Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vrouedag:
Eet reg vóór bevrugting
Hoe jy nou leef kan jou ongebore kinders nog tot hul oudag siek maak (of gesond hou), skryf Rochélle Human. 

Wat jy eet en hoe jy leef voor én na jou kind se geboorte kan sy lewensgehalte beïnvloed.

Sowel die ma as pa se leefstyl kan belangrike gevolge vir hul ongebore kinders se langtermyngesondheid inhou – nog voordat bevrugting eens plaasgevind het.

In ’n reeks studies, “Preconception Health”, wat in April deur die mediese vaktydskrif The Lancet gepubliseer is, ondersoek navorsers van Brittanje en Australië bestaande en nuwe bewyse van die invloed van ouers se gesondheid voor bevrugting op hul kinders se toekomstige gesondheid.

Die slotsom is dat die gewig, metabolisme, dieet en stresvlakke van albei ouers voordat bevrugting nog plaasvind belangrik is – nie net vir die swangerskap nie, maar ook vir hul kinders se lewenslange gesondheid en selfs die generasie daarna.

Die bewyse hiervan is so sterk dat nuwe riglyne nodig is om toekomstige ouers reeds voor bevrugting vir swangerskap voor te berei, veral wat hul eetgewoontes betref, om hul kinders se gesondheid te beskerm, skryf die navorsers.

Rook, te veel alkohol en kafeïen, ’n ongesonde dieet, vetsug en voedingstekorte veroorsaak moontlik tydens die ongebore baba se ontwikkeling genetiese, sellulêre, metaboliese en fisiologiese veranderinge. Die kind dra nog as volwassene die gevolge hiervan, met ’n hoër risiko van kardiovaskulêre, neurologiese en metaboliese toestande (soos hoë bloeddruk, vetsug en tipe 2-diabetes) en immuunsiektes.

Kritieke tydperk net voor en ná bevrugting

Die sleutel is om reeds voor bevrugting in te gryp. Hoewel dit belangrik en voordelig is om tydens swangerskap aandag te gee aan enige gesondheidsprobleme van die ma, soos as sy oorgewig is of voedingstekorte het, is dit volgens die navorsers dikwels te laat vir die fetus.

Die paar weke voor en ná bevrugting, wanneer die sperm- en eierselle volgroeid raak, bevrugting plaasvind en die embrio begin ontwikkel, is uiters belangrik. Dan is die paar betrokke selle die sensitiefste vir omgewingstoestande soos blootstelling aan rook of alkohol, of watter voedingstowwe beskikbaar is, skryf hulle.

Basies verander die bloudruk van elke sel in die persoon se liggaam dan die maklikste in reaksie op ongesonde invloede.

Die meeste vroue weet teen agt weke hulle is swanger, sê dr. Trudy Smith, ’n ginekologiese onkoloog van die Universiteit van die Witwatersrand se Donald Gordon- Mediese Sentrum. Vroue wat probeer swanger raak, sal moontlik vroeër uitvind, gewoonlik nadat hulle die eerste keer menstruasie oorslaan.

Om dus te wag totdat ’n mens swanger is voordat jy die nodige leefstylaanpassings maak, kan reeds te laat wees. “Die oorsprong van byvoorbeeld groeibeperking is reeds aan die begin van swangerskap, wanneer die nuwe embrio in die baarmoeder inplant,” sê prof. Stefan Gebhardt, ’n spesialis aan die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit se departement van verloskunde en ginekologie.

“Indien die ma dan aan rook, omgewingschemikalieë, infeksie of stres blootgestel is of aan voedingstekorte ly, kan die plasenta foutief inplant en gevolglik tot probleme met die baba se groei lei.”

Omvattende studies het al gewys babas wat vroeg gebore word met groeibeperking en ’n lae geboortegewig is later in hul lewe geneig om hoë bloeddruk, hartsiekte en diabetes te ontwikkel.

Dis ook te laat om eers tydens swangerskap aanvullings te begin gebruik wat die ongebore baba sal baat. Dit sal die ma se tekorte regstel, maar vir die fetus beteken dit nie veel nie en navorsing beskryf die resultate as “teleurstellend”.

Vroue wat in die tyd rondom bevrugting alkohol gedrink het se kinders kan aan fetale alkoholsindroom ly, met fisieke, gedrags- en leerprobleme as gevolg. Daarom maan instellings soos die Britse nasionale gesondheidsdiens vroue wat probeer swanger raak om alkohol heeltemal te vermy.

Vetsug veroorsaak siekte in die nageslag

Volgens die studies kan die ouers se vetsug hul kinders op ’n biologiese vlak sedert bevrugting programmeer met ’n hoër risiko van chroniese siektes. In talle lande is tot 50% van vroue oorgewig of het vetsug wanneer hulle swanger raak.

Vetsug verhoog ’n ma se risiko van swangerskapprobleme soos pre-eklampsie en swangerskapdiabetes. Dit laat haar inflammasie- en hormoonvlakke toeneem, wat die eiersel en embrio se ontwikkeling regstreeks kan benadeel en só die risiko van chroniese siektes later in die kind se lewe verhoog.

Die pa se vetsug tas weer sy sperm se gehalte, hoeveelheid en beweeglikheid aan, wat ook die kind se gesondheid kan knou en sy risiko van chroniese siektes verhoog. In rottestudies het mannetjies met vetsug weens ’n hoëvet-dieet se sperm meer DNS-skade en die volgende twee generasies sukkel met vrugbaarheid.

Aanvullings moet tekorte regstel

’n Vrou hoef nie ondergewig te wees om aan wanvoeding te ly nie. Hoë-inkomstelande se tipiese dieet van rooivleis, verfynde graan, verfynde suikers en volroomsuiwel bevat dikwels te min van verskeie belangrike voedingstowwe soos magnesium, jodium, kalsium en vitamien D, skryf die navorsers.

Voedingdata van Britse vroue tussen 18 en 42 jaar wys byna almal (96%) kry nie genoeg folaat en yster in vir swangerskap nie. Folaat is veral belangrik om die risiko van defekte soos spina bifida (wanneer die fetus se brein en rugmurg nie behoorlik vorm nie) te voorkom. In Brittanje word kos egter nie met foliensuur (die sintetiese vorm van folaat) versterk nie, terwyl versterking een van Suid-Afrika se suksesverhale is, met ’n duidelike gepaardgaande afname in spina bifida-gevalle.

Veral twee tot drie maande voor en ná bevrugting kan foliensuur-aanvullings die risiko van spina bifida met tot 70% verminder, asook die risiko van pre-eklampsie, miskrame, lae geboortegewig, doodgeboortes, sterfte in die baarmoeder en outisme.

Vitamien D-tekorte is ook toenemend algemeen onder swanger vroue in hoë-inkomstelande, en kan lei tot beenmineraal-tekorte in die ontwikkelende kind.

Minder koffie, spanning as jy verwag

Kafeïen tydens swangerskap (in al drie trimesters) hou verband met ’n laer geboortegewig, skryf die navorsers. Gebhardt sê egter hoewel talle studies al die moontlike uitwerking van kafeïen op die baba ondersoek het, was die bewyse van voordele of skade tot dusver nog nie oortuigend nie.

“Daar word aanhoudend navorsing hieroor gedoen en die meeste navorsers beveel aan dat swanger vroue minder kafeïen drink totdat meer bewyse beskikbaar is. Dit kan baie moontlik ’n epigenetiese of ander uitwerking hê, so dit het sin om nie te veel kafeïen te gebruik terwyl jy swanger is of borsvoed nie,” sê hy.

“Epigeneties” verwys na faktore soos ’n persoon se omgewing en leefstylkeuses wat die manier hoe ’n geen funksioneer verander, ’n uitwerking wat ook aan die volgende generasie oorgedra kan word en tot siekte kan lei.

“Byvoorbeeld, ’n ma wat tydens swangerskap aan lugbesoedeling blootgestel is se kind kan asma hê, of haar vitamien D-vlakke kan die plasenta se ontwikkeling raak. Die pa se dieet kan ook tot epigenetiese veranderinge by bevrugting lei, wat later in die kind se lewe ’n uitwerking op haar geestesgesondheid het.”

Dierestudies wys ook dat stres in die tydperk rondom bevrugting die kind uiteindelik kan benadeel. Die eerste paar maande ná geboorte is ook veral ’n sensitiewe tyd wanneer die ma se stres ’n groot impak op die baba se breinontwikkeling en geestesgesondheid kan hê, sê Gebhardt.

  • Bykomende bron:

https://www.nhs.uk/news/pregnancy-and-child/most-uk-women-not-nutritionally-prepared-pregnancy-finds-review/

Meer oor:  Swangerskap  |  Eet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.