Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dié ortodontiese behandelings laat jou glimlag

Ortodontiese behandeling verseker nie net mooi tande en ’n glimlag nie, maar help ook soms om ander tandverwante probleme reg te stel. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat dié behandeling behels.

Beide kinders en volwassenes kan ortodontiese behandeling ontvang, maar daar is wel verskillende soorte draadjies wat vir spesifieke pasiënte oorweeg word. Foto’s: ISTOCK

Volgens dr. Angela Harris, ’n ortodontis van die fakulteit tandheelkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, behels ortodontiese behandeling die gebruik van vaste en verplaasbare apparaat om skewe tande, wanbelyning van die kakebene en probleme met die funksie van tande reg te stel.

“Verskeie ander dissiplines word betrek om pasiënte holisties te behandel om tandheelkundige gesondheid en algemene gesondheid te bevorder.

“Dit sluit in perio­dontiste (vir onder meer tandvleisprobleme), kaak-en-mondchirurge (vir onder meer chirurgiese behandeling van wanbelyning van die kakebene, ontbloting of soms verwydering van tande), prostodontiste (vir byvoorbeeld kroon- en brugwerk asook kunsgebitte) en tandartse wat estetiese tandheelkunde beoefen om die pasiënt se voorkoms te optimaliseer,” sê dr. Harris.

Sy voeg by ander dissiplines buite tandheelkunde word soms betrek, soos plastiese chirurge, spraakterapeute en oor-neus-en-keelartse.

Wanneer benodig jy ortodontiese behandeling?

Dr. André de Villiers, ’n ortodontis in Dieprivier, sê jy ondergaan dit wanneer daar ’n funksionele probleem bestaan (dit is wanneer daar ’n wansluiting is – tande pas nie korrek opmekaar nie) of wanneer daar ’n kosmetiese of estetiese verbetering vereis of versoek word (gewoonlik skewe tande of ’n swak lip- of mondseël).

“Baie jong kinders tussen sewe en nege jaar oud benodig gewoonlik nie uitgebreide ortodontiese behandeling nie, maar voorlopige behandeling om merendeels funksionele probleme, byvoorbeeld kruisbyte of duimsuiggewoontes, aan te spreek.

“Die oorgrote meerderheid van pasiënte val in die 11- tot 14-jarige ouderdomsgroep.”

Diagnose vir ortodontiese behandeling

“Die sinoniem vir diagnose is ’n probleemlys. Om ’n probleemlys op te stel (diagnose te maak) is diagnostiese inligting, byvoorbeeld kliniese foto’s van die gesig (vooraansig en profiel) asook tande, spesifieke X-strale, byvoorbeeld Panorex en Kefalogram, studiemodelle (afdrukke of binnemonds geskandeer) nodig asook ’n kliniese ondersoek deur die spesialis-ortodontis,” sê dr. De Villiers.

Hy voeg by dat die behandelingsplan geformuleer word op grond van die diagnose (probleemlys). “Sekere aspekte van die diagnose kan dalk nie gekorrigeer word nie, maar moet sodanig aan die pasiënt gekommunikeer word. Elke pasiënt se probleem word individueel aangespreek en die ortodontis bestee tyd om die mees geskikte behandelingsplan uit te werk. Hier kom kennis en ondervinding nuttig te pas.”

Om vir draadjies of belyners te kwalifiseer, word kliniese foto’s van die gesig asook tande en spesifieke X-strale geneem.

Verskillende soort draadjies 

Dr. Harris sê hierdie is die verskillende soorte draadjies of belyner-opsies wat vir pasiënte kan werk:

  • Metaal- of deurskynende vaste apparaat (aanhegtings of draadjies): Dit bestaan uit aanhegtings wat op elke tand geplaas word, boogdrade wat op die aanhegtings geplaas word en gekleurde rekkies wat die boogdraad in die aanhegtings vashou. Metaal-aanhegtings word die meeste gebruik, maar deurskynende aanhegtings is ook baie gewild om estetiese redes.
  • Linguale apparaat: Dit is vaste apparaat wat agter die tande geplaas word en is dus onopsigtelik. Volwasse pasiënte of persone wat baie in die openbaar verskyn, byvoorbeeld musikante, is voorbeelde van pasiënte wat hierdie ortodontiese apparaat verkies.
  • Deurskynende belyningsplaatjies: Hierdie behandeling behels die ontwerp van ’n besonderse stel plaatjies vir die pasiënt deur middel van 3D-rekenaartegnologie. Dit kan net gedoen word om seker ortodontie­se probleme te behandel. Jou ortodontis sal tydens die konsultasie kan bepaal of belyningsplaatjies gebruik kan word vir jou bepaalde ortodontiese probleem. ’n Stel plaatjies word ontwerp, waarvan elke stel ongeveer twee weke voltyds gedra word, totdat die gewensde uitslae verkry word.
  • Verplaasbare plaatjies: Dit word dikwels by jong kinders gebruik en in pasiënte waar geringe of beperkte tandbewegings gedoen moet word.
  • Retensie-apparaat: Dit word gebruik nadat ortodontiese behandeling voltooi is om tande te stabiliseer vir die langtermyn.
  • Funksionele apparate is gewoonlik verplaasbare apparate wat gebruik word om groei van die kakebene in jong pasiënte te modifiseer. Dit word dus net vir sekere pasiënte aanbeveel.

Hoe lank neem behandeling?Hoe lank neem behandeling?

Dr. Harris meen die duur van behandeling wissel afhangende van baie faktore, insluitend die ouderdom van die pasiënt, of groei en ontwikkeling van die gesig nog plaasvind (kind of tiener), die ingewikkeldheid van die ortodontiese probleem en die pasiënt se samewerking.

“Gewoonlik is die gemiddelde tydperk 18 tot 24 maande vir volledige behandeling met ’n vaste apparaat en deurskynende belyningsplaatjies. Behandeling met verplaasbare plaatjies om minder gekompliseerde probleme te behandel, kan ses tot 12 maande duur. Ortodontiese behandeling kan dus enigiets van ses tot 30 maande en langer duur.

“Tydens die konsultasie en bespreking van die ortodontiese behandeling sal die ortodontis meer spesifieke inligting kan verskaf, aangesien elke pasiënt se probleem en dus die behandeling wat beplan word, eiesoortig is. Nadat die ortodontiese behandeling voltooi is, volg die retensie-fase. Die pasiënt sien dan die ortodontis minder gereeld om seker te maak dat die resultaat stabiel bly.”

Verskil tussen ’n ortodontis en tandarts

’n Ortodontis is ’n spesialis wat ten minste vier jaar verdere nagraadse studie by ’n geakkrediteerde universiteit voltooi het, nadat hy of sy as tandarts gekwalifiseer het, verduidelik dr. Harris. “Net persone wat hierdie kursusse suksesvol voltooi het mag ortodontiste genoem word. Ortodontiste beperk hul omvang van praktykvoering tot ortodonsie alleenlik. In Suid-Afrika moet die ortodontis geregistreer word by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) as ’n spesialis-ortodontis. Tandartse mag beperkte ortodontiese dienste aanbied, maar hulle is nie ortodontiese spesialiste nie en het nie spesialisopleiding by ’n geakkrediteerde instansie ondergaan nie.

“Tandartse kan beperkte bykomende opleiding ontvang, maar hierdie is nie dieselfde kwalifikasies as wat ortodontiste het nie. Tandartse wat bykomende kort kursusse en kwalifikasies verwerf het, mag nie onder die titel ortodontis praktiseer nie.”

Deurskynende belyningsplaatjies kan net gedra word om sekere ortodontiese probleme reg te stel.

Verskil tussen ’n ortodontis en tandarts

Dr. De Villiers sê pasiënte kan die volgende doen om behandeling aan te help:

Tydens behandeling

  • Behandeling kan vertraag word indien die vaste ortodontiese apparaat dikwels gebreek word, dus moet die pasiënte versigtig wees indien hulle sekere taai of harde kos eet.
  • Goeie mondhigiëne is van kardinale belang, aangesien daar wit vlekke op die tande kan ontstaan as gevolg van dekalsifikasie van die glasuur indien pasiënte nalaat om plaak van die tande te verwyder met ’n tandeborsel en nie vlos nie.
  • Kom geskeduleerde afsprake na.
  • Kom nog steeds jou gereelde afsprake met jou gewone tandarts na vir dinge soos herstellings en mondhigiënisbesoeke.
  • Ortodonsie-behandeling is nie so pynlik soos wat algemeen aanvaar word nie. ’n Paar uur na die plasing van die apparate, mag sommige mense ’n ligte pynstiller benodig. Die plasing van die apparate is pynloos en geen inspuitings word benodig nie.

Na behandeling voltooi is

  • Dra jou retensie-apparate (verskillende plaatjies) pligsgetrou soos aanbeveel deur jou ortodontis.
  • In sommige gevalle word ’n vaste retensiedraadjie agter die tande gesementeer.
  • Besoeke aan jou ortodontis sal steeds geskied vir ’n periode van een tot twee jaar na behandeling, net om seker te maak die tande is in ’n stabiele posisie.
Meer oor:  Gesondheid  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.