Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mooimaak:
Die vel(d)slag teen oudword

'n Goeie afskilferingsproduk is ’n wapen in jou arsenaal in die stryd teen veroudering, skryf Karla Janse van Vuuren.

Maak ’n goeie afskilferingsproduk deel van jou velsorgroetine. Foto: iSTOCK

‘Soos wat velselle sterf, begin hulle opbou op die oppervlak van die vel. Dit laat die vel lusteloos lyk en kan tot ’n growwe tekstuur lei. Boonop kan dit ook porieë blokkeer wat weer tot swartkoppies kan lei. Gereelde afskilfering verwyder die dooie selle en jou vel word aangemoedig om nuwe selle te produseer. Sellulêre regenerasie vind plaas en jou vel lyk vars en gesonder,” verduidelik Ursula Volbrecht van die skoonheidshuis DermaFix.

“Dis ’n goeie idee om weekliks ’n geringe (huishoudelike) afskilfering te doen, mits jy nie ’n vorm van retinol gebruik nie,” sê dr. Suretha Kannenberg, ’n konsultant-dermatoloog aan die Universiteit Stellenbosch. Daaglikse retinol-inname vernuwe die vel, en dan word gereelde afskilfering onnodig. “Moenie meer as een keer per week ’n scrub gebruik nie, en jy kan ’n afskilfering (peel) met ligte glikolsuur so elke twee tot vier weke doen vir ’n vel met ’n gesonde glans,” sê Suretha.

Helene Cloete, ’n verteenwoordiger van die skoonheidsprodukte NUXE, Sothys en Gatineau, voeg by dat afskilfering verseker dat jy die maksimum voordeel kry uit ander produkte soos maskers, serums en bevogtigers omdat produk-absorpsie op sy beste plaasvind sonder die versperring gevorm deur dooie selle.

“Die regenerasie van jou vel word stadiger namate jy ouer word. Normaalweg is dit tussen 28 en 30 dae, maar dit kan verlangsaam tot 60 dae. Dit beteken dooie selle bly langer op die vel en afskilfering is nodig om nuwe selgroei te stimuleer,” voeg Hilde-Mari Kohrs van die skoonheidshuis TheraVine by.

Let op die volgende wanneer jy ’n afskilferaar kies:

  • Pas dit by jou veltipe?
  • Oorweeg ook die huidige toestand van jou vel – is dit droog of olierig?
  • Kan jy dit maklik met jou bestaande velsorgroetine verenig?
  • Hoeveel tyd gaan jy nodig hê om daaraan af te staan en hoe gereeld gaan jy dit moet doen?

Die kenners beveel almal aan dat jy met ’n kundige velsorgterapeut gesels wat jou sal kan raad gee oor watter produk vir jou vel sal werk. Dit is egter baie belangrik om ver weg te bly van mikrokorrels van plastiek (micro beads).

“Mikrokorrels was ’n baie gewilde bestanddeel in afskilferaars, maar omdat jy dit afwas, beland dit in die ekosisteem en besoedel dit die water en ook diere wat dit moontlik kan inneem. Dit het ’n uitkringeffek op die hele voedselketting. Baie lande verbied nou die produksie en gebruik van mikrokorrels,” sê Helene.

En is daar ’n korrekte manier om af te skilfer?

“Dit word bepaal deur die tipe afskilferaar wat jy gebruik. Ensiematiese afskilferaars werk meer sagkens en kan gereelder gebruik word. Meganiese afskilferaars moet met sorg gebruik word, want dit kan tot ’n sensitiewe vel lei. Chemiese afskilferaars moet geleidelik aan jou vel blootgestel word. As jy laasgenoemde gebruik, moet jy dit slegs in die aande gebruik en ook ’n sonskerm aanwend, want dit kan tot sonsensitiwiteit lei,” sê Ursula.

Helene beveel aan dat jy snags afskilfer, nadat jy al jou grimering verwyder het en voor die aanwending van jou nagroom.

“ ’n Verfrissende scrub kan ook lekker werk in die oggende.” Mense met sensitiewe velle hoef ook nie weg te skram van afskilferaars nie, maar moet dit nie meer as een of twee keer per week gebruik nie.

Soorte afskilferaars
Afskilferingsprodukte kan in drie hoofgroepe ingedeel word:

Chemiese afskilfering: Volgens Ursula Volbrecht van DermaFix sluit dit die gebruik van alfa- en beta-hidroksiedsure, retinol of trichloorasynsuur in. “Die sure verlaag die pH van die vel, wat sorg dat ou velselle afskilfer.” Hilde-Mari Kohrs van TheraVine verduidelik dié tipe afskilferaar is meestal net beskikbaar as deel van ’n professionele behandeling in ’n salon. “Die vrugtesure sorg vir ’n dieper afskilfering as met tuisbehandelinge.”

Ensiematiese afskilfering: Dr. Suretha Kannenberg, ’n konsultant-dermatoloog aan die Universiteit Stellenbosch, meen dié vorm is veiliger, want met meganiese afskilfering is daar die risiko van trauma aan die vel as jy te hard of vinnig vryf.

Helene Cloete van NUXE, Sothys en Gatineau sê die bestanddele in dié tipe produkte werk gewoonlik sagkens op die buitenste laag van die epidermis. “Gewilde ensieme in kosmetiese produkte sluit in bromelaïen van pynappel en papaïen van papaja.” Die ensieme werk deur die intrasellulêre “gom”, wat ou velselle laat vassit aan die oppervlak van die vel, op te los, sê Ursula. Die insluiting van stoom of klamheid is nodig om die ensiem-werking op die vel te aktiveer.

Hilde-Mari voeg by dat dié tipe afskilferaars gewoonlik ’n gladde tekstuur het sonder enige korrels. “Dit is perfek vir sensitiewe, droë of ouer velle.”

Meganiese/fisieke afskilfering: Dié tipe afskilfering maak gebruik van korrels soos druiwesaadjies, baie fyn appelkoospitte, pekanneutdoppe, skulpe, kristal of natuurlike mikro-krale wat fisiek (deur friksie wanneer jy dit aanwend) die dooie velselle verwyder. Ideaal vir growwer en jonger veltipes, meen Hilde-Mari. “Dié soort afskilferaars is beter om op die vel van jou lyf te gebruik en nie gereeld op jou gesig nie, want dit kan tot sensitiwiteit lei,” sê Ursula.

Meer oor:  Oudword  |  Vel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.