Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker deel 3: Ommekeer in behandeling bring groot hoop
Drie dekades gelede het onkoloë gefokus op palliatiewe sorg vir vroue met borskanker, maar vandag word die behandeling individueel ontwerp vir elke vrou.

Wanneer ’n vrou met borskanker gediagnoseer word, word die soort kanker nie meer volgens die mikroskopiese voorkoms gediagnoseer nie, maar eerder op grond van hoe die kanker reageer.

Genetiese toetse het chemoterapie in sommige gevalle uitgeskakel omdat dit nie nodig is nie.

Netwerk24 het vandeesweek berig oor Cecelia Jacobs se intieme verhaal op haar pad na heling, asook oor haar mastektomie en hoe dokters by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal terselfdertyd vir haar ’n nuwe bors opgebou het.

Elsabé Brits berig in dié derde artikel in die reeks oor borskanker oor die jongste behandeling en ’n positiewe liggaamsbeeld.

Dr. Rika Pienaar, onkoloog by Panorama Cancercare in Kaapstad, sê daar is baie lank gedink ’n mastektomie en chemoterapie is al wat jou lewe kan red.

Dr. Rika Pienaar, onkoloog by Panorama Cancercare. Foto: Verskaf

Dit is nie meer die geval nie.

“Jy kan ’n gewas van 1 cm hê wat ’n adder is of jy kan ’n baie groter een hê wat ’n molslang is. Die gedrag van die kanker bepaal die soort behandeling waarop ons besluit.”

Sy vertel hoe sy 30 jaar gelede 80% van haar tyd bestee het aan terminale sorg. “Dit was ’n siekte vir ouer vroue waaroor niemand gepraat het nie en daar was min opsies vir behandeling.”

Soveel as 40% tot 50% vroue het nie chemoterapie nodig nie, want die kanker gaan nie daarop reageer nie, sê Pienaar.

Toetse soos MammaPrint en OncotypeDX bepaal of jy chemoterapie moet kry of nie.

Hoewel dié toetse duur is (meer as R30 000), bespaar dit uiteindelik dikwels die koste van chemoterapie, wat tien keer duurder kan wees. Tans moet Suid-Afrika nog monsters na Europa of Amerika stuur vir sowel MammaPrint as OncotypeDX vir ontleding.

Prof. Maritha Kotze, genetikus aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe en van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens, verduidelik die koms van genomika het groot veranderinge meegebring.

Prof. Maritha Kotze, genetikus aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe en van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens. Foto: Verskaf

Voorheen is borskanker beskou as een soort kanker, maar daar is nou ontdek dat dit eindelik vier soorte kanker is (Luminal-A, Luminal-B, HER2 en Basal of trippel-negatief), wat elkeen anders reageer op behandeling.

Die toetse bepaal die genetiese profiel van die kanker, wat dan aandui watter soort behandeling die beste is. Dié toetse kan in die eerste twee fases van borskanker gedoen word.

Dit skakel onnodige chemoterapie uit, maar kan ook aandui wanneer dit werklik nodig is om jou lewe te red.

Die toetse dui ook aan of jou kanker in ’n hoë- of laerisiko-groep val, sê Kotze.

Daar word gefokus op die molekulêre gedrag van die gewas, met ander woorde watter proteïene of gene op die oppervlak van die gewas se selle uitgedruk word.

Patoloë kyk of die kanker estrogeen- of progesteroon-reseptor-positief is. Dit kan een of albei wees – wat beteken die kanker moet met teenhormoonmiddels behandel word.

Chemo- of radioterapie kan wel nodig wees, maar dit word net gegee as die toets dit aandui – nie lukraak nie.

Ongelukkig het Cecelia Jacobs se mediese skema dié genetiese toets afgekeur en sy en haar onkoloog sal nou self moet besluit of sy chemoterapie saam met die hormoonbehandeling moet kry of nie.

As die gewas HER2-postitief is, word dit met die middels trastuzumab (Herceptin) en/of lapatinib (Tykerb/Tyverb) behandel.

Die laaste soort kanker en ongelukkig die een wat op geeneen van die middels reageer nie, is trippel-negatief vir al dié reseptore en moet aggressief met chemoterapie behandel word.

Al die behandelings kom ná snykunde wat of ’n lumpektomie of ’n mastektomie insluit.

Die voordeel van die kankerspesifieke middels is dat dit net die kankerselle aanval.

Die voordeel van die kankerspesifieke middels is dat dit net die kankerselle aanval. Chemoterapie val selle aan wat vinnig verdeel, wat kankerselle insluit, maar dit val ook ander selle aan. Radioterapie teiken wel die spesifieke gewas, maar dit het ook newe-effekte.

Pienaar sê die gemiddelde dekking van R200 000 wat mediese fondse per jaar gee vir kanker is nie naastenby genoeg nie. Dit kan tot sowat R400 000 per jaar kos; beplan dus en neem versekering uit. Middels soos Herceptin kan jou lewe red, jy moet ernstig dink oor versekering.

Amerikaanse navorsing wys dat die sterftekoers aan borskanker van 1989 tot 2015 met 39% gedaal het. Daar is dus hoop, maar dit bly ’n enorme uitdaging omdat die voorkoms van borskanker geweldig toeneem.

Dit het die afgelope tien jaar verdubbel.

’n Positiewe liggaamsbeeld

Dr. Clare Neser, rekonstruktiewe en plastiese chirurg aan die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, verduidelik ’n mens se beeld van jou eie liggaam begin reeds as baba en kleuter vorm. Dit word verder beïnvloed wanneer jy ’n tiener is en soos jy ouer word, pas dit weer aan.

Dr. Clare Neser, rekonstruktiewe en plastiese chirurg, in haar spreekkamer in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal. Foto: Elsabé Brits

’n Vrou se beeld van haarself, haar omgewing en ondersteuningsnetwerk voordat sy met borskanker gediagnoseer word, speel ’n groot rol in hoe sy die nuus hanteer.

Sommige vroue en kulture heg meer waarde aan fisieke vroulikheid, soos lang hare, en dié waardes kan weer gekoppel word aan seksualiteit.

Neser praat in haar spreekkamer ’n week of wat nadat sy en dr. Conrad Pienaar, en ander chirurge, Cecelia Jacobs geopereer het.

’n Mastektomie is gedoen en daarna is ’n borsrekonstruksie gedoen deur Jacobs se eie abdominale vet met die gepaardgaande bloedtoevoer in die bors oor te plant.

Sy sê baie vroue kan lank ná die operasie nie vir hulself in die spieël kyk nie. Vir talle is die haarverlies swaar, veral omdat die pasiënt haar wenkbroue ook verloor, vir ander nie.

Elke vrou ervaar die verandering aan haar voorkoms anders, maar dit bly ’n dramatiese verandering wat jou lewe op sy kop draai. Ongeag op watter behandeling besluit word – om ná borskankerbehandeling gewig te verloor is baie, baie moeilik. Hetsy weens die teenhormoonbehandeling wat jou dadelik in menopouse sit, of die chemoterapie en steroïede.

Daar is baie newe-effekte en dit is nie maklik om daarmee saam te leef nie.

“Met elke vrou probeer ons verstaan wat vir hulle saakmaak en hoe hulle dit ervaar. Wat ek wel kan sê, is dat ’n goeie ondersteuningsnetwerk en organisasies soos Reach for Recovery geweldig baie help. Moet ook nie jou diagnose vir jou lewensmaat, familie of kinders wegsteek nie. Bring hulle saam dokter toe. Ek glo ook regtig dat dit help as ’n sielkundige jou bystaan.

“Littekens word minder prominent – veral ná twee jaar. Dit is die onbekende wat moeilik verwerk word,” sê Neser.


* In die volgende aflewering, ook die laaste artikel in dié reeks, lees jy oor hoop en heling. Jacobs is uit die hospitaal ontslaan, sterk tuis aan en is gereed om met verdere behandeling te begin.

* Lees die vorige twee uitgawes in Cecelia Jacobs se verhaal hier:

Deel 1: BORSKANKER: 'DIT GEBEUR MET VROUE SOOS EK EN JY'

Deel 2: 'N NUWE BORS IN 9 UUR

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier