Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Diabetes kán omgeswaai word

Tipe 2-diabetes kan in remissie geplaas en daar gehou word – geen simptome nie, geen medikasie nie, skryf Rochélle Human. 

Gewigsverlies deur bariatriese chirurgie kan tipe 2-diabetes in remissie plaas. Foto: iStock

’n Epidemie van tipe 2-diabetes staar die wêreld in die gesig. Die voorkomssyfer het volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor die afgelope vier dekades byna verdubbel.

Dit gaan hand aan hand met die vetsug-epidemie: ’n Ongesonde leefstyl lei uiteindelik daartoe dat die liggaam sy vermoë verloor om gesonde suikervlakke te handhaaf. Die pankreas, wat insulien vervaardig om suiker in die liggaam vir groei en energie te verbruik, raak uitgeput en gevolglik hoop suiker in die bloed op en word dit in die urine uitgeskei. Dit kan lei tot blindheid, hartaanvalle en beroertes, nierversaking en amputasies. Die WGO reken teen 2030 sal diabetes die sewende grootste sterfteoorsaak ter wêreld wees.

Die goeie nuus is: Tipe 2-diabetes (of sy voorloper, prediabetes) kán omgeswaai word. Soos kanker kan diabetes nie “genees” word nie, maar wel in remissie geplaas word, sê prof. Tess van der Merwe, vetsugkenner en navorser aan die Universiteit van Pretoria.

Die Amerikaanse Diabetesvereniging (ADV) definieer remissie as normale bloedsuikervlakke vir minstens ’n jaar sonder enige medikasie of voortgesette mediese prosedures. Dit kan volgens die ADV met bariatriese chirurgie, waar die maag verklein word sodat die persoon kleiner porsies eet, of leefstylingrypings soos gewigsverlies en oefening bereik word.

Groot sukses met chirurgie

In 2016 het 45 van die wêreld se voorste diabetesorganisasies, insluitend die Internasionale Diabetesfederasie (IDF), nuwe riglyne bekend gemaak waarin hulle chirurgie aanbeveel vir alle diabetes-pasiënte met ’n liggaamsmassaindeks (LMI) van 40 of meer, asook dié met ’n LMI van 30 en hoër wie se bloedsuikervlakke nie met medikasie beheer kan word nie.

Dit was ’n reuseskuif in die benadering tot diabetesbehandeling. “In die verlede sou dokters eers wag tot die pasiënt alle ander opsies uitgeput het voor hulle chirurgie aanbeveel. Nou sê ons hoe gouer, hoe beter,” sê Tess.

Bariatriese chirurgie is ’n sambreelterm vir prosedures wat iemand met vetsug se maag kleiner maak en só tot gewigsverlies lei. ’n Laparoskopiese gastriese omleiding het ’n 77%- volhoubare sukseskoers om diabetes om te swaai, en ’n BPD/DS-prosedure 99%.

Pasiënte gaan binne 24 tot 48 uur ná die operasie in remissie. Dit wys die prosedure se grootste impak is nie noodwendig gewigsverlies nie, maar hormonaal van aard, sê Tess.

Sy verduidelik dit só: “Die pituïtêre klier in die brein is die dirigent en die ander organe die orkes. Hierdie klier registreer jou mees onlangse gewig as normaal, maak nie saak of dit 100 kg is nie. Wanneer jy dan 10 kg tot 15 kg verloor, ervaar hy dit as ’n bedreiging, en stuur seine uit om jou eetlus te verhoog en jou metabolisme te vertraag.

“Dis ’n bose kringloop: Vetweefsel (wat ’n aktiewe orgaan is) en ’n pankreas wat te veel insulien afskei, stuur weer seine na die pituïtêre klier wat verkeerde meganismes teweegbring.

“Diëte misluk, want dit verander nie die pituïtêre klier se verkeerde werking nie. Tensy daardie seine na en van die brein reggestel word, kan jy maar dieet soos jy wil. Wanneer jy weer gewig aansit, is dit nie net jou wilskrag wat misluk het nie. Dis ’n fisiologiese drempel wat jy nie kan oorkom nie.

“Chirurgie reboot hierdie stelsel. As jy die groter kurwe van die maag omseil, verlam jy ook ’n hele klomp peptiede (molekules wat hormoonseine uitstuur). Gevolglik kommunikeer hulle anders met die aptytsentrum in die brein, asook die pankreas, en is dit weer moontlik om groot hoeveelhede gewig te verloor.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Chirurgie, Vetsug en Metabolisme (Sasso) verbeter 90% van mense met tipe 2-diabetes en prediabetes se toestand merkwaardig binne weke ná chirurgie: Hul bloedsuikervlakke normaliseer en hulle hoef nie meer medikasie of insulieninspuitings te gebruik nie.

’n Mens moet bysê dat die persoon ná die operasie ’n laekoolhidraat-, hoëproteïen-dieet met kleiner porsies moet volg met voorgeskrewe vitamienes en aanvullings om die risiko van wanvoeding en ernstige tekorte te voorkom.

“Die kanse op sukses (met chirurgie) is selfs hoër met prediabetes,” sê Tess. “Studies wys hoe vroeër die ingryping, hoe beter is jou kans om die toestand om te swaai.”

Bariatriese chirurgie is egter nie vir almal nie, waarsku dr. Adri Kok, ’n internis by die Netcare Union-hospitaal in Alberton. “Dit moet versigtig oorweeg word, aangesien geen chirurgie risikovry is nie.”

‘Probeer eerder bant’

Dr. Peter Hill, ’n metaboliese-sindroom-kenner in ’n private praktyk, meen egter dit is verregaande om ’n chroniese leefstylsiekte met chirurgie te behandel.

In 2002 het die diabetes-voorkomingsprogram (DVP), ’n groot Amerikaanse studie, getoon die oorgang van prediabetes na tipe 2-diabetes kan in 58% van gevalle met net gewigsverlies deur dieetaanpassings en meer oefening verhoed word.

’n Gesonde dieet is volgens hom ongetwyfeld die doeltreffendste ingryping om diabetes om te swaai, met oefening wat ’n kleiner rol speel.

Die Banting-ghoeroe prof. Tim Noakes prys huidige navorsing deur Virta Health, ’n spesiale aanlyn kliniek, oor die herstel van diabetes sonder chirurgiese ingryping of medikasie.

“Met die Banting-dieet en daaglikse kontak met ondersteuningspanne het hulle daarin geslaag dat 97% van deelnemers met tipe 2-diabetes wat insulien moes gebruik, behandeling daarmee kon staak of drasties verminder. Dit geld ander medikasie ook.”

Die bewyse vir die omswaai van prediabetes en tipe 2-diabetes met leefstylveranderinge en gewigverlies is volgens Tess egter min, en die studies daaroor is swak en ongekontroleer.

Die DVP-studie se resultate was net van toepassing op die studietydperk, nie noodwendig op lang termyn nie, sê Adri. Sy sê leefstylingrypings maak nie diabetes ongedaan nie, maar kan die persoon se metabolisme beter laat werk. “Die genetiese risiko, wat die grootste risikofaktor is, kan nie vermy word nie. Iemand met ’n familiegeskiedenis van diabetes het ’n kans van een uit vier om die siekte te ontwikkel.”

“Daar is egter baie anekdotiese bewyse dat dieet werk, insluitend van my eie pasiënte,” sê Peter.

Tim beweer hy is self so ’n geval en die laekoolhidraat-, hoëvet-Banting-dieet is die oplossing vir diabeteslyers.

“Oefening alleen sal nie diabetes omswaai as jy aanhou met ’n hoëkoolhidraat-dieet nie. Maar as jy daagliks net sowat 25 g koolhidrate inkry, sal oefening verder bydra tot beter bloedsuikerbeheer.

“Ek moes dit self leer – ek het tipe 2­diabetes ontwikkel al het ek 70 marathons en ultrawedlope gehardloop. Dit was in my gene.

“Iemand met tipe 2-diabetes kan in remissie gaan en daar bly solank hulle nie meer as 25 g tot 50 g koolhidrate per dag eet nie. Maar sodra hulle meer as 50 g koolhidrate eet, sal hul simptome terugkeer,” sê Tim.

Peter beveel ook ’n laekoolhidraat-dieet aan. Dit sluit verwerkte kos en groente-olies uit, maar nie noodwendig versadigde vette soos botter nie.

“Daar is geen bewyse dat versadigde vette verband hou met die ontwikkeling van diabetes nie.”

Om te vas is ook die sleutel. “Dit lyk asof vas moontlik pankreasselle kan hernuwe. En bariatriese chirurgie is niks anders nie as vas wat chirurgies afgedwing word.”

  • Bykomende bron: Harvard Health
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.