Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker: Só lyk die mites en feite

Hoewel daar baie inligting oor borskanker beskikbaar is, is daar steeds wanopvattings. Tasneem van Rooyen gesels met kenners hieroor.

Borskanker raak vroue van alle ouderdomme, rasse en sosio-ekonomiese omstandighede,” sê prof. Jackie Smilg, voorsitter van die Borsbeeldingvereniging van Suid-Afrika (BISSA), ’n sub­spesialiteitsgroep van die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika (RSSA).

“So skrikwekkend as wat ’n kankerdiagnose is, is die goeie nuus dat moderne mediese vooruitgang en vroegtydige sifting en diagnose daartoe lei dat meer pasiënte oorleef, en dat pasiënte kanker kan klop met minder aggressiewe en indringende behandeling,” sê sy.

Maar, al bestaan daar moderne tegnologie om bystand te bied met die behandeling van kanker, is daar steeds verskeie wanopvattings wat die ronde doen.

Wanneer jy nie self kanker ondervind het, of nabye kontak het met iemand wat daardeur gaan nie, het jy oor die algemeen baie min kennis oor waarom en wie kanker kry, of wat behandeling behels, meen dr. Rika Pienaar, onkoloog by Cancercare Panorama.

“Selfs al is borskanker so algemeen en word dit wyd in die media gedek, is daar steeds baie wanopvattings daaroor,” sê sy.

Hier is die algemene mites en feite volgens dr. Pienaar

Mite: As ek nie ’n familielid met borskanker het nie, is dit onwaarskynlik dat dit met my gaan gebeur.

Feit: Die meeste pasiënte wat gediagnoseer word, het nie ’n familiegeskiedenis van borskanker nie en is dus heeltemal sporadies.

Volgens dr. Pienaar dink mense dikwels dat borskanker hoofsaaklik ’n oorgeërfde siekte is, maar slegs 5 tot 10% van borskanker is oorgeërf. Dit word dus veroorsaak deur ’n mutasie op seker gene wat oorgeërf word van die ouer na die kind. Sporadiese borskanker kom dan meestal voor in vroue namate hulle ouer word.

Mite: Die dra van ’n draadbra kan borskanker veroorsaak.

Feit: Daar is geen bewys dat ’n draadbra borskanker veroorsaak nie. Daar is ’n teorie dat ’n draadbra die limfdreinering van die bors beperk, wat lei tot die ophou van die toksines in die borsweefsel. Maar, ’n studie in 2014 van ongeveer 1 500 vroue kon geen verband toon tussen die dra van ’n draadbra en borskankerrisiko nie.

Voordat jy ekstra stres op jouself plaas oor borskanker, maak seker dat jy die feite van die mites skei. Foto: iSTOCK

Mite: Die gebruik van onderarm- sweetweerders kan borskanker veroorsaak.

Feit: Daar is geen bewys van ’n verband tussen onderarm-sweetweerders en borskankerrisiko nie.

Daar word dikwels gerapporteer dat onderarm-sweetweerders, veral die tipe wat alumi­nium bevat, geabsorbeer word in die limfkliere en gevolglik borskanker veroorsaak. Daar is wel bewys dat vroue wat sweetweerders met aluminium gebruik, hoër vlakke van aluminium in die borsweefsel kan hê. Daar is egter nie ’n verband met borskanker gevind nie. Die algemene veiligheid van sweetweerders word steeds ondersoek.

Mite: Deur gesond te leef kan ek borskanker oorkom.

Feit: ’n Gesonde leefstyl sal jou borskankerrisiko baie verlaag, maar dit kan nie borskanker heeltemal uitskakel nie.

Om gesond te lewe, gereeld te oefen en nie te rook of alkohol te gebruik nie, sal beslis jou risiko vir borskanker baie verlaag, maar dit is steeds belangrik om selfondersoek en mammogramme te laat doen volgens die rig­lyne.

Mite: Borskankersimptome is ’n tasbare knop in die bors.

Feit: Borskanker kan homself op verskeie maniere openbaar en is aanvanklik nie tasbaar nie.

’n Selfondersoek kan nie ’n mammogram vervang nie. Borskanker kan presenteer as:

* nie-tasbare mikroverkalkings in die borsweefsel;

’n tasbare knop in die bors of in die oksel;

’n tepelverandering of tepelafskeiding;

’n kuiltjie in die vel;

inflammasie van die bors;

* verandering in die grootte van die bors; en/of

pyn in die bors.

Meer oor:  Feite  |  Borskanker  |  Mites
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.