Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dodelikste epidemie

’n Mens hoef nie oud en oorgewig te wees om hoë bloeddruk te hê nie, skryf Rochélle Human.

Dis belangrik om te weet wat jou bloeddruk is en dit met medikasie en dieet te beheer indien nodig.

Teenoor vreesaanjaende siektes soos kanker en diabetes klink hoë bloeddruk eintlik alledaags en mak, juis omdat dit so algemeen is. Maar navorsing wys dit is waarskynlik die grootste, dodelikste epidemie van ons tyd.

Ongeveer 10 miljoen mense sterf jaarliks weens oorsake wat met hoë bloeddruk (hipertensie) verband hou. Dit is wêreldwyd verreweg die grootste faktor wat tot hartsiekte, beroertes en sterftes lei, en tog weet bitter min mense hulle het dit.

Altesaam 46% van vroue en 44% van mans in Suid-Afrika ly aan hoë bloeddruk, volgens ’n nasionale opname in 2016. En die syfers neem toe. In 2000 het meer as 16% van die wêreldbevolking, byna ’n miljard mense, hipertensie gehad.

Kenners reken dié getal sal teen 2025 tot sowat 1,56 miljard mense styg.

“Dit is grootliks omdat die wêreldbevolking groter en ouer word, en bloeddruk styg met ouderdom. Maar daarby neem die verhouding van mense met hoë bloeddruk óók toe,” sê prof. Neil Poulter, ’n navorser en hipertensie-kenner van Impe­rial College, Londen. Hy was onlangs in Kaapstad vir die wêreldkongres oor interne geneeskunde.

Hy was onlangs in Kaapstad vir die wêreldkongres oor interne geneeskunde.

Vooruitgang, ontwikkeling die probleem

Die geraamde toename van 1990 tot 2020 van hartsiekte en serebrovaskulêre siekte (wat die bloedvloei in die brein aantas) is meer as 100% in ontwikkelende lande.

“Wanneer bevolkings ontwikkel, word aansteeklike siektes in ’n mate beheer, so die mense word ouer. Maar hulle kry ook minder oefening, rook meer, drink meer alkohol en eet meer sout en versadigde vette. Hulle eet minder vars vrugte en groente, neem minder kalium in en hul gewig neem toe. Dís nou ontwikkeling,” sê Neil.

In ’n plaaslike studie van mense met ideale bloeddrukvlakke het 25% binne vyf jaar hipertensie ontwikkel. “Die hoofoorsake was abdominale vetsug en alkoholinname – tipiese leefstylverwante kwessies waaraan ’n mens iets kan doen,” sê prof. Alta Schutte van die Noordwes-Universiteit en president van die Internasionale Hipertensievereniging.

In Afrika suid van die Sahara styg die syfer tot 73%.

Toets bloeddruk, al het jy nie simptome nie

Hoë bloeddruk kan baie goed met medikasie behandel word om kardiovaskulêre probleme te voorkom, en dis nie duur nie, sê Neil. Maar voor ’n mens behandel kan word, moet jy eers gediag­noseer word. Volgens ’n wêreldwye studie wat in 2013 in die joernaal JAMA gepubliseer is, is 53% van mense met hoë bloeddruk onbewus daarvan. In Afrika suid van die Sahara styg die syfer tot 73%.

Hipertensie het geen simptome nie. “Talle mense dink hulle kan hul bloeddruk ‘voel’. Dis ’n mite. Tensy jou bloeddruk uiters laag is en jy het reeds flou geval, of dis uiters hoog en jy het dalk ’n hoofpyn, sal jy geen idee hê wat jou bloeddrukvlakke is nie,” sê prof. Brian Rayner, hoof van die nefrologie-en-hipertensie-afdeling van die Groote Schuur-hospitaal en die Universiteit van Kaapstad.

Hoë bloeddruk is ook nie net ’n gevaar vir oorgewig ouer mense nie – jong, maer, fikse mense kan daaraan ly en selfs aan ’n beroerte doodgaan. In Suid-Afrika het een uit elke vyf jongmense tussen 15 en 24 jaar hoë bloeddruk, en die meeste is onbewus daarvan, sê Alta. “Soms is dit geneties – as ’n ouer hoë bloeddruk gehad het of ’n hartaanval of beroerte gekry het, is dit veral belangrik om van jongs af seker te maak jou bloeddruk is onder beheer.”

Stres kan ook onafhanklik ’n rol speel. “Sommige mense het ’n tipe persoonlikheid wat makliker stres, en hulle is ook meer geneig tot hipertensie.”

As jy ’n gesonde gewig handhaaf, gereeld oefen en nie rook of te veel drink nie, is die stryd halfpad gewen.

Voorkoming die beste behandeling

As jy ’n gesonde gewig handhaaf, gereeld oefen en nie rook of te veel drink nie, is die stryd halfpad gewen. Maar die werklike oorwinning is by die etenstafel. Daar is sterk bewyse dat die Dash-dieet (kort vir “dieetbenaderings om hipertensie te stop”) bloeddruk kan verlaag. Dit fokus op vrugte, groente en volgrane met vetvrye of laevet-suiwel, witvleis, neute en groente-olies, en beperk rooivleis, sout en suiker.

Eet ook:

* Minder sout: Sout kan bloeddruk verhoog deur die bloedvate stywer te maak, en die bloedvolume verhoog omdat die liggaam vloeistof terughou. Dit het ook ’n invloed op die senuweestelsel wat die bloedvate laat saamtrek, sê Alta. Probeer by minder as ’n teelepel sout per dag hou, en onthou, die meeste verwerkte kos soos pizza, winkelbrood, pap en koekies is propvol sout, so lees die etikette noukeurig.

* Minder suiker: Suiker beskadig ook die bloedvatwande, sê Alta. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan volwassenes hou by minder as ses teelepels suiker per dag.

* Meer kalium: Kalium werk sout teë, maar in Suid-Afrika kry 90% van mense nie genoeg kalium in nie, sê Alta. Dit bring die liggaam se vloeistofvolume, suur en elektroliete in balans, en is noodsaaklik vir selle se funksionering. Dit kom meestal in vars vrugte en groente voor – mik vir vyf porsies.

Hoe dit werk

Bloeddruk word grotendeels bepaal deur hoe elasties die aorta, die grootste aar in die liggaam, is. Bloed beweeg vinniger en teen ’n hoër druk deur die bloedvate as die aorta styf is. Die aorta word met ouderdom stywer en só verhoog bloeddruk ook, verduidelik prof. Alta Schutte.

Bloedvate vertak en word al hoe kleiner, soos die brein se bloedvaatjies of klein bloedvaatjies agter in die oog. As die bloed dus teen ’n hoë druk beweeg en by daardie vaatjies kom, beskadig of bars dit en lei tot ’n beroerte of blindheid.

Toets dit reg

Die hipertensievereniging gee dié riglyne om jou bloeddruk te meet:

1. Gebruik ’n gesertifiseerde, outomatiese toestel met die regte grootte mou-omslag.

2. Soggens en saans is die beste tye. As jy pyn, angs of stres het, kan die lesings onakkuraat wees.

3. Vermy nikotien, tabak en ka­feïen vir minstens ’n halfuur voor die toets. Moenie jou bene vir vyf minute voor die toets kruis nie.

4. Plaas die mou-omslag op jou arm. Jou arm en die mou-omslag se middelpunt moet dieselfde hoogte as jou hart wees. Rus jou arm op ’n tafel. Die “aar”-merk op die mou-omslag moet aan die binnekant van die arm wees, oor die groot aar. Maak die mou-omslag stewig vas.

5. Meet jou bloeddruk: Moenie praat terwyl die lesing plaasvind nie. Neem minstens drie lesings in een minuut-intervalle en skryf dit neer. Ignoreer die eerste lesing; bereken die gemiddelde van die tweede en derde lesings. Minder as 120/80 is optimaal; hoër as 140/90 is hipertensief.

Meer oor:  Gesondheid  |  Bloeddruk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.