Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Breek die stigma en beywer jou vir psigiese welstand

Oktober is beslis die mooiste maand met bewusmaking oor verskeie gesondheidsfokusse, onder meer psigiese gesondheid. Belinda Jackson het met kenners gesels oor die stigma wat aan psigiese ongesondheid kleef.

Psigiese ongesteldheid word deur die brein veroorsaak en het dieselfde status as enige biologiese siekte wat ’n besoek aan ’n dokter genoodsaak. Foto: ISTOCK

Kenners is dit eens dat psigiese ongesondheid ’n biologiese toestand is, net soos hipertensie, diabetes of ’n hartkwaal - siektes waarvoor jy dikwels dadelik ’n dokter gaan spreek om gesond te word of om jou siekte te behandel.

“Psigiese ongesondheid word deur die belangrikste orgaan in jou liggaam – die brein – veroorsaak, en soos in die geval van die ander biologiese siektes hierbo genoem, is jy siek en moet jy dus dokter toe gaan vir behandeling of om die siekte te beheer,” sê prof. Lizette Rabe van die Universiteit Stellenbosch (US) en stigter van die Ithemba-stigting vir die bewusmaking van depressie en verwante toestande.

Tog word lyers van een of ander psigiese ongesondheid steeds beskou as iemand wat “anders” is, as abnormaal, daar is “iets verkeerd” met jou, jy is nie reg in jou kop nie, en word gevolglik misverstaan, soms met dodelike gevolge.

Watter toestande dui op psigiese ongesondheid?

Volgens Janine Roos, direkteur van die Psigiese Gesondheidsinligtingsentrum by die US se Tygerberg-kampus wat ook deel vorm van die Mediese Navorsingsraad en die Universiteit van Kaapstad, sluit dit onder meer toestande in soos gemoedsteurings (bv. depressie en bipolêre steuring), angssteurings, eetsteurings, middelafhanklikheid/-misbruik, psigoseksuele steurings, skisofrenie en persoonlikheidsteurings.

“Hierdie toestande val onder psigiatrie, die mediese spesialiteit wat gemoeid is met die sentrale senuweestelsel se funksies, en behels die voorkoming, herkenning, diagnosering en behandeling van psigiatriese siektes,” verduidelik Janine.

Cape Mental Health (CMH) in Observatory identifiseer drie hoofkategorieë van psigiese ongesondheid.

“Ons by CMH fokus op drie hoofkategorieë, naamlik intellektuele gestremdheid, psigo-sosiale gestremdheid en algemene psigiese welstand. Voorbeelde van hierdie kategorieë sluit in depressie, angssteurnisse, post-traumatiese stresversteuring en skisofrenie,” sê Dylan Oktober, kommunikasiebestuurder by CMH in Observatory.

Wat is die belangrikste simptome van psigiese ongesondheid?

“Dit is meestal moeilik om sommer te kan bepaal of ’n pasiënt een of ander psigiese ongesteldheid onder lede het deur slegs na die persoon te kyk, aangesien elkeen eiesoortige simptome openbaar,” sê Dylan.

Prof. Rabe noem ’n paar klassieke simptome. Dit is byvoorbeeld belangrik om te besef dat jy waarskynlik depressie het as jy langer as twee weke

* hartseer, angstig of “leeg” voel;

* sukkel om te konsentreer of te onthou;

* besluiteloos is;

* moeg en sonder energie is, waardeloos, hopeloos, negatief, prikkelbaar en desperaat voel;

* nie kan slaap nie, of sleg slaap, of te veel slaap;

* geïrriteerd en rusteloos voel;

* wanneer niks meer interessant is nie;

* jy te veel of te min eet; en

* jy selfs al onwillekeurige selfdoodgedagtes ervaar. Maak asseblief onmiddellik ’n afspraak met jou huisdokter.

Watter behandeling word aanbeveel om psigies gesond te kan word?

Ons kenners stem saam dat die belangrikste vereiste is om by jou huisdokter uit te kom vir ’n behoorlike assessering, diagnosering en behandeling, wat ’n kliniese sielkundige en psigiater kan insluit.

“Waak net teen selfdiagnosering via Google omdat verskeie fisieke toestande uitgeskakel moet word voordat ’n korrekte diagnose gemaak kan word,” maan Janine. Behandelings sluit in medikasie en verskillende vorms van psigoterapie.

Vanwaar die stigma wat met psigiese ongesondheid gepaard gaan?

“Weens eeue-oue indoktrinering, dikwels ook by godsdienstige groeperinge, hoofsaaklik weens onkunde en onbegrip dat jou toestand deur jou brein veroorsaak word, het ons mensdom eenvoudig nie die sindroom as ’n siektetoestand gesien nie, maar ‘dat daar iets verkeerd is met jou’, en baie dikwels, dat daar iets met jou ‘gees’ verkeerd is. Ja, natuurlik is daar ‘iets verkeerd’ met jou: Jy is siek; jy het ’n kliniese, biologiese siekte, en as jy nie iets daaraan laat doen nie, kan dit dalk selfs lewensgevaarlik ontwikkel,” beklemtoon prof. Rabe.

Eloise Prinsloo, kommunikasiebestuurder van Life Path Health- psigiese gesondheidshospitale, stem saam dat ’n psigiese toestand soos depressie of angs nie verskil van enige ander fisieke ongesteldheid waarvoor jy ’n mediese dokter sal spreek nie. “Die pasiënt behoort nie skaam of skuldig te voel om ’n psigiater te spreek nie. Die besoek behoort net so algemeen te wees as vir iemand wat ’n dokter gaan spreek oor ’n harttoestand of diabetes. Tog is mense bang oor die sosiale stigma dat daar iets verkeerd is met jou kop, so jy bly liewer weg en jou toestand gaan agteruit. Jy word nie in die werksplek aangemoedig om oor jou psigiese toestand te praat nie, dus swyg jy,” sê Eloise.

Hoe kan jy help om die stigma te breek?

“Jy kan begin deur eerstens op te hou om na psigiese gesondheid te verwys as geestesgesondheid. Dit is juis een van daardie woorde wat stigma verdiep. Dan moet jy ook kennis daaroor opdoen, want kennis is mag,” beklemtoon prof. Rabe.

Vergewis jou van die simptome, praat met ’n goeie vriend of ’n vertroude familielid oor jou toestand en maak hulle sodoende bewus waardeur jy gaan, voeg Janine by.

Raak betrokke by inisiatiewe soos die jaarlikse Hoop Hike en Hoop Bike om bewusmaking te kweek dat psigiese siektes kliniese, biologiese siektes is, om sodoende die stigma en stilte daaroor te breek. Die Kaapse been van dié inisiatief (3 km, 5 km en 10 km en die 25 km bergfiets-prettrap) begin juis vroeg by Blaauwklippen in Stellenbosch op Sondag 13 Oktober en sluit af om 10:00, met gelukstrekkings en pryse soos onder meer Dana Snyman se nuwe boek, Soekmekaar, wat hy ook aan wenners sal oorhandig, en van sy Swarthond-produkte om ook bewusmaking te kweek.

“Cape Mental Health moedig ook pasiënte aan om hul stories te deel en so eerstehandse bewusmaking te bied en ’n samelewing te skep wat almal insluit, ongeag hul siektes en gestremdhede,” meen Dylan.

Doen jou deel om die stigma te breek!

Ken jy dié vyf tekens?

Jou persoonlikheid verander.
Jy word maklik kwaad en gefrustreerd.
Jy is angstig en onttrek jou van ander.
Jy sien nie meer na jouself om nie.
Jy voel hopeloos.

Depressie is ’n mediese siekte wat behandeling vereis en nie om soms sommer net teleurgesteld of hartseer te wees nie. Soos met ander siektes vereis dit terapeutiese en mediese professionele sorg. Die vroeë herkenning van simptome en die nodige behandeling kan ’n lyer se lewensgehalte verhoog – en dit kan lewens red, want net soos ander siektes, kan dit lewensgevaarlik word as dit nie behandel word nie.

Meer oor:  Depressie  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.