Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dink 2 keer oor daai glas wyn

’n Ongereelde, klein glasie wyn is nie min genoeg om jou ongebore baba te beskerm teen fetale alkoholsindroom nie, skryf Yolandi North.

Vir lank het ons geglo fetale alkohol-sindroom (FAS) is ’n siekte van die armes. Die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie (AAP) het egter verlede jaar in ’n artikel in die vaktydskrif Pediatrics geskryf navorsing het gewys die meeste Amerikaanse swanger vroue wat drink, is middeljarig en het ’n tersiêre kwalifikasie.

Daar is ’n soortgelyke tendens in Suid-Afrika, sê prof Denis Viljoen, stigter van die stigting vir alkoholverwante navorsing (FARR).

Ons sien ’n toenemende aantal kinders met fetale alkohol-spektrum-afwykings (FASA) in middel- en hoër sosiaal-ekonomiese groepe in die private praktyk, sê hy.

In ontwikkelde lande kan ’n onlangse oplewing in nuwe gevalle toegeskryf word aan verhoogde bewustheid en meer diagnoses, verduidelik hy. Dit is ook die geval in Suid-Afrika.

FASA is lewenslange toestande waarvoor daar geen kuur is nie. Onder hierdie afwykings is FAS die ernstigste.

Alkoholgebruik gedurende swangerskap lei nie altyd tot FAS nie, maar kan ook ander liggaamlike of emosionele probleme (soos ’n vervormde vinger of ’n ander afwyking) veroorsaak.

En dis nie net misbruik wat riskant is nie.

“Daar is géén bekende veilige hoeveelheid alkohol wat swanger vroue kan drink sonder die risiko van skade aan hul ongebore babas nie,” verduidelik Leana Olivier, uitvoerende hoof van FARR.

Die skokkende prentjie in Suid-Afrika

Die departement van gesondheid skat die gemiddelde FAS-voorkomssyfer in Suid-Afrika is 6%. FARR het egter na aanleiding van navorsing in vier provinsies (met navorsing in die ander vyf provinsies wat in die nabye toekoms gaan afskop) bevind dat die FAS-voorkomssyfer in sommige provinsies so hoog soos 25% is. Skrikwekkend. Veral wanneer dit vergelyk word met die volgende hoogste koers ter wêreld, naamlik 1% in die VSA.

Die Wes-Kaap het die hoogste FAS-syfers ter wêreld. Die probleem is egter nie tot die Wes-Kaapse platteland beperk is nie.

Die gevolge

FAS is meer as ’n gestremdheid – dit is ’n sosiale wanorde wat ons gemeenskappe en owerhede teister omdat dit reuse-uitdagings op alle vlakke meebring.

Liggaamlike gestremdheid – soos ’n misvormde gesig, dun bolip en klein ogies – is dikwels die opvallendste by babas. Kinders met die sindroom is ondergewig en het vertraagde groei. Skade aan hul oë, ore en hart kom ook voor. Hulle is “moeilik”, tree ontwrigtend op en wend hulle dikwels tot geweld om uiting te gee aan frustrasie.

Laer IK-tellings (sowat 70 in vergelyking met die gemiddelde van 100) is algemeen. “Hulle sukkel ook met basiese lewensvaardighede soos die hantering van geld, om dinge te onthou en begrip oor die gevolge van hul dade,” sê dr. Mhleli Masango, mediese direkteur van die Suid-Afrikaanse Borsmelkreserwebank (SABR). Mense met FASA vertoon dikwels onvanpaste seksuele gedrag en het swak impulsbeheer. Hul agressie en gewetenloosheid lei dikwels tot misdaad

Leana verduidelik dat aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom-tipe simptome dikwels aan alkoholgebruik gedurende swangerskap toegeskryf kan word.

Drankmisbruik as gevolg van onkunde

“Drankmisbruik (vyf of meer drankies per sitting van ongeveer twee uur) is die mees algemene manier van alkoholgebruik in Suid-Afrika,” sê Leana.

Die verwysing na “ ’n drankie” kan misleidend wees omdat die algemene publiek nie baie alkoholgeletterd is nie, sê sy. Een alkoholiese drankie is byvoorbeeld tussen 125 en 150 ml wit- of rooiwyn, tussen 45 en 50 ml whisky of brandewyn en 300 ml bier.

Borsvoed met ’n drankie in die hand?

Voorheen is bevind dat ma’s dikwels tydens swangerskap ophou alkohol gebruik, maar ná die geboorte begin drink en onbewus was van die implikasies.

Volgens ’n 2015-studie in die tydskrif ­Pediatrics, is alkoholinname wanneer jy borsvoed nadelig vir ’n kind se ontwikkeling. Dit is vanjaar bevestig in 'n navorsingstuk in die joernaal Reproductive Toxicology. Hoewel 'n kind nie FAS kan ontwikkel van alkohol in borsmelk nie, is daar bewyse dat dit breinontwikkeling benadeel.

Mhleli meen egter om van ma’s te verwag om hulle heeltemal van alkohol te weerhou terwyl hulle borsvoed, is onnodig beperkend.

Hy benadruk wel dat ma’s baie versigtig moet wees en twee uur tussen ’n drankie en ’n voeding moet toelaat. Die reël dat as jy nugter genoeg is om te bestuur, is jy nugter genoeg om te borsvoed, geld hier, verduidelik Mhleli.

“Ek is bewus van raad wat lakterende vroue kry om uit te melk voordat hulle alkohol drink of om te wag vir twee uur nadat hulle alkohol gebruik het voordat hulle weer hul babas voed,” sê Leana.

“Met hierdie raad word aanvaar dat dit 'n vrou se liggaam twee uur neem om die alkohol te metaboliseer. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse hiervan nie.”

Bygewerkte bronne: www.who.int,

timeslive.co.za, www.farr-sa.co.za (voorsittersverslag, 31 Maart 2006).

  • Yolandi North is ’n vryskut-leefstyljoernalis en -blogger.

@YolandiNorth of azestylife.co.za

Kitsfeite

  • Alkoholgebruik gedurende swangerskap veroorsaak permanente breinskade. ) Een enkele drankie stel jou ongebore baba se gesondheid in gevaar.
  • Simptome kan dalk eers op drie of vier jaar begin wys.
  • Daar is geen genesing vir fetale alkoholsindroom (FAS) nie.
  • FAS is die algemeenste voorkombare oorsaak van verstandelike gestremdheid.
  • FAS is ’n lewenslange, onsigbare en onomkeerbare gestremdheid.
  • FAS kom in alle gemeenskappe, onder alle rasse en in alle sosiaal-ekonomiese groepe voor.

’n Vrou wat alkohol misbruik, sal nie op haar eie kan ophou nie en sal ’n rehabilitasieprogram moet volg. Indien sy reeds swanger is, sal sy spesiale hulp nodig hê. Kontak jou kliniek vir ’n verwysing of skakel die FARR (021 686 2646) vir raad oor die beste hulp.

Meer oor:  Alkohol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.