Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Borsmelk bly die beste

Wêreldborsvoedingsweek word jaarliks van  1 tot 7 Augustus gevier. Daar word nie verniet na borsmelk as ‘vloeibare goud’ verwys nie, skryf dieetkundige Liezel Engelbrecht.

Borsmelk kry nie altyd die aandag wat dit verdien nie. As ’n mens wil sinies wees, sal jy kan sê dis omdat daar nie soveel geld uit borsmelk gemaak kan word soos met melkplaasvervangers nie. Die feit bly egter onbetwisbaar dat daar geen ander vloeistof is wat soveel voordele vir die mens inhou nie.

Interessante feite oor borsmelk

borsvoeding

Korttermynvoordele vir die kind

  • Kolostrum, die heel eerste gelerige melk wat vervaardig word kort ná geboorte, bevat soveel teenliggaampies en beskermende eienskappe, dit word beskou as jou kind se eerste inenting.
  • Kinders jonger as twee wat geborsvoed word, het ’n kleiner kans om akute oorinfeksies te kry.
  • ’n Meta-analise van ses hoëgehalte-studies het gewys dat borsvoeding verbind word met ’n 36% verminderde risiko van skielike babasterftes, ook bekend as wiegiedood.
  • Borsvoeding word verbind met ’n verminderde risiko van lugwegsiektes soos asma in vergelyking met kinders wat nie geborsvoed word nie.
  • Borsvoeding verminder die kanse dat jou kind diarree sal kry. Daar word beraam dat tot 72% van kinderhospitaliserings as gevolg van diarree voorkom kan word deur borsvoeding.

Langtermynvoordele vir die kind

  • Verskeie studies toon dat kinders en tieners wat geborsvoed is, beter presteer in IK-toetse (’n gemiddelde van 3,4 punte) in vergelyking met kinders wat glad nie of slegs vir ’n kort tydperk geborsvoed is.
  • Kinders wat geborsvoed word, het ’n verminderde risiko van ongeveer 24% tot 35% vir die ontwikkeling van tipe 2-diabetes.
  • Op grond van 113 studies is gevind kinders wat vir ’n langer tydperk geborsvoed word, se kanse is ongeveer 13% tot 26% minder om oorgewig of vetsugtig te raak in vergelyking met kinders wat glad nie of slegs vir ’n kort tydperk geborsvoed is.

Voordele vir die ma

  • Vroue wat borsvoed is meer geneig om terug te keer na die gewig wat hulle was voor die swangerskap, in vergelyking met vroue wat nie borsvoed nie.
  • Vir elke 12 maande wat ’n vrou borsvoed, verminder haar risiko met minstens 4,3% om indringende borskanker te kry.
  • Vroue wat borsvoed se kanse om servikale kanker te ontwikkel is tot 30% minder. Hoe langer die borsvoedingstydperk is, hoe groter is die beskerming wat dit bied.

Benewens die fisiologiese voordele, bied borsvoeding ’n geleentheid om ’n band met jou kind te vorm. Boonop is dit ’n omgewingsvriendelike keuse.

Borsvoeding is ’n natuurlike handeling, maar ook aangeleerde gedrag. Dis ’n vaardigheid wat jy en jou kind albei moet aanleer. Daar is betroubare internetbronne en organisasies wat jou kan ondersteun.

  • Aanvullende bron: Victora, Cesar G et al. “Breastfeeding in the 21st Century: Epidemiology, Mechanisms, and Lifelong Effect.” The Lancet (British edition) 387.10017 (2016):475-490 (https//:ai.umich.edu).

Handige webtuistes: www.sidebyside.co.za; www.worldbreastfeedingweek.org; www.lllsa.­org en www.100percentbreastfed.co.za.

Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerd dieetkundige van Kaapstad. Besoek www.liezelthedietitian.com. Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie. Besoek www.adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou omgewing.


Ondersteun dit

Daar is dikwels sensitiwiteit rakende borsvoeding, met baie mense wat glo dat om borsvoeding te ondersteun beteken dat jy ma’s wat formulemelk kies, wil laat skuldig voel.

Dit is egter nie die punt nie. Of jy nou geborsvoed is as kind of nie, jy jou baba geborsvoed het of nie, of as jy vriende het wat geborsvoed het of nie: om borsvoeding te ondersteun gaan nie nét oor die voordele vir jóú en jóú baba nie.

Dit gaan ook oor hoe borsvoeding ander babas kan ondersteun wat dikwels die meeste afhanklik is van die immuniteitsvoordele en voedingsvoordele wat borsmelk kan bied. Vir baie babas is die opsies nie tussen borsmelk en formulemelk nie, maar tussen borsmelk en alternatiewe soos verdunde formulemelk of suikertee, in ’n tydperk van hul lewens wanneer hul breine en liggame die meeste ondersteuning vir groei en ontwikkeling benodig.

Na raming kan optimale borsvoeding (sien kassie hiernaas) jaarliks meer as 820 000 lewens red.

Daar is egter baie redes waarom vroue kies om nie te borsvoed nie. Van dié redes sluit in dat sommige glo hulle het nie genoeg melk nie; druk om te bottelvoed of verkeerde inligting van vriende of familie; formulevoeding word soms beskou as makliker omdat die pa dan ook kan help met bottels gee; ma’s kry nie altyd die nodige ondersteuning van gesondheidswerkers tydens swangerskap en ná geboorte nie; daar bestaan steeds ’n wanopvatting onder sommige mense dat formulemelk beter of net so goed as borsmelk is; ma’s wat moet terugkeer werk toe waar borsvoeding nie ondersteun of genormaliseer is nie; vroue wat bekommerd is dat hulle nie meer as aantreklik beskou word deur hul mans as hulle borsvoed nie.

Nageboortedepressie is ook ’n algemene verskynsel wat ’n invloed op ’n ma se borsvoedingsbesluite kan hê. Dit is dus ingewikkeld en nie altyd net die ma se besluit of sy gaan borsvoed of nie – ’n ma word beïnvloed deur ’n klomp faktore waaroor sy nie altyd beheer het nie, of wat haar keuse subtiel beïnvloed.

Daarom is vanjaar se tema vir Wêreldborsvoedingsweek so gepas: die verantwoordelikheid van borsvoeding moet gedeel word. Oumas, oupas, pa’s, vriende, gesondheidswerkers, werkgewers en gemeenskappe het almal ’n verantwoordelikheid om ma’s te ondersteun in dié besluit en taak, wat dikwels nie maklik of sonder sy persoonlike opofferings en uitdagings is nie. Ondersteuning van borsvoeding gaan dus nie daaroor om verdeeldheid te skep nie, maar eerder om bewusmaking te skep vir die fisiologiese, emosionele en omgewingsvoordele daarvan. Dit beteken dat meer vroue die inligting en ondersteuning kan kry om te borsvoed sodat hulle ingeligte besluite kan neem.

Die gesegde lui: jy benodig ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. Dit maak sin om met die ondersteuning van borsvoeding te begin.


Eksklusief borsvoed

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat ma’s eksklusief borsvoed vir die eerste ses maande van die kind se lewe en dan gepaste vaste kos insluiten volhou om te borsvoed totdat die kind twee jaar of ouer is. Eksklusiewe borsvoeding beteken dat jy niks ander vloeistowwe of vaste kosse gee nie. Die enigste uitsondering is medisyne wat jou dokter voorgeskryf het of orale rehidrasie as jou baba gedehidreer is.

Het jy geweet?
  1. Borsmelk bevat al die voedingstowwe wat jou baba nodig het, in die regte hoeveelhede, vir die eerste ses maande.
  2. Die samestelling van borsmelk verander namate die baba groei om aan te pas by die baba se behoeftes.
  3. Volgens die Suid-Afrikaanse arbeidsreg is vroue vir die eerste ses maande ná geboorte geregtig op twee 30-minuut borsvoedingspouses (vir melk uitpomp of borsvoeding) bo en behalwe hul normale etens- en/of teetye.
Meer oor:  Borsmelk  |  Borsvoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.