer kinders kom die uitslag hoofsaaklik aan die binnekant van die elmboë en agter die knieë voor. In babas is dit meestal ’n rooi, smetterige uitslag. Later jare is die uitslag rooi en droog met skilfers. Dit jeuk en kan ook seer wees as gevolg van bakteriese infeksie.

Lewensgehalte

Ekseem kom en gaan. Daar’s tye wat jou vel heeltemal regkom en dan vlam dit weer op.

Dis nie net irriterend nie, dit kan ook ’n kind se lewensgehalte sleg beïnvloed, sê Tamara. “Hulle sukkel om te slaap en is gevolglik moeg by die skool en sukkel om te konsentreer. Boonop gee dit hul selfbeeld ’n knou.”

Die snellers

Hierdie is nie die oorsake van ekseem nie, maar eerder faktore wat dit laat opvlam of vererger:

  • Hitte. Warm temperature en sweet kan dit aanbring of vererger.
  • Materiale. Hou by suiwer stowwe, soos 100% katoen, vir klere wat teenaan die vel gedra word, asook beddegoed. Wol en sintetiese stowwe sal die uitslag irriteer en vererger.
  • Seep. Vermy seep op die vel as die ekseem erg is en gebruik seep sonder geurmiddels of vogroom in minder erge gevalle.
  • Watertemperatuur. Bad of stort in louwarm water. Dit moet nie stomend warm óf yskoud wees nie.
  • Wrywing. Moenie die lyf droogvryf met ’n handdoek nie. Tik eerder liggies met die handdoek en sit binne minute lekker dik vogroom aan.
  • Swem.Die chloor in swembadwater kan die ekseem laat opvlam of vererger. Smeer vooraf vogroom aan en spoel dadelik af met kraanwater nadat jy uitgeklim het en smeer weer die lyf in met ’n vogroom.
  • Wasmiddels.Kies niebiologiese wasmiddels. Dit bevat nie ensieme nie, wat gewoonlik bygevoeg word om vlekke te verwyder. Vermy ook versagters.
  • Spanning.Onthou dat spanning jou atopiese ekseem kan laat opvlam of dit vererger.

Die behandeling

  • Vogroom. Dit vorm die basis van ekseembehandeling en kan tot agt keer op ’n dag aangesmeer word, sê Tamara. Maar kyk op die houer, moenie ’n waterige room (aqueous cream) kies nie, dit gaan lê bo-op die vel en kan dit irriteer. Kies eerder ’n vetterige room. Kyk uit vir woorde soos emollient of ointment, wat ’n laag op die vel vorm wat vog binne hou en keer dat die vel uitdroog.
  • Steroïed-rome. “Mense is bang vir steroïed-rome, soos kortisoon, maar dit het ’n belangrike plek in die behandelingsproses,” sê Tamara. “Dit word gebruik om opvlammings onder beheer te bring en jy wil dit so gou as moontlik doen, aangesien ’n opvlamming permanente skade aan die vel kan aanrig.”

In ernstige gevalle word ’n sterk steroïed-room eers gebruik om die ekseem onder beheer te kry. Daarna kan jy ’n steroïed-room van ligter sterkte gebruik totdat dit heeltemal weg is.

Sterk steroïed-rome het newe-effekte, soos dat dit die vel verdun, en daarom wil jy dit net gebruik om die opvlamming te onderdruk. Maar die gebruik van ligter sterkte het nie juis newe-effekte nie, sê Tamara. Dis nie so dat dit ’n kind se groei sal strem nie, paai sy.

  • Antibiotika-rome. Mense met atopiese ekseem is geneig tot infeksie omdat die epidermis beskadig is, sê Tamara. Dit kan veroorsaak word deur bakterieë, virusse of fungi wat die vel smetterig en korserig laat voorkom. Antibiotika, meestal in roomvorm, maar soms ook mondeling toegedien, word gebruik om die infeksie te behandel.
  • Antihistamiene. Hierdie middels kan verligting gee vir die jeukerigheid.
  • Die mengselmetode. Die Suid-Afrikaanse dermatoloog dr. Richard Aron, wat spesialiseer in pediatriese atopiese ekseem, is wêreldbekend vir sy mengsel van vogroom, steroïed-room en antibiotika-room vir die behandeling daarvan. Pasiënte kontak hom van oral via ’n Facebook-groep, Dr Aron Eczema Treatment Discussion Group, en hy konsulteer ook via die internet.

Volgens hom is die bakterie Staphylococcus aureus meestal verantwoordelik vir die infeksie in ekseempasiënte en daarom is antibiotika bitter noodsaaklik in die behandeling. Deur die steroïed- en antibiotika-room te verdun in die vogroom kan ’n pasiënt volgens hom die behandeling langer uitrek en só beter resultate kry omdat steroïedbehandeling nie so vinnig hoef te eindig nie.

  • Toedraai in nat verbande. Dié metode is noodsaaklik om te keer dat die vel uitdroog. Die aangetasde liggaamsdele word eers in nat verbande verbind en dan met ’n laag droë verbande toegedraai. Dit kan maklik tuis gedoen word en daar is heelwat video’s aanlyn wat dit demonstreer. Kyk byvoorbeeld na die een: bit.ly/ekseembehandeling.

Voorkom dit

As jy vooraf weet jou kind het ’n hoë risiko om ekseem te ontwikkel, is daar ’n paar goed wat jy voorkomend kan doen.

  • Neem probiotika in die laaste trimester van jou swangerskap en gee dit aan jou baba ná geboorte vir minstens die eerste vier maande. Studies het al gewys probiotika kan allergieë voorkom, maar presies watter stam en dosis is nog nie presies bepaal nie.
  • Borsvoed jou baba tot minstens vier maande oud en verkieslik ses maande oud.
  • Smeer van vroeg af gereeld ’n dik laag vetterige vogroom aan jou baba om sy of haar vel teen omgewingsfaktore te beskerm.
  • Ander bronne: www.allergyfoundation.co.za; www.lifesci.dundee.ac.uk; www.adrescuewear.com
Meer oor:  Ekseem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.