Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borskanker deel 4: Soms moet jy net deur die volgende uur kom
Daar is dae dat sy net huil en wonder “hoe lank ek nog gaan leef en ander dae dat ek myself troos en sê: Alles sal regkom . . . Kanker is ’n vreemde siekte.”.
’n Maand ná haar mastektomie en borsrekonstruksie gesels Cecelia Jacobs oor die pad wat sy reeds geloop het, en wat nog voorlê. Foto: Elsabé Brits

Cecelia Jacobs van Kaapstad, wie se verhaal Netwerk24 al die afgelope dae in drie aflewerings vertel het, gesels in die woonstel wat sy met twee van haar kinders deel.

Met dié onderhoud einde September was dit ’n maand sedert sy ’n mastektomie en borsrekonstruksie ondergaan het by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal.

Die pyn die derde dag ná die operasie was vir haar erger as om geboorte te gee aan vier kinders.

Die seerste is waar 14 limfkliere, veral onder haar arm, uitgehaal is. “My arm is steeds half dood en daar is ’n effense infeksie in die bors. Dit is baie geswel en vloeistof het opgebou, dit voel en lyk asof ek ’n tweede bors het.”

Die chirurge het van die limfkliere in dié area uitgehaal omdat een van die kliere positief vir kanker getoets het tydens die operasie.

Die vloeistof het so opgebou omdat die limf sukkel om te dreineer nadat die kliere verwyder is.

“Ek was geskok om te sien hoe die nuwe bors sonder ’n tepel lyk, al het ek geweet dit wag,” sê sy. Sy sal self moet betaal om ’n nuwe tepel te laat konstrueer tydens ’n klein prosedure oor sowat ses tot nege maande en om ’n areola te laat tatoeëer.

“My grootse vrees is dat die kanker in elk geval verder versprei het. Dat hulle nie alles gekry het nie. Hoe lank kan ’n mens dit keer? Hoe lank kan jy leef?”
Cecelia Jacobs

Vir die eerste keer sedert ek haar in Augustus ontmoet het en sy ingestem het om haar verhaal te deel, skiet haar oë vol trane.

Intussen het sy ’n skandering van die hele liggaam (uitgesluit die skedel) ondergaan, waartydens die pasiënt ’n middel drink wat kanker op die skandering sal uitwys.

“Hulle het gesê geen meetbare kanker is gevind nie, ook nie in die bloedtoets nie. Maar niemand kan eintlik sê jy is kankervry nie – kan hulle?

Cecelia Jacobs kyk na die uitslae van die toetse nadat sy geopereer is en die inligtingstukke waarop die dokters vir haar geskryf en verduidelik het hoe die behandeling vorentoe gaan lyk. Foto: Elsabé Brits

“My reis begin nou eers. Die volgende deel is deurslaggewend,” vertel sy terwyl sy die dokumente en toetsuitslae wys waar die onkoloog, dr. Johann Raats, vir haar die opsies verduidelik het. Dit lyk asof teenhormoon-behandeling vir haar die beste gaan wees, saam met chemoterapie.

Sy hoef nie radioterapie te kry nie.

Intussen het haar mediese fonds die betaling van die genetiese toets (OncotypeDX) afgekeur. Dit kos meer as R30 000 vertel sy, en sy het eenvoudig nie die geld om dit self te betaal nie. Dié toets, asook die toets MammaPrint, gee ’n aanduiding of ’n spesifieke pasiënt chemoterapie nodig het of nie.

Die mediese fonds het wel die chemoterapie en die teenhormoonbehandeling goedgekeur. Jacobs het “so gehoop hulle sou die genetiese toets goedkeur, want dalk sou dit gewys het ek het nie chemoterapie nodig nie . . . of dalk kan dit my lewe red. Ek is so bang en onseker oor wat om te doen.”

Haar eerste behandeling begin vandeesweek, as sy besluit om daarmee voort te gaan.

“My vroulike identiteit is nou verweef met my lang hare. Ek het reeds ’n groot stuk afgesny en geskenk, maar om alles te verloor gaan baie, baie swaar wees. Dit maak my baie bang.”
Cecelia Jacobs

Twee dae nadat sy sy gehoor het sy het borskanker, het sy ook gehoor haar vriend van vier jaar is betrokke by ’n ander vrou. Sy het hom dadelik verlaat. “Ek dink nie ek sal ooit weer ’n ander siel vertrou nie, ek sal nie kan nie. Boonop wil hy nou niks erken nie. Daardie afsluiting sal ek in myself moet kry, want dit gaan nie van hom af kom nie.

“Tog dink ek ook dat ek die breuk makliker hanteer het omdat ek gehoor het ek is siek. Die kanker was en is belangriker.”

Jacobs sien uit na haar eerste kleinkind wat in November gebore word. Sy hou daaraan vas op dae dat sy swaarkry.

Ná die operasie het sy wel ’n mooi plat maag en al haar rekmerke is weg.
(Weefsel is uit haar abdomen geneem om die nuwe bors te vorm.)

“Ek kan nou ’n tweestuk op die strand dra. My naeltjie is so mooi, my maag lyk soos jong meisie s’n,” sê sy.

Dit gaan tyd verg voordat sy gewoond is aan haar nuwe bors. Dit is nog te ongemaklik, seer en anders.

Sy het in ’n kort tydperk baie verander. En sy gaan nog verander.

Sy is deesdae baie meer bewus van negatiewe gedagtes. “Ek probeer dit wat negatief is isoleer, ek probeer om daarmee te werk. Dit om te swaai.

“Ek is baie dankbaar vir alles. Daar is altyd iets goed saam met die slegte.”

Die toekoms hou geen waarborge vir Jacobs in nie. Heling en hoop berus by die feit dat sy elke dag deur dáárdie dag moet leef.

En soms, van een uur tot die volgende, in die oomblik.


* Lees al drie vorige uitgawes van dié verhaal hier:


Deel 1: BORSKANKER: 'DIT GEBEUR MET VROUE SOOS EK EN JY'

Deel 2: 'n NUWE BORS IN 9 UUR

Deel 3: BORSKANKER: OMMEKEER IN BEHANDELING BRING GROOT HOOP

BESKERM JOUSELF MET HIERDIE WENKE:

Alkohol veroorsaak kanker, en hoe meer jy drink, hoe groter is die risiko. Selfs drie drankies per week kan jou kanse met 15% verhoog.

Moenie rook nie, veral ná menopouse.

Beheer jou gewig, as jy ná menopouse 10 kg of meer afskud, verlaag jy jou kanse om kanker te kry met 60%.

Wees aktief, oefen 150 minute per week, al stap jy net vinnig genoeg dat jy liggies sweet. Of doen 75 minute se aërobiese oefeninge.

Borsvoed jou baba, dit beskerm teen borskanker en is goed vir die kind.

Beperk hormoonvervangingsterapie tot die laagste moontlike dosis vir die kortste tydperk.

Jou kanse is groter as jy aan lig blootgestel is in die nag, of in die nag werk, soos lugwaardinne, verpleegsters of enige ander skofwerker.

Ondersoek jou borste en let op na veranderings in die vel, tepel, afskeidings en enigiets vreemd. Vra jou dokter wanneer jy vir ’n mammogram en sonar moet gaan en hoe gereeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier