Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dis nuut:
Dít verhoog risiko vir nierstene
’n Nuwe studie wys die uitwerking van antibiotika, skryf Rochélle Human. 

Jou nierstene kan verband hou met jou onlangse antibiotika-gebruik. Foto:

Nuwe navorsing wys mense, en veral kinders, wat met sommige soorte antibiotika behandel is, het ’n baie hoër risiko om nierstene te ontwikkel.

Die voorkomssyfer van nierstene het in die afgelope drie dekades met 70% toegeneem, veral onder tieners en jong vroue. Vroeër was nierstene glo seldsaam in kinders.

In ’n nuwe studie word aangevoer antibiotika kan deel van die oorsaak vir dié drastiese toename wees, veral aangesien antibiotika meer gereeld vir kinders as volwassenes voorgeskryf word.

Navorsers van onder meer die Universiteit van Pennsilvanië het die elektroniese gesondheidsdata van sowat 13 miljoen pasiënte van huisdokters in Brittanje ontleed. Uit hierdie groep het hulle byna 26 000 mense met diagnoses van nierstene vergelyk met sowat 260 000 kontrole-mense van ongeveer dieselfde ouderdom en geslag.

Hulle het spesifiek die pasiënte se antibiotika-gebruik in die drie tot 12 maande voor die nierstene-diagnose ondersoek.

Nadat hulle ander moontlike oorsake van nierstene soos urienweginfeksies, sekere ander medikasies (waaronder statiene) en siektes soos diabetes en jig in ag geneem het in die syfers, het die data gewys blootstelling aan enige van vyf soorte antibiotika verhoog die risiko van nierstene noemenswaardig.

Dit strek van sekere soorte breëspektrumpenisillien, wat die risiko met 27% verhoog, tot sulfa-medikasies, wat die risiko meer as verdubbel.

Voorkoms styg met 70% binne 3 dekades

Die gebruik van kefalosporien-, fluorokinoloon- en nitrofuraantoïen-antibiotikum het ook verband gehou met ’n hoër risiko van nierstene, skryf die navorsers in die vaktydskrif Journal of the American Society of Nephrology.

Nog ’n belangrike bevinding was dat kinders jonger as 18 jaar se risiko om nierstene te ontwikkel nadat hulle antibiotika gebruik het heelwat hoër as volwassenes s’n is.

Die risiko vir sowel kinders as volwassenes was die hoogste drie tot ses maande nadat die antibiotika geneem is en het mettertyd afgeneem, maar vir al die antibiotikas buiten breëspektrum-penisillien was die risiko drie tot vyf jaar later steeds hoog.

Die navorsers kan nog nie verklaar hoekom antibiotika nierstene kan veroorsaak nie, maar dit is moontlik weens antibiotika se wisselwerking met die bakterieë in die ingewande of urienstelsel. Dit is bekend dat antibiotika die samestelling van die mikrobioom (die liggaam se bakteriebevolking) ontwrig omdat dit goeie én slegte bakterieë aanval. Dit kan allerlei negatiewe gevolge vir ’n mens se gesondheid hê en van die liggaam se belangrike basiese fisiologiese funksies, soos die immuunstelsel en metabolisme, aantas. Dit kan ’n mens ook meer vatbaar maak vir infeksies.

Volgens die studieleier, dr. Gregory Tasian, ’n pediatriese uroloog van die Philadelphia-kinderhospitaal in Pennsilvanië, het vorige navorsing al getoon sowat 30% van antibiotikas wat dokters voorskryf, is onnodig of ontoepaslik, en kinders word meer met antibiotika behandel as enige ander ouderdomsgroep. “ ’n Verandering in voorskrifpatrone kan moontlik die huidige epidemie van nierstene in kinders verminder,” sê hy in ’n verklaring.

  • Bykomende bron: The New York Times
Meer oor:  Verhoog  |  Risiko
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.