Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dís waarom jy jou tandarts moet besoek

Om goed na jou tande om te sien is van kardinale belang, al besef jy dit nie altyd nie. Tasneem van Rooyen gesels met kenners oor die voordele van gesonde tande en die reëls wat gevolg word tydens Covid-19.

Dit bly maar belangrik om gereeld jou tandarts te besoek om moontlike tandheelkundige probleme te keer. Foto: ISTOCK

Die meeste mense word van kleins af geleer oor die tandeborsel-roetine van soggens en saans. Sommige het selfs ’n roetine van ná etes.

Hoewel dit ’n goeie gewoonte is om aan te leer, is slegs tandeborsel nie genoeg vir die ideale mondgesondheid nie. Dit bly steeds krities om jou tandarts gereeld te besoek.

Dr. Amore van Greunen, tandarts by die Medicross Parow in die Kaap, sê daar is verskeie voordele as jy na jou tande omsien, omdat jou eie tande maar altyd beter is as kunsmatige tande. Maar, hoe gemaak tydens Covid-19?

Volgens dr. Johan Hartshorne, kosmetiese en rekonstruktiewe tandarts, is daar ’n veiligheidsprotokol wat gebruik word by die tandarts en dit bestaan uit tien “pilare”.

Die tien pilare is:

1. Sifting tydens die maak van die afspraak om hoërisiko-pa­siënte te identifiseer en af te sonder. Alle pasiënte word dus hanteer of hulle positief is, omdat tandartse nie weet of hulle asimptomaties of pre-simptomaties is nie. Dit verleen maksimum beskerming aan die pasiënt en die tandarts se span. Hierdie benadering word reeds die afgelope 40 jaar in die tandheelkunde praktyk gehandhaaf.

2. Handontsmetting met alkohol of daar word geskrop met seep.

3. Universele dra van maskers deur almal in die praktyk. Tandartse moet chirurgiese maskers of respirators dra en dit moet ná elke afspraak vervang word indien aërosol-produserende prosedures uitgevoer word.

4. Mondspoel om viruslading in die speeksel en keel te verminder Z hierdie is seker een van die belangrikste dele van infeksiebeheer, meen Hartshorne.

5. Gebruik ’n kofferdam tydens herstellende prosedures om virusbesmette speeksel-aërosols te elimineer.

6. Gebruik hoëkrag-suiging om potensiële virusbesmette aërosols en druppels wat geproduseer word op te suig en dus verspreiding in die lug te verminder.

7. Gebruik persoonlike beskermende toerusting. Dit sluit in handskoene, maskers, gesigskerms, jasse en kopbeskerming. Die keuse van toerusting word bepaal deur die tipe kliniese prosedure wat uitgevoer word. Tydens aërosol- en druppelvormende prosedures (soos by ultrasoniese toerusting, turbinerotasiehandstukke, lug- en waterspuite) moet ’n masker saam met ’n gesigskerm gebruik word om die mond, neus en oë te beskerm.

8. Skoonmaak en ontsmetting van alle instrumente, asook toerusting en werkoppervlakke ná elke prosedure en die verwydering van enige besmette materiaal in spesiaal gemerkte houers.

9. Ventilasie omdat min dinge so doeltreffend soos ’n oop venster en vars lug is.

10. Handhaaf goeie mondhigiëne, asook ’n goeie immuunstelsel, en sorg dat jy nie ’n vitamien D-tekort het nie.

Waarom is dit belangrik om jou tandarts te besoek?

Om behandeling uit te stel vererger die pasiënt se probleme, meen Hartshorne.

“As hy/sy behandeling uitstel kan dit hul algemene gesondheid in gevaar stel en dit maak daaropvolgende behandeling meer kompleks en duurder,” sê hy.

Volgens hom is daar geen rede waarom pasiënte bang hoef te wees om hul tandarts te besoek nie. Hy sê ook die tandheelkunde-spreekkamer is een van die veiligste plekke om te besoek as bogenoemde protokol uitgevoer word, omdat dit dan ’n streng gekontroleerde omgewing is.

Hoe kan jy na jou tande omsien?

Volgens Hartshorne is dit belangrik om goeie mondhigiëne te handhaaf.

“Gebruik mondspoel voor en nadat jy ’n plek buite jou huisomgewing besoek het.

“Dit is ook belangrik om na jou algemene gesondheid om te sien.”

Hy sê mense moet moeite doen om te verseker hulle het ’n voldoende vlak van vitamien D en onthou, rook is skadelik vir jou algemene gesondheid.

Van Greunen bied die volgende redes waarom jou moet kyk na jou tande:
  • Natuurlike tande is sterker as kunsmatige tande.
  • Natuurlike tande is beter om kos mee te kou en is makliker om na om te sien. Selfs met al die nuwe tandheelkundige tegnologie, is daar steeds baie meer voordele aan jou natuurlike tande.
  • Wanneer ’n tand getrek word, is daar ’n gaping en die aangrensende tand is dan geneig om geleidelik in daardie spasie in te beweeg as dit nie gevul word met ’n kunsmatige tand nie. Dit veroorsaak dat daar ’n spasie is tussen die aangrensende tande waar stukkies kos oor ’n tydperk kan ophoop. Dit lei tot verrotting tussen die tande wat dan ook tandvleisontsteking kan veroorsaak.
  • ’n Tand wat getrek is kan jou selfbeeld beïnvloed, veral as daar ’n opmerklike gaping is wanneer jy glimlag.
  • Dit is baie duurder om prostese- en valstande in stand te hou as wat jy die moeite doen om jou eie tande te red. Jy sal ook baie meer tyd in jou tandarts se stoel deurbring.
Geborg

Maak vandag nog ‘n afspraak om jou tande te laat skoonmaak of ondersoek by dr. W.J. van Rooyen van Goodwood Dental.

Meer oor:  Gesondheid  |  Tandarts  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.