Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker deel 1: 'Dit gebeur met vroue soos ek en jy'
’n Vrou praat openlik oor haar ervaring met borskanker en Netwerk24 was by terwyl sy ’n mastektomie en borsrekonstruksie in ’n prosedure van nege uur ondergaan het.

Voorste dokters praat oor die behandeling en genetika van borskanker, en hoe om dié siekte aan te durf. Elsabé Brits berig elke dag dié week, tydens Borskankerbewustheidsmaand, hieroor. Alles wat jy oor borskanker moet weet, op een plek.

Cecelia Jacobs drie dae voor haar mastektomie en borsrekonstruksie by die Netcare Chris Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad. Foto: Elsabé Brits

Wat met Cecelia Jacobs (50) van Kaapstad gebeur het, gebeur elke dag met vroue soos ek en jy. Sy is ’n rekenmeester en ’n geskeide ma van vier kinders wat op ’n dag die nuus hoor wat elke vrou vrees: borskanker.

“Nadat hulle die biopsie gedoen het, het ek net in my hart geweet alles is nie reg nie,” vertel sy die Vrydag voordat sy die Maandag ’n mastektomie en rekonstruksie ondergaan.

Dít was ses weke nadat sy gehoor het sy het borskanker. Haar vriend van vier jaar was dié dag saam met haar. Skaars twee dae later hoor sy hy het haar met ’n ander vrou verneuk.

Sy is gedompel in ’n tuimelende wêreld vol vrees en onsekerheid. Wat gebeur nou?

Toe sy dr. Britta Dedekind, ’n borschirurg by Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, in haar spreekkamer gaan sien, het haar “kop heeltemal leeg” geraak. Sy kan niks onthou van wat die dokter gesê het nie.

Gelukkig het sy haar dogters, Stephanie (27) en Monique (25), saamgeneem en hulle het haar later vertel wat alles gesê is.

My hart was gebreek, my hele wêreld was weg.

“My hart was gebreek, my hele wêreld was weg. Ek het saam met hom gebly, ons het alles gedeel. Ek het net my klere en ’n paar ander goed gevat en na Stephanie toe gegaan. Ek het besef dié twee goed saam sal my breek. Ek moet dit laat gaan.”

Nou, kort voor die operasie, glo sy “dit is beter dat hy my tóé verwerp het, eerder as nou. As dit later in die proses was, wanneer ek dalk siek en sonder hare sit, sou dit baie erger vir my gewees het.”

In daardie eerste dae in Julie het dit vir haar gevoel die kanker vreet soos “Pac Man”-figuurtjies deur haar lyf, al kouend van haar bors na haar sy, tot agter in haar rug. Sy was angsbevange dat die kanker deur haar lyf versprei.

“Snags het ek wakker gelê en dit het gevoel asof daar gremlins in my lyf is wat aan my eet. Ek wou die kanker uit my lyf hê.”

Cecelia (regs) en een van haar susters toe hulle klein was. Foto: Verskaf

Intussen het sy ingetrek by Stephanie en haar jongste seun, Daniel (21), wat ’n tweeslaapkamerwoonstel in Wynberg deel. Sy en Daniel deel ’n slaapkamer en kry dit reg om mekaar ruimte te gun.

Dit was swaar vir haar oudste, Matthew (32), om dit te verwerk dat sy ma kanker het. Hy het gesukkel om daaroor te praat, maar kort voor die operasie het hy haar vir ete genooi sodat hulle kon praat.

Jacobs is geskei toe sy nog jonk was en het uiteindelik haar vier kinders meestal alleen grootgemaak.

“Ek het drie deur universiteit gesit. Ek het allerhande ekstra werk gedoen. Geld op kredietkaarte rondgeskuif. Jy weet, robbing Peter to pay Paul. Dit was tough,” sê sy, maar met die glimlag van ’n trotse ma.

Jare laas by 'n dokter


Jacobs, wat jare laas by ’n dokter was, het niks vreemd in haar linkerbors gevoel nie – geen vreemde knop of afskeiding nie. Net duiseligheid wat so erg was dat sy twee keer byna ’n motorongeluk gemaak het. Sy kon skaars haar kop draai.

Kenneth en Priscilla Popple, die ouers van Cecelia Jacobs. Foto: Verskaf

Haar huisdokter het middeloorontsteking gediagnoseer en omdat sy nog nooit ’n mammogram en ultraklankskandering gehad het nie, is sy daarvoor gestuur.

En so is twee gewasse opgespoor en met ’n biopsie bevestig. Een van 2 cm in deursnee en nog een van 2.5 cm – beide fase 2.

Of so hoop die dokters, want eers ná die operasie, wanneer die limfkliere uitgehaal en ontleed is, sal sy weet of die kanker versprei het, en wat voorlê.

As kind – een van sewe dogters – het Jacobs veerkragtigheid geleer. Haar pa, Kenneth was wit en haar ma, Priscilla, is Italiaans-Indies. In die apartheidsjare het die gesin nêrens ingepas nie, vertel sy.

Op talle vlakke was haar lewe as kind nie altyd maklik nie.


Hulle moes van ’n sogenaamde wit woonbuurt trek na Grassy Park. “Ek onthou die polisie het na ons huis gekom en ’n flitslig deur die venster geskyn en gevra wat maak my ma daar. Dan het sy gesê sy is die bediende. My pa het hom toe laat herklassifiseer as bruin en ons het in die bruin gebied gaan bly,” vertel sy.

Sy en haar susters is streng Katoliek grootgemaak. Haar ouers het juis by die kerk ontmoet. “Ek is nie meer so streng Katoliek nie. Ek beskou nie my siekte as ’n straf nie. Ek is openlik daaroor. Ek hou dit nie geheim nie.

“Ja, ek het kanker. Ek probeer vir myself sê dit is ’n seisoen waarin ek is; ek moet dit so sien . . ."

"Ek sien jou Maandag (vir die operasie), nè?” groet sy.

BORSKANKER IN SUID-AFRIKA

Die Nasionale Kankerregister se jongste syfer (van 2013) wys borskanker is die algemeenste kanker in Suid-Afrika onder bruin, wit en Indiërvroue en tweede mees algemene kanker onder swart vroue, ná servikale kanker.

Dit verteenwoordig ’n hoë persentasie van die kankers wat Suid-Afrikaanse vroue kry:
Wit vroue (20,98%), Indiërvroue (35,03%), bruin vroue (27,07%) en swart vroue (21,37%).


* In aflewering twee kan jy als lees oor die operasie van nege uur lank. 

’n Span van vier dokters doen eers ’n mastektomie en bou daarna vir Jacobs ’n nuwe bors uit haar eie abdominale vet. Kom saam na die operasieteater en lees stap vir stap hoe nuwe hoop geskep word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier