Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker het haar nuwe uitkyk op die lewe gegee

Hoe hanteer jy die nuus as die dokter aan jou sê dat jy borskanker het? Tasneem van Rooyen het die antwoord by Yvonne Webb gekry, wat borskanker oorkom het.

Yvonne Webb glo haar lewe het verbeter nadat sy borskanker oorkom het. Foto: VERSKAF

Yvonne Webb was 42 toe sy uitgevind het sy het borskanker.

Die nuus het haar bitter erg getref omdat sy op daardie spesifieke tyd die liefde van haar lewe aan die dood moes afstaan. Hy is vermoor en na haar diagnose moes sy aan haar eie oorlewing dink. Sy sê dat sy van die dood moes vergeet en eerder fokus op die prosedures wat volg.

Die diagnose

“Ek het ’n knop aan die kant van my linkerbors gevoel en niks daarvan gedink nie. Ek het aangeneem dat dit net ’n klier is wat opgeswel het. Daar was geen pyn nie en die bors self het ook nie van grootte verander nie.”

Yvonne sê dat sy nie in haar wildste drome gedink het dit kan kanker wees nie.

“Na die roudiens van die liefde van my lewe, het my vriendin gesê dat ons daarna moet laat kyk.”

Sy glo steeds sy was baie gelukkig omdat die onkoloog wat sy gaan spreek het, nie doekies omgedraai het nie.

“Die onkoloog was baie eerlik en het onmiddellik gesê dat dit wat sy sien, soos kanker lyk. Ek moes egter eers vir ’n biopsie gaan om haar waarneming te bevestig,” sê sy.

Yvonne sê haar brein het in ’n mate klaar die nuus verwerk, nog voordat sy die uitslae van die biopsie gekry het. Al wat sy aan die onkoloog gevra het, was: “Sal julle my kan regmaak?”

Die behandeling

Sy het eers ’n lumpektomie ondergaan, wat beteken dat hulle die gewas uit haar bors verwyder het. Daarna het sy vir chemoterapie, bestraling en rekonstruksie van haar borste gegaan.

“Ek kan net dankie sê vir die personeel van Kingsbury, Vincent Pallotti en Constantiaberg, waar ek my rekonstruksie ondergaan het,” sê sy.

Volgens haar het sy net goeie besoeke ervaar van al die dokters en verpleegsters wat by dié proses betrokke was. Hulle het haar soos ’n prioriteit hanteer.

Sy het Vrydae vir chemoterapie gegaan sodat sy naweke vir haarself kon hê en die res van die week nog kon gaan werk.

“Hulle het ook seker gemaak dat ek my bestraling so laat as moontlik in die dag kon kry sodat ek soggens werk toe kon gaan en tot die middag werk,” voeg Yvonne by.

Yvonne se borsprostese

Sy sê die eerste keer toe Andrea le Roux, ’n ortotis van Kaapstad, vir haar die prostese wys, kon sy haar trane nie keer nie.

“Ek het in trane uitgebars en die kantoor verlaat. My vriendin moes herskeduleer en ons het teruggegaan toe my kop op ’n beter plek was.”

Haar aanvanklike uitbarsting was weens die feit dat haar borste ’n baie groot rol in haar voorkoms gespeel het.

Sy het besef dat die prostese baie gaan help met die voorkoms van haar borste.

“Met die prostese in plek het ek steeds die voorkoms gehad, al was daar niks meer ‘cleavage’ nie. Die voorkoms was daar en dit was baie belangrik vir my psigiese gesondheid en selfbeeld.”

Hoe dit haar lewe verander het

Yvonne sê borskanker het haar lewe op die beste manier verander omdat dit haar perspektief gegee het. “Ek het besef daar is baie meer om voor te lewe as net partytjie hou. Ek het begin om beter na myself te kyk en opgehou om na ander om te sien,” sê sy.

Sy het ook besef dat die lewe te kort is om gedurig bekommerd te wees oor die klein dingetjies. Sy herinner haarself dat haar lewe erger kon gewees het.

Geliefdes en motivering

Haar familie is in die Oos-Kaap, dus was haar naaste vriende haar grootste ondersteuningsnetwerk en tot vandag toe staan hulle haar by op dié reis.

“Ek het ook optimisties gebly deur my daaglikse roetine so konsekwent as moontlik te volg. Ek het meer tyd begin maak vir my naaste vriende en ons het nou gedurig gesprekke oor hartsake, ons gaan uit vir aandete of ons verkeer rustig,” sê sy.

Raad aan ander

Yvonne sê dat niemand vir jou kan sê hoe jy moet voel nie. “Ons almal hanteer dinge wat na ons kant toe kom, anders. Luister na jou liggaam en doen wat reg is vir jou,” sê sy.

Sy sê ook dat sy nie ’n gelowige mens is nie, maar sy het dié gesegde raakgelees: “If God brings you to it, he will bring you through it.”

Yvonne sê dat dié gesegde om die een of ander rede by haar bly weergalm.

Meer oor:  Gesondheid  |  Borskanker  |  Gesondheidsorg  |  Kanker  |  Diagnose  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.