Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dís waarom jy dié tyd van die jaar uitgebrand voel

Jy raak nie noodwendig net in die werksplek uitgebrand nie. Danielle Daniëls het gaan uitvind waarom jy uitgebrand kan voel.

Tref die nodige voorsorg om te verseker dat jy nie uitgebrand raak nie. Foto: iStock

Dit was ’n lang jaar. En soos die einde nader kom, voel jy al hoe moeër.

Eloise Prinsloo van Life Path Health sê mense sê te maklik: “Ek gaan uitgebrand wees nog voor die jaar om is.” Maar uitbranding is wel ’n toestand met langtermyn- vernietigende gevolge op die moderne samelewing.

“Dit word beskryf as ’n gevoel van uitputting en lusteloosheid asook ongemotiveerdheid en ’n gevoel van ’n betekenislose bestaan.”

Uitgebrand by die werk

Die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) het in Mei vanjaar uitbranding amptelik as ’n beroepsindroom erken.

Lezanne Fieuw, arbeidsterapeut by Fieuw Occupational Therapy, sê hoewel dit nie as ’n mediese toestand geklassifiseer word nie, word dit wel nou in die klassifikasie van mediese diagnoses (die internasionale klassifisering van siektes) gelys. Dit dui op die ernstigheid van dié gesondheidsprobleem wêreldwyd.

Die WGO noem die volgende simptome wat verband hou met uitbranding: ’n gevoel van verminderde energie of uitputting, ’n gevoel van verwydering of ’n negatiewe gevoel teenoor jou werk of loopbaan, en verminderde doeltreffendheid.

Tesame hiermee ervaar mense dikwels meer druk in hul persoonlike lewens.

Lezanne sê dié beskrywing hou slegs verband met mense se werkslewens en is gekoppel aan chroniese werkstres.

“Vele mense ervaar egter teen die einde van die jaar ’n verhoging in gevoelens van moegheid en stres wat gepaardgaan met ’n vermeerdering van eise en verwagtings dié tyd van die jaar.

“Besighede maak toe oor die feestyd en dus word daar groter druk op werknemers geplaas om projekte of take af te handel, dikwels in ’n korter tydraamwerk. Tesame hiermee ervaar mense dikwels meer druk in hul persoonlike lewens. Daar is ’n verhoging in die getal sosiale geleenthede wat bygewoon moet word. En alhoewel sosiale interaksie vreugde kan bring, kan dit ook bydra tot ’n ekstra druk sosiale program.”

Nie slegs in die werksplek

Eloise meen mense voel nie net uitgebrand in werksverband nie; dit kan enig­iemand met chroniese stres tref.

“Dit is veral persone in ’n versorgingsrol wat die ergste geraak word – verpleegsters, dokters, onderwysers, maatskaplike werkers, maar ook kinderoppassers, voltydse ouers en selfs persoonlike assistente.

“Reeds in die vierde eeu het Christen-monnike ’n verskynsel beskryf wat hulle acedia genoem het. Dié Griekse woord, wat apatie of afgestomp beteken, kon bes moontlik dui op ’n uitgebrande gevoel onder die toegewyde monnike. Ná dekades se versorging van ander het baie van hulle begin twyfel of hul lewe ’n doel het en het selfs hul dae as ‘grou’ beskryf.”

Volgens ’n verslag van die WGO is daar deurlopende bewyse dat hoë werksvereistes, ’n lae vlak van invloed of beheer en ’n wanbalans tussen inset en beloning alles risikofaktore vir psigiese en fisiese gesondheidsprobleme is.

Wanneer sperdatums, werkvereistes en ander stresfaktore meer as beloning, erkenning en ontspanning is, sal iemand uitgebrand begin voel.

Reeds in die vierde eeu het Christen-monnike ’n verskynsel beskryf wat hulle acedia genoem het.

Uitgebrand of depressief?

“Hoewel uitbranding nie ’n erkende kliniese psigiatriese of sielkundige afwyking is nie, is daar soortgelyke eienskappe tussen uitbranding en diagnoseerbare toestande soos depressie, angsversteuring en gemoedsversteuring. Uitbranding is byvoorbeeld baie meer algemeen. Daar word beraam dat 25 tot 60% van praktiserende dokters uitgebrand sal voel,” sê Eloise.

Volgens haar is dit minder ernstig en meer tydelik van aard en word dit duidelik deur eksterne stresfaktore – eerder as ’n biologiese of chemiese wanbalans – veroorsaak.

“Uitbranding is amper soos depressie se nie-kliniese neef wat kom kuier, totdat die spanning in jou lewe verlig. Die probleem is as die ‘neef’ se besoek te lank duur, kan dit tot kliniese psigiatriese toestande lei.”

Uitwerking op die liggaam en brein

Eloise sê langtermyn-blootstelling aan stresfaktore vir uitbranding ontwrig byna elke sel in jou liggaam en kan tot ernstige gesondheidsprobleme lei.

“Die fisiese impak van chroniese stres is verhoogde bloeddruk, ’n onderdrukte immuunstelsel, onvrugbaarheid, versnelde veroudering, hartaanvalle en beroertes.

Dit kan verduidelik waarom ’n persoon in hierdie toestand probleme met die beheer van negatiewe emosies het.

“Die psigiese impak van chroniese stres en uitbranding is net so ernstig en kan oor ’n tydperk die brein herbedraad en jou meer weerloos teen angs en depressie laat.

“Sielkundige navorsers aan die Karolinska Instituut in Swede kon bewys hoe vernietigend die emosionele letsels van uitbranding vir die brein kan wees.”

In hul studies het die breine van uitgebrande pasiënte swakker verbindings tussen die amigdala en die mediale prefrontale korteks getoon.

“Dit kan verduidelik waarom ’n persoon in hierdie toestand probleme met die beheer van negatiewe emosies het.

“Die frontale korteks, ’n breinarea wat noodsaaklik is vir kognitiewe funksionering, begin normaalweg verdun as deel van die normale verouderingsproses, maar die studie het bevind dat uitgebrande pasiënte meer slytasie in die frontale korteks toon. Verder was die normale tekens van veroudering in uitgebrande pasiënte ook meer prominent.”

Volgens hierdie bevindings kan uitbranding fisies die senuweestroombane en struktuur van jou brein verander en uiteindelik ’n bose siklus van neurologiese disfunksie veroorsaak. Afgesien van veranderings in die brein se anatomie, begin wetenskaplikes uiteindelik verstaan hoe uitbranding ’n persoon se kognitiewe funksionering beïnvloed deur hul kreatiwiteit, probleemoplossingsvermoë en geheue te ontwrig.

“Uitbranding kan dus ernstige gevolge vir jou werksprestasie en lewenstevredenheid inhou. Omdat dit boonop permanente psigiese en fisiese skade kan veroorsaak, behoort dit nooit geïgnoreer te word nie.”

Die eerste gevaartekens

  • Elke dag voel soos ’n slegte dag.
  • Besorgdheid oor werk en persoonlike sake voel na ’n mors van tyd.
  • Jy voel gedurig uitgeput.
  • Jy vind dagtake dodelik vervelig of totaal oorweldigend.
  • Dit voel of niks wat jy doen ’n verskil maak of enigsins waardeer word nie.
Só kan jy die uitgebrande gevoel vermy en verminder

Volgens Lezanne kan jy dié wenke toepas om nie uitgebrand te raak nie:

* Maak jouself jou nommer een prioriteit en maak selfsorgaktiwiteite ’n belangrike deel van jou dag. Die doel hiervan is nie om jou dagboek voller te maak nie, maar eerder om kort periodes van rus te skep. Kies een of twee kort aktiwiteite wat inpas in jou dagprogram.

* Stel daagliks een of twee hoofdoelwitte vir jou dag, eerder as om op verskeie take te fokus. Dit help om belangrike take te prioritiseer en eerste daaraan aandag te skenk.

* Stel grense vir jou werksure en -take. Beplan jou dagboek om seker te maak dit is nie oorvol nie. Oefen jou “nee”-spier eerder as om ja te sê vir elke taak wat op jou tafel beland.

* Wees bewus van jou eet- en drinkgewoontes in die aanloop tot die einde van die jaar. Beperk jou inname van alkohol en drankies met kafeïen. Vervang dit met kruietee of vonkelwater.

* Maak gebruik van kort ruskanse eerder as om te dink jy gaan rus wanneer die vakansie aanbreek. Dit kan insluit ’n vinnige stap langs die see, ’n borrelbad, tyd met ’n goeie vriend of vriendin of die lees van ’n boek.

* Beperk jou tyd op sosiale media, veral voor slaaptyd. Gebruik eerder dié tyd vir gehaltetyd met familie (bordspeletjies kan pret wees!), die beoefening van ’n stokperdjie of maak tyd vir kreatiwiteit. Tel weer jou musiekinstrument op wat stof vergader het of luister na jou gunsteling-musiek.

* Maak ligte oefening (en asemhaling) deel van jou program sonder dat dit voel soos nog iets op die moet-doenlysie. Fokus op die soort oefening wat ontspanning bring, byvoorbeeld om in jou plaaslike park te gaan stap.

* Beoefen die vreugde van uitmis (JOMO) eerder as vrees vir uitmis (FOMO). Jy hoef nie elke sosiale geleentheid by te woon nie.

    Meer oor:  Gesondheid  |  Uitgebrand  |  Gesond
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.