Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dís hoekom jou oë brand en krapperig voel
Traanfilm, wat nie net uit water bestaan nie, is baie belangrik om die oog gemaklik te hou, en is ook noodsaaklik om skerp visie te verseker.

Droë oë is een van die algemeenste oogkwale wat jy kan ontwikkel.

Dr. Frikkie Hartog, ’n oftalmoloog in Bellville, bied meer insig oor wat dit veroorsaak.

Hoekom voel jou oë soms so krapperig?

Elke keer wanneer jy jou oog knip, word vars trane oor die oog versprei, en die ou trane dreineer aan die binnekant van die oog deur twee klein buisies na die neus. Die normale traanfilm is baie belangrik om die oog gemaklik te hou, en is ook noodsaaklik om skerp visie te verseker.

Die traanfilm bestaan nie net uit water nie, maar drie lae, wat ook ’n vetlagie insluit. Die vetlagie verseker dat die trane nie net afloop nie, maar die oë reëlmatig bedek en nie vinnig verdamp nie.

Die traanfilm verseker ’n gladde interaksie en smeermiddel tussen die oog en die ooglede tydens elke oogknip. Indien die traanfilm afwesig is of nie funksioneel is nie, veroorsaak dit ongemak met oogknip. Die gevolg is ’n branderige, krapperige gevoel. Die meeste mense sê dit voel asof daar ’n vreemde voorwerp in hul oog is.

Wat veroorsaak die droogheid?

Daar is hoofsaaklik twee redes vir droogheid. Die hoeveelheid trane wat afgeskei word, is baie belangrik, aangesien te min tot ongemak sal lei.

Indien die trane se volume korrek is, maar dit verdamp te vinnig tussen oogknippe, sal dit soortgelyk tot droogheid en ongemak lei.

Daar is ook twee faktore wat belangrik is in die ontwikkeling van droogheid. Die simptome word uitgelok deur jou omgewing en aktiwiteite. Die traanfilm word gewoonlik akkuraat gereguleer deur jou liggaam in verskillende omgewings, en is afhanklik van ’n gereelde oogknip om die trane reëlmatig oor jou oog te versprei. Sommige omgewings lei egter tot verhoogde verdamping. So byvoorbeeld, sal winderige omgewings en lugverkoelers veroorsaak dat die traanfilm vinniger verdamp.

Verder sal jou aktiwiteite die situasie vererger. Wanneer jy stip konsentreer, soos byvoorbeeld wanneer jy lees of bestuur, knip jy nie gereeld jou oë nie. Die gevolg is dat die traanfilm vinniger verdamp.

Hoe word droogheid behandel?

Droogheid is ’n baie algemene probleem, en word vereenselwig met ouderdom en sommige siektetoestande soos diabetes en rumatoïede artritis. Dit is belangrik om enige bydraende faktore doeltreffend te behandel.

Dit is ook belangrik om te bepaal wat die oorsaak van die droogheid is, om te verseker dat dit doeltreffend behandel word. Indien die traanfilm gebrekkig is, kan dit aangevul word met kunsmatige traandruppels. Aangesien droogheid so algemeen is, bestaan daar natuurlik ’n magdom traanaanvullingsdruppels.

Sommige druppels is ontwikkel om slegs die waterige trane aan te vul, en ander vul die water- sowel as die vetlagie aan. Daar is verder nog die keuse tussen druppels en jels. Die jels werk langer, maar is geneig om jou visie tydelik aan te tas. Indien die druppels nie die simptome volledig verlig nie, kan jou oftalmoloog van hulp wees met medikasie, asook proppies wat die dreinering van die trane vertraag om die traanfilm te verbeter.

In sommige gevalle verdamp jou trane egter te vinnig. Dit vind dikwels plaas indien die vetlagie van die traanfilm afwesig is. Die vetlagie word afgeskei deur klein klier­tjies op jou ooglidrand. Indien die kliertjies egter verstop is, verdamp die trane te vinnig en lei dit tot droogheid. Blefaritis (ooglidontsteking) is ’n toestand waar die verstopte kliertjies ontsteek raak, en dit veroorsaak erger ongemak met rooi, geswolle ooglede. In hierdie omstandighede is dit natuurlik belangrik om die blefaritis self aan te speek, aangesien dit dikwels chronies en herhaaldelik plaasvind. Die skoonmaak van die ooglede, bekend as lidhigiëne, verlig die probleem. Jou oftalmoloog kan verder behandeling voorskryf wat die inflammasie behandel en herhalende aanvalle van blefaritis voorkom.

Dit is belangrik om te verstaan dat hoewel die trane oor jou wang loop, die oë wel droog kan wees, aangesien die trane in die verkeerde posisie is. Indien die traanfilm nie stabiel is nie, loop die trane af oor jou ooglede en wang. Die gevolg is dat jou wang nat is, maar jou oë nog droog is.

Meer oor:  Oog  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.