Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Die akteur Beer Adriaanse: Sy pad met psoriase

Psoriase is in 2018 by Beer Adriaanse gediagnoseer.
Toe die akteur Beer Adriaanse skurwe kolle op sy voorkop opmerk, het hy nie gedink dis ’n oorerflike, ongeneeslike toestand nie. Totdat sy ma hom vertel het van haar psoriase, skryf Kelly Minnie.

Eers was daar net enkele skurwe kolle. Later kon ’n mens byna “skaak op my kopvel speel,” sê die akteur Beer Adriaanse spottend.

So vertel hy oor die velsiekte psoriase waarmee hy in 2018 gediagnoseer is. Dis ’n oorerflike siekte en sy ma, die skrywer Wilna Adriaanse, het dit ook.

“Ek het sulke skurwe kolle begin kry wat eenvoudig nie deur enige sjampoe of room bekamp kon word nie,” vertel hy.

Ek het sulke skurwe kolle begin kry wat eenvoudig nie deur enige sjampoe of room bekamp kon word nie.

Beer ag homself egter gelukkig, want hy’t eintlik ’n baie ligte vorm van die siekte. In die ergste vorm ontwikkel ’n mens reusagtige, skurwe kolle oor jou hele lyf, veral in die voue van jou vel, en doen uiteindelik ook inflammasie in jou gewrigte op.

Die siekte is in 2005 by Wilna gediagnoseer en sy ervaar ook pyn weens artritis. Sy kry nou ligbehandeling daarvoor.

Die siekte is ongeneeslik, maar daar is maniere om die simptome daarvan onder beheer te hou.

Spanning vererger dit aansienlik, vertel Beer. “Om egter vir iemand te sê om nie te stres nie, is soos om te sê pasop vir die wind. Stres is onsigbaar. Stres is orals,” sê hy.

Om sy eie stres te probeer verminder, volg hy Wim Hof, die ysman van Nederland, se asemhalingstegniek en gaan swem elke oggend in yskoue water.

Omdat psoriase so ’n opsigtelike aandoening is, veroorsaak dit ook dikwels selfbeeldprobleme. As akteur moes Beer eerlik wees daaroor – en gelukkig kan grimeerkunstenaars wondere verrig.

Beer Adriaanse en sy ma, die skrywer Wilna Adriaanse. Albei het die oorerflike velsiekte psoriase.
Wat is psoriase?

Dr. Suretha Kannenberg, ’n konsultant-dermatoloog by die Universiteit Stellenbosch, sê psoriase is ’n inflammatoriese veltoestand waar die selletjies vinniger verdeel as gevolg van genetiese boodskappers wat aangeskakel is.

“Dit skilfer dan nie af in die omgewing nie, maar pak aan. Hulle is taai, as mens dit so wil sien,” verduidelik sy.

Mense erf dit soms van die ouers oor of soms is dit ’n nuwe mutasie, voor of ná geboorte.

Suretha beaam dat psoriase ’n genetiese grondslag het. “Mense erf dit soms van die ouers oor of soms is dit ’n nuwe mutasie, voor of ná geboorte,” sê sy.

Psoriase kan dus by iemand gediagnoseer word sonder dat daar ’n teken daarvan in die persoon se familie is.

“Die ander ding om in gedagte te hou is dat ’n oupa of oupagrootjie miskien ’n letsel gehad het wat hulle nooit gepla het nie en dat hulle dus nooit gediagnoseer is nie,” sê sy.

Vir ’n jonger generasie pla die letsels dalk bietjie meer en die genetiese boodskappers is aangeskakel. Wat presies hierdie boodskappers aanskakel, is nie duidelik nie.

“Infeksies, (sekere) medikasies en stres tel wel onder die bevestigde snellers,” voeg sy by.

Waar kom psoriase voor?

Psoriase kom meer algemeen voor waar daar strekspiere is, soos by die knieë en elmboë.

Dit is ook algemeen op die kopvel, soos in Beer se geval.

Nog algemene areas is agter en in die ore, in die naeltjie en tussen die boude. Die Suid-Afrikaanse Psoriasestigting beskryf die bogenoemde voorbeelde as plaakpsoriase.

Omtrent 85% van mense met psoriase het hierdie tipe. Dit presenteer as dik, rooi kolle met ’n wit of silwer skilferlaag.

Die kolle is gewoonlik tussen 1 en 10 cm in deursnee, maar kan ook groter wees of op meer plekke op die liggaam voorkom.

Die kolle is gewoonlik tussen 1 en 10 cm in deursnee, maar kan ook groter wees of op meer plekke op die liggaam voorkom. Die graad van jou psoriase word bepaal deur watter persentasie van jou lyf met hierdie kolle bedek is.

Daar is ook minder algemene vorme.

Buigsame psoriase kom voor in die voue van die vel, soos onder jou arms of borste. Dit lyk steeds rooi, maar dis glad en blink en die vorm is dunner.

Kinders kry soms ná infeksies psoriase wat druppelvormig, klein en ver uitmekaar is.

Dit kom dan voor op die arms, bene en middellyf, en soms ook die gesig. Dit is gewoonlik nie so dik soos plaakpsoriase nie, maar dit kan daarin ontwikkel.

Psoriase manifesteer ook soms as klein puisies, of puisies wat rondom groter kolle voorkom.

Dis meestal op die hande en voete, maar kan oor die hele liggaam voorkom. In seldsamer gevalle kom psoriase op die gesig, onder die naels of selfs op die tong voor.

Suretha sê dit word al hoe duideliker dat psoriase nie net ’n veltoestand is nie. Mense met psoriase is meer geneig tot hartaanvalle, hoë bloeddruk, diabetes mellitus en vetsug.

Behandeling vir psoriase

Psoriase is ’n kroniese toestand wat ’n mens moet bestuur. As jy baie gelukkig is, verdwyn dit heeltemal, maar dis meestal lewenslank deel van jou bestaan, sê Suretha.

Volgens haar is daar baie verskillende behandelings.

Kortisoonsalwe word algemeen gebruik, asook ’n kombinasie van kortisoon en vitamien D-gegronde behandelings. Ligterapie (fototerapie) is by sekere dermatoloë beskikbaar.

Die National Psoriasis Foundation in die VSA verduidelik dat ligterapie die vel blootstel aan ultraviolet B (UVB), wat ook in sonlig is. Tydens die behandeling dring die lig deur die boonste lae vel en keer die selle om vinnig te vermeerder en verstadig só die simptome van psoriase. Suretha sê dit is suksesvol en veilig.

As ligterapie nie beskikbaar is nie, kan ’n bietjie sonlig ook baie help.

As ligterapie nie beskikbaar is nie, kan ’n bietjie sonlig ook baie help. Suretha waarsku egter dat ’n mens versigtig moet wees vir die Suid-Afrikaanse son.

Die golflengte wat dermatoloë vir ligterapie gebruik, is ’n baie veilige deel van die UVB-spektrum.

Son bevat egter (onder meer) die volledige spektrum UVA-, UVB- en sommer selfs nog UVC-strale ook. Infrarooi en sigbare lig vorm ook deel van die bestraling wat mens in natuurlike sonlig kry, wat kanker kan veroorsaak.

Die belangrikheid van vogrome moet ook nie onderskat word nie, dit help gereeld dat minder kortisoon nodig is.

As niks anders werk nie, word orale medikasie soos metotreksaat of siklosporien voorgeskryf. Volgens ’n Kroonstadse apteker word hierdie medikasie as ’n immuunonderdrukker gebruik. Dit keer dat jou velselle te vinnig vorm, wat dus die verspreiding van psoriase verstadig. Daar is egter moontlike newe-effekte, soos nierskade, en daarom word die medikasie onder streng toesig gebruik.

“Dan is daar ook nou nuwer medikasies beskikbaar wat biologiese middels genoem word. Hulle is gewoonlik baie doeltreffend, maar dit is duur tot baie duur,” sê Suretha.

’n Lewe met psoriase

Psoriase is eintlik ’n baie vreemde siekte, sê Suretha. Jy kry pasiënte wat dit net op een plek kry, maar dit pla hulle geweldig baie, terwyl ’n ander pasiënt se lyf oortrek is daarmee, maar dit veroorsaak nie ongemak nie.

Sodra jy presies weet waaroor die toestand gaan, kan jy werklik beheer daaroor hê.

Sy sê elke pasiënt moet sy psoriase baie goed leer ken. Sodra jy presies weet waaroor die toestand gaan, kan jy werklik beheer daaroor hê.

Sy beklemtoon weer eens dat vogrome nie onderskat moet word nie, veral in die winter omdat jy minder son kry, alhoewel sommige mense geen seisoenale veranderinge sal sien nie.

Alhoewel daar geen wetenskaplike bewyse is dat dieet- of leefstylveranderinge psoriase sal verbeter nie, kan dit voordelig wees om jou gewig onder beheer te hou, ’n gesonde dieet te volg en nie te rook nie om die risiko van gepaardgaande kardiovaskulêre siektes te verlaag.

Beer noem dat hy ’n vegetariër is en probeer om genoeg te oefen.

“My volgende stap sal seker wees om bietjie suiwel en verfynde koolhidrate uit my dieet te sny,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.