Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dié is die topvyf-kankers onder vroue

Kanker is een van die mensdom se mees gevreesde siektes en moet nooit ligtelik opgeneem word nie. Tasneem van Rooyen bespreek die onderskeie kankers wat algemeen onder vroue voorkom en die belangrikheid van gereelde mediese ondersoeke.

Borskanker is een van die mees algemene vorms van kanker onder vroue. Juis daarom word daar soveel bewustheid rondom hierdie siekte geskep. Dra in Augustus jou pienk strikkie en staan saam teen borskanker! Foto’s: iStock

Jy het kanker.” Niemand wil hierdie drie woorde hoor nie. Net soos enige ander siekte raak kanker egter nie net die persoon wat gediag-noseer word nie, maar ook hul geliefdes.

Jill Snyman, verpleegkundige en verpleegdiensbestuurder by die St. Helena Sandveld-hospies, sê die grootste ding wat vroue verhoed om hulle vir kanker te laat ondersoek, is vrees.

“Mense ken hul liggame. As hulle besef daar is iets fout, laat hulle nie onmiddellik daarna kyk nie, omdat hulle bang is vir die uitslae,” sê sy.

Volgens Jill ontstaan probleme wanneer mense toelaat dat hul toestand vererger voordat hulle ’n dokter gaan spreek. “Mense het ’n mentaliteit van hoe minder hulle weet, hoe minder pla dit hulle,” reken sy.

Jill lys vyf algemene kankers waarvoor vroue moet oplet:

1. Borskanker

Borskanker is een van die mees algemene kankers by vroue, dus is daar baie bewusmaking rondom die siekte.

Hierdie kanker word veroorsaak deur verdikte weefsel of ’n klont in die bors of onder die arm.

Fisiese simptome kan die volgende insluit: Die bors raak rooi of ’n uitslag ontstaan rondom die tepel, jou bors se vorm of grootte verander en daar is afskilfering van die bors of tepel.

Onthou, die meeste klonte is nie kwaadaardig nie, maar jy moet dit gereeld deur ’n dokter laat ondersoek.

2. Servikale kanker

In die vroeë stadiums van dié kanker mag daar dalk geen simptome wees nie. Dit is dus belangrik om vir gereelde ondersoeke te gaan.

’n Papsmeer kan servikale kanker help voorkom.

Algemene simptome sluit die volgende in: As jy bloei tussen menstruele siklusse en na seksuele omgang of as jy bloei na jou oorgangsjare, ’n vaginale afskeiding met ’n reuk of bloed, asook bekkenpyn.

As jy gereeld vir ’n doktersondersoek gaan, is die kanse groter dat die siekte vroegtydig opgespoor en genees kan word.Foto: iStock
3. Longkanker

Longkanker ontstaan wanneer longselle onbeheers begin groei. Dit kan in een of beide longe voorkom. Swelsel binne die long vererger mettertyd.

Primêre longkanker ontstaan in die long, terwyl sekondêre longkanker in ’n ander liggaamsdeel ontstaan en na die long versprei. Hierdie twee longkankers word apart geklassifiseer en verskillend behandel.

Simptome kan die volgende insluit: ’n Konstante gehoes, ’n verandering in hoe jy hoes, erge borspyn, onverklaarbare gewigsverlies en kortasem.

4. Kolonkanker

Hierdie kanker ontstaan in die dikderm. Daar is wel ’n moontlikheid dat die kanker nie kwaadaardig is nie.

As dit wel kwaadaardig is, kan dit versprei en ander liggaamsdele beskadig.

Algemene simptome sluit die volgende in: ’n Verandering in jou ontlastingspatroon, diarree of ’n verstopte maag, die gevoel dat jou maag nie leeg voel na ontlasting nie, bloed in ontlasting wat dit swart laat lyk, gedurige moegheid, onverklaarbare gewigsverlies, erge maagpyn en ’n gevoel dat jy versadig is, selfs al het jy nie geëet nie.

5. Baarmoederkanker

Hierdie kanker ontstaan in die baarmoeder en word ook endometriumkanker genoem.

Simptome sluit abnormale bloei tussen menstruele siklusse of na die oorgangsjare in. Sommige vroue ondergaan ook pyn wanneer hulle urineer of hulle vind dit moeilik om hul blaas leeg te maak.

Verder is daar onverklaarbare gewigsverlies, moegheid, naarheid en pyn in verskillende liggaamsdele soos die bene, die rug en die pelvis.

Meer oor:  Gesondheid  |  Borskanker  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.