Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Diabetes: Dís wat jy moet weet

Diabetes is ’n siekte wat baie lewens raak, maar daar is steeds mense wat nie begrip het oor die erns van die siekte nie. Tasneem van Rooyen het meer gaan uitvind oor dié toestand.

Maak seker dat jy ’n gesonde leefstyl handhaaf om siektes soos diabetes te voorkom. Foto: iSTOCK

Diabetes is ’n siekte wat so algemeen is dat baie mense iemand ken wat daarmee saamleef.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is hierdie kroniese siekte besig om toe te neem in middel- en lae inkomste lande.

Diabetes speel ook ’n groot rol in die oorsaak van blindheid, nierversaking, hartaanvalle, beroertes en lae ledemaat-amputasie.

Dr. Colette Adams-Julies van Kaapstad beskryf diabetes as ’n toestand waar mense se bloedsuikervlakke hoog is en die suiker nie goed gemetaboliseer word nie.

Dit kan volgens dr. Johann Krüger, oftalmoloog by Tygervalley Eye and Laser Clinic, ook as ’n verhoogde bloedglukosekonsentrasie beskryf word.

“Indien die bloedsuikerkonsentrasie konstant of gereeld hoog is, kan daar baie komplikasies voorkom,” sê hy.

Soorte diabetes

Daar is volgens dr. Adams-Julies twee soorte diabetes.

  • Tipe 1 (word ook beskryf as insulien-afhanklik): Dit gebeur wanneer sekere selle (beta-selle) in die pankreas geen insulien produseer nie. Dit word meestal by kinders gediagnoseer en omdat hulle nie insulien het nie, kan hulle nie die suiker metaboliseer en dit vir energie gebruik nie.
  • Tipe 2 (word ook beskryf as nie-insulien-afhanklik): Dit gebeur oor ’n tydperk en word aangehelp deur verkeerde leefstylkeuses. Die siekte kom gewoonlik voor by mense wat oorgewig is met ongesonde leefstylkeuses; met ander woorde, mense wat te min insulien produseer vir hul suikerinname.

Simptome

Simptome by kinders is gewoonlik konstante dors, moegheid, oormatige urinering, gewigsverlies, naarheid en braking, verduidelik dr. Adams-Julies.

“Simptome by volwassenes sluit al die bogenoemde simptome in, sowel as droë mond, dowwe sig, wonde wat stadig genees, herhalende infeksies en pyn of gevoelloosheid in die bene,” sê sy.

Dr. Krüger sê dat dit oor die langtermyn ook tot verwante bloedvatprobleme kan lei, jou visie kan beïnvloed en ook ’n mens se lewensverwagting kan inkort.

Gaan besoek gereeld jou dokter om jou suikervlakke te laat toets sodat jy bewus kan wees van watter gesondheidsplan die beste vir jou sal werk. Foto: iSTOCK

Die rol van leefstyl

Jou leefstyl speel ’n baie belangrike rol as jy ’n diabeet is.

Volgens dr. Adams-Julies is dit veral belangrik in die voorkoming van diabetes.

“Swak eetgewoontes en leefstylkeuses kan lei tot die ontwikkeling van die siekte,” sê sy.

Sy benadruk dat ’n positiewe verandering in leefstyl een van die kritiese dele van voorkoming van diabetes is.

Wanopvattings

Een van die grootste wanopvattings van die siekte is die feit dat “suikersiekte” veroorsaak word deur die inname van suikerkorrels, sê dr. Adams-Julies.

“Dit is natuurlik nie waar nie. Dit is die menslike liggaam se vermoë om suiker te metaboliseer wat foutief is,” sê sy.

Volgens haar is daar ook ’n wanopvatting oor leefstyl en medikasie.

“Gewoonlik dink mense ook dat hulle kan voortgaan met ’n ongesonde leefstyl as hulle hul medikasie drink. Dit is nie waar nie, want ’n gesonde leefstyl (met ’n goeie dieet en oefening) is die belangrikste deel van die behandeling van dié siekte,” maan sy.

Gewoonlik dink mense ook dat hulle kan voortgaan met ’n ongesonde leefstyl as hulle hul medikasie drink.

Behandeling

Volgens dr. Krüger is die beheer van bloedsuikerkonsentrasie op ’n normale vlak die belangrikste faktor in die voorkoming van komplikasies as dit by diabetes kom.

Dr. Adams-Julies sê ook dat tipe 1-diabetes met insulien behandel moet word – dit word in die liggaam gespuit. “Tipe 2-diabetes is weer afhanklik van leefstylverandering, buiten die medikasie wat gegee word,” sê sy.

Voorkomende maatreëls

Vir tipe 2-diabetes is dit veral belangrik om gesond te leef, gereeld te oefen, jaarlikse toetse te laat doen vir vroeë diagnose en gewig te verloor as jy oorgewig is, meen dr. Adams-Julies.

Die volgende riglyne is ook baie belangrik vir diabete, sê dr. Krüger:

  • ’n Dieet gekontroleerd in koolhidrate en laag in vet en cholesterol.
  • Gereelde oefening.
  • Gereelde besoeke aan jou algemene praktisyn, internis, en endokrinoloog.
  • Bloeddruk moet streng gekontroleerd wees.
  • Moenie rook nie.
Meer oor:  Gesondheid  |  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.