Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dís waarom jy Wêreldkankerdag moet ondersteun

Wêreldwyd word duisende mense daagliks met kanker gediagnoseer en baie sterf ook daarvan. Bewusmaking van dié siekte is dus uiters belangrik. Danielle Daniëls het meer gaan uitvind oor die doel van Wêreldkankerdag.

Doen jou deel en dra by tot die bekamping van kanker. Foto: ISTOCK

Wêreldkankerdag, wat jaarliks op 4 Februarie plaasvind, is ’n inisiatief van die Unie vir Internasionale Kankerbeheer (UICC).

Die doel van die dag is om dringende optrede deur individue, regerings en die wêreldwye kankergemeenskap te mobiliseer om duidelike en onaanvaarbare leemtes in bewusmaking van kankerrisiko tussen hoër en laer sosio-ekonomiese groepe te verminder.

Belangrikheid van dié dag

Salomé Meyer, projekbestuurder van die Access to Medicine-veldtog wat ook aan Cancer Alliance verbonde is, sê dit is die enigste dag waarop bewusmakers die geleentheid kry om gesamentlik wêreldwyd die publiek se aandag op kanker te vestig.

“Gedurende die jaar is daar baie veldtogte wat aandag gee aan spesifieke kankers en stigtings – maar hierdie dag en maand is ons geleentheid om as een gemeenskap met een doel voor oë saam te staan.”

Volgens dr. John Duminy, ’n onkoloog van Hermanus Onkologie, sterf daar jaarliks wêreldwyd byna 10 miljoen mense aan kanker.

Hierdie getal is meer as al die MIV/vigs-, malaria- en tuberkulose-sterfgevalle saam. “Teen 2030 kan dit selfs soveel as 13 miljoen mense wees. Dit is ’n belangrike dag, aangesien dit die fokus plaas op voorkoming, vroeë opsporing en die behandeling van kanker.”

“Wêreldkankerdag se doelwit is om miljoene sterftes te voorkom deur bewusmaking, onderrig te gee omtrent kanker en om regerings en individue oor die wêreld heen te motiveer om voorkomende stappe te neem.”

Die tema van vanjaar se Wêreldkankerdag is #IamIWill, oftewel “Ek is, Ek Kan”. “Dit beteken dat dit elke individu se aanspreeklikheid is en bly om verantwoordelikheid te aanvaar om sy of haar eie kankerrisiko, of dié van jou onmiddellike gesin, te verminder,” sê Salomé.

Verminder jou kankerrisiko

Dr. Duminy sê daar is verskeie maniere om jou risiko vir kanker te verminder.

  • Moenie tabak of tabakprodukte gebruik nie (dit sluit e-sigarette in).
  • Probeer sonligblootstelling sover moontlik vermy.
  • Eet gesonde voedsel.
  • Behou ’n gesonde liggaamsmassa en raak fisies meer aktief.
  • Beoefen veilige seksuele omgang en vermy riskante seksuele gedrag.
  • Oorweeg immunisasie teen menslike papilloomvirus en die hepatitis B-virus. Daar is ’n baie sterk verbintenis tussen bogenoemde virusse en servikskanker asook hepatosellulêre karsinoom, oftewel lewerkanker.

Salomé meen een van die mees basiese lesse is: wees bewus van jou liggaam en indien jy enige verandering opmerk of ervaar, besoek onmiddellik jou gesondheidsorgpersoon.

“Dit kan jou huisdokter of die klinieksuster wees. Vergewis jou van die basiese tekens en simptome van verskillende kankers. Laastens, handhaaf ’n gesonde leefstyl met jou dieet, gereelde oefening en geen rook.”

Internasionale opname

Ter viering van die 20ste gedenkdag van Wêreldkankerdag, het die UICC ’n wêreldwye opname gedoen om ’n bygewerkte prentjie te skep van die publiek se ervarings, sienings en gedrag rondom kanker.

Ons sal ons pogings moet verdubbel om seker te maak dat hierdie inligting alle sektore van die publiek bereik.

Die opname, wat deur Ipsos (onafhanklike marknavorsingsonderneming) uitgevoer is, bevat meer as 15 000 volwassenes in 20 lande (insluitend Suid-Afrika) in die eerste openbare landstudie oor kankerpersepsies in ’n dekade.

Die uitslae het getoon dat daar wêreldwyd oor die algemeen ’n hoë vlak van kankerbewustheid onder die betrokke bevolkings is.

Tabakgebruik (63%), blootstelling aan skadelike UV-strale (54%) en blootstelling aan die tabakrook van ander (50%), blyk die belangrikste faktore te wees wat ’n persoon se risiko vir kanker kan verhoog. Intussen blyk ’n gebrek aan oefening (28%), blootstelling aan sekere virusse of bakterieë (28%), oorgewig (29%) en alkoholgebruik (35%) die minste erkende kankerrisikofaktore te wees.

Elize Joubert, uitvoerende hoof van Kansa wat op die Cancer Alliance-raad dien, sê hoewel ’n gebrek aan oefening en om oorgewig te wees nie duidelik as kankerrisikofaktore erken word nie, is dit steeds ’n groot bekommernis in die Suid-Afrikaanse konteks.

“Ons sal ons pogings moet verdubbel om seker te maak dat hierdie inligting alle sektore van die publiek bereik. Die afgelope 15 jaar dui navorsing aan dat daar hoë vlakke van fisieke onaktiwiteit onder mense is. ’n Onlangse studie het bevind dat slegs 57% van kinders tussen die ouderdom van agt tot 14 jaar matig aktief was, terwyl 31% nie aan die aanbeveling van matige tot lewenskragtige fisieke aktiwiteite voldoen nie.

“Fisieke aktiwiteitsvlakke neem gewoonlik af met ouderdom, en dit is aangetoon in ander studies met adolessente en jong volwassenes, sowel as ouer volwassenes in Suid-Afrika.”

Elize voeg by dat daar ’n onrusbarende toename in die hoeveelheid oorgewig en vetsugtige individue in Suid-Afrika is, met meer as 29% van mans en 56% van vroue wat as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer is.

“Om oorgewig of vetsugtig te wees verhoog die risiko van verskeie kankers, insluitend die borste (onder vroue na menopouse), endometrium (die voering van die baarmoeder), slukderm, pankreas en die niere.”

  • Om deel te word van die bewus­makingsveldtog, volg #IamIWill op sosiale media en besoek ook www.worldcancerday.org/take-ac­tion, want jou stem is nodig!
Meer oor:  Gesondheid  |  Wêreldkankerdag  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.