Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Die 8 sintuie wat jou rig
’n Kind “kruip weg” agter die optiese vesels in die Snoezelen-kamer.

’n Kind se woedeuitbarstings het dalk meer te doen met een van sy sintuie wat nie goed werk nie, as met onvergenoegdheid, skryf Landi Slatter en ontdek sensoriese integrasieterapie.

Raak jou kind histeries by klaspartytjies wanneer die ander maats gil en op en af spring? Of raak hy sommer woedend wanneer iemand per ongeluk aan hom stamp?

Jy dink dalk hy’s wanaangepas of sommer net humeurig. Maar elke sintuig wat ons het speel ’n belangrike rol om van jou ’n geïntegreerde individu te maak.

So byvoorbeeld kan die rede vir ’n kind se woedeuitbarstings so eenvoudig wees as dat hy sukkel om te balanseer. ’n Kind wat sukkel met sy balans, sal uitgesluit voel omdat hy sekere speletjies nie saam met sy maats kan speel nie. En omdat hy uitgesluit voel, kan hy emosioneel reageer met woede. Op dieselfde manier kan die oorsaak van ’n kind wat sukkel om te leer lees, dalk eerder spruit uit sigprobleme as dat hy dit nie verstaan nie.

Vir al hierdie kinders kan sensoriese integrasie-terapie of ’n multi-sensoriese terapie-omgewing (MSTE) dalk help.

Wat is sensoriese integrasieterapie?

Hierdie soort terapie is gegrond op hoe jou brein reageer op sensoriese inligting wat dit uit die omgewing of van binne die brein ontvang, verduidelik Jacoline Rudman, ’n arbeidsterapeut wat spesialiseer in sensoriese integrasieterapie.

Jou brein sal op seker sensoriese insette reageer en ook teen sekeres diskrimineer, sê sy. Volgens haar het die mens in werklikheid nie net vyf sintuie, maar agt.

Die bykomendes is:

  • propriosepsie, naamlik waar jou lyf hom in die ruimte bevind;
  • vestibulêre insette, jou lyf se “GPS’’, hoe jy beweeg, in watter rigting, hoe vinnig of stadig; en
  • interio-reseptore, dit is die reseptore in jou organe. Is jy honger of dors? Klop jou hart vinnig?
Die Snoezelen-kamer. Links agter is die borrelbuise, jy kan ook hier die waterbed en balpit sien.

Elkeen reageer op ’n spesifieke manier op sensoriese insette en dit kan oorspoel in ’n motoriese en sosiale aspek, daarom is dit so belangrik om akkurate sensoriese prosessering te hê, sê Jacoline .

’n Seuntjie kan byvoorbeeld sukkel om pouse sekere speletjies saam met sy maats te speel, want hy sukkel om te balanseer. “Klim en klouter word vir hom moeilik. Dit kan sosiaal ’n effek hê, want die maats verstaan nie hoekom hy nie wil saamspeel nie. Soms kan die kind dalk ook baasspelerig raak.”

Hierdie tipe terapie kan vir persone op die outismespektrum, mense met angsversteuring, aandaggebreksteurnis (AGS) en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) asook verstandelik gestremde persone gebruik word. Mense kan oorreageer of onderreageer, sê sy.

Jacoline gebruik die voorbeeld van ’n kind wat dalk AGHS én angs het en sensitief is vir klank, beweging en ’n ligte tassensasie-probleem het. “Die kind sal dalk in ’n klas wees met maats wat op en af spring en skree en een stamp dalk liggies aan hom. Dit kan opbou tot hy heeltemal ’n meltdown het.”

Kinders waar daar dalk diskriminasie betreffende sig plaasvind, sal byvoorbeeld sukkel om klein verskille in prentjies raak te sien en dit kan veroorsaak dat hy of sy dalk nie letters en woorde mooi kan raaksien nie. Dis nie noodwendig ’n leesprobleem nie, maar dalk eerder ’n sensoriese probleem.

“Elke geval is anders,” sê Jacoline.

Van babas tot volwassenes kan baat vind by sensoriese integrasieterapie en dit is op speel grond.

’n Seun lê in die balpit. Die arbeidsterapeut Elena Lewis sê dis ’n wonderlike manier om diepdruk oor jou hele lyf te ervaar en ook jou eie persoonlike kleur lig te kies.

Wat is MSTE-leer?

’n Ander vertakking van dié tipe leer is die multi-sensoriese terapie-omgewing.

Die Bellavista remediërende skool in Johannesburg het een van die voorste MSTE-kamers, die Snoezelen-kamer.

’n Arbeidsterapeut by die skool, Elena Lewis, sê die vertrek is ’n omgewing wat bestaan uit sensoriese stimuli wat gebruik word om die liggaam se regulasie en welstand dramaties te beïnvloed.

  • Die kamer is heeltemal neutraal (wanneer die kind, of werklik enige persoon, dit saam met ’n terapeut binnegaan. Hy kan dan self kies wat in die kamer gebeur, onder meer watter kleur hy wil hê die kamer moet wees, waarna hy wil kyk, soos die borrelbuis of die oneindige spieël (sig).

Hy het beheer oor sy gehoor deur te kies waarna hy wil luister, soos natuurklanke, stadige ritmiese musiek, vinnige musiek of selfs om sy eie stem op te neem en daarna te luister.

  • Wil hy op die warm waterbed lê, homself in die balpit toegooi, toerol in ’n sagte kombersie of die borreleenheid wat vibreer gebruik (propriosepsie en vestibulêre insette).

Hy kan kies aan watter speelgoed of taswiele (tactile wheels) hy wil vat, en of hy dalk wil voel hoe die optiese vesels voel (tas).

Die kamer kan ook ruik na laventel of sitroengras (reuk).

“Al die bogenoemde ondersteun ’n optimale geprikkelde toestand. Wanneer ons lyf homself kan reguleer, kan ons baie beter deelneem as wanneer ons nie gereguleer word nie,” vertel Elena. Die kamer word vir kinders en volwassenes, in skole, hospitale of ouetehuise gebruik om ’n hele gros diagnoses soos angs, kognitiewe uitdagings, chroniese pyn en demensie te behandel.

“Arbeids-, spraak-, fisio- en psigoterapie kan in die kamer plaasvind,” sê Elena. Dít juis omdat die persoon dan in staat is om behoorlik met die terapeut te kommunikeer omdat hul neurologiese toestand ondersteun word.

Anna Tyranes, hoof van die spraak- en taaldepartement by Bellavista, sê die omgewing help ook om die angs wat kinders met kommunikasieprobleme ervaar te verminder voor behandeling.

Wat kan jy by die huis doen?
’n Kind speel by die arbeidsterapeut Jacoline Rudman se praktyk in Garsfontein.

Jacoline en Elena stem saam dat dit eers belangrik is om jou kind se sensoriese profiel te bepaal en verstaan voor jy by die huis terapie probeer.

Elena sê jy kan ’n eenvoudige naglig (nightlight) koop of een maak deur ’n toiletrol te vat met plastiek oorgetrek en vorms ingeteken.

Skyn dan ’n flits van onder af en dit sal die ligveranderings in die Snoezelen-kamer namaak.

Jy kan ook ritmiese musiek van ’n foon af speel.

“Nog ’n voorbeeld is om ’n ‘baarmoeder’-ruimte te skep met ’n paar komberse of lakens waar julle kan wegkruip en na musiek van jou foon kan luister en met ’n speelding speel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.