Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eet vet – en word maer!

Vir ’n hele paar jaar was Suid-Afrika vasgevang in banting-manie. Daardie dieet met hoë vet, matige proteïen en min koolhidrate waaraan Tim Noakes ons almal voorgestel het. Amper almal het dit probeer, maar net die gehardste “banters” hou nog vol.

Armand Aucamp
Armand Aucamp

Nou is daar ’n nuwe dieet op almal se lippe: Die keto-dieet. En dis te danke aan die akteur Armand Aucamp dat dié ou dieet nou weer bekendheid verwerf.

Die keto-dieet dateer eintlik uit die 1920’s, toe dokters begin het om dit in die behandeling van epilepsie te gebruik. Volgens die Amerikaanse Epilepsievereniging (www.epilepsy.com) word dit steeds gebruik om sekere tipes van dié siekte suksesvol te behandel.

Dis baie soos die banting-dieet, net meer ekstreem. Iemand op die keto-dieet mag byna geen koolhidrate eet nie.

Omdat jy nie koolhidrate inneem nie, het die liggaam nie glukose om te verbrand as energie nie. Dit moet daarom vet omskakel na ketone wat dan die nodige energie verskaf.

Dis nie ’n maklike dieet om te volg nie, maar jy kan dalk begin deur te kook uit Armand se nuwe kookboek, Armand kook kaal (Lapa Uitgewers, R380). En dan sal sy inkopiewenke ook ’n goeie beginpunt wees om daardie ongesonde kosse uit jou dieet te skakel.

Armand se inkopiewenke vir ’n gesonde koskas

“Alles begin met inkopies. Wat jy koop, gaan álles bepaal. Daardie uitstappie na jou naaste winkelsentrum kan die maak of breek wees tussen goeie en slegte keuses en of jy werklik die verskille kan toepas waarna jy streef.

Armand kook kaal wys Maandae om 17:30 op Via (DStv-kanaal 147). In dié program nooi die akteur Armand Aucamp bekende gaste sy kombuis binne om keto-resepte en raad te deel wat jou sal help gewig verloor én laat beter voel.

Dis my vyf maklike inkopiewenke:

WENK 1: “Wat jy nie koop nie, kan jy nie eet nie. Moet jouself nie martel deur bestanddele of dinge te koop wat die versoeking vir jou onmoontlik gaan maak nie. Daardie pak koekies in die spens gaan jou in die middernagure roep. Daardie goedkoop winkel-moussekoek gaan vir jou vra om hom op te eet voordat dit droog raak. As jy enigsins soos ek is, dan sal jy weet dat dit onmoontlik is om ’n pak skyfies oop te maak en nie die hele ding te verorber nie. Moet dit nie aan jouself doen nie! As jy jouself met ietsie soet of sout wil bederf, koop liewer kleiner.

WENK 2: “Vereenvoudig: Dit is nie nodig om tien soorte van dit en dat te hê nie. Ek waarborg jou, jy gaan nie net tyd spaar nie, maar geld ook. Ons is so bederf met keuses dat ons nege uit die tien keer goed koop wat ons aan die einde van die dag gaan moet weggooi. Om dinge makliker te maak, verkies ek om altyd die basiese elemente in die huis te hê. Kaas, kouevleise, eiers en neute en sade is altyd beskikbaar. Selfs ongegeurde joghurt. Eenvoudig, lekker en gesond.

WENK 3: “Lees die etiket: Lees die agterkant van die pakkies, blikkies en botteltjies. Jy sal verbaas wees oor waar suiker en aanvullers oral wegkruip. Souse, kitskosse en ‘gesonde’ suiwelprodukte is belaai met suiker. Selfs tamatiesous drup letterlik van die suiker. Weet wat jy in jou mond plaas en die enigste manier om dit te doen, is om die etiket te lees.

WENK 4: “Koop vars: Daar is niks wat my meer inspireer om lekker te kook soos goeie gehalte, vars bestanddele nie. En, vanweë my laekoolhidraat-leefstyl, kook ek gewoonlik net een keer per dag. My ‘ontbyt’ (gewoonlik teen 12:00) is gewoonlik eenvoudige elemente soos eiers en kaas. Dus is dit lekker om iets ’n bietjie meer kompleks in die aande voor te berei. Ek gaan so een tot twee keer per week winkels toe en vermy dit om een keer per maand op ’n helse inkopietog te gaan. ’n Mens is dan geneig om hopeloos te veel te koop; plus, die bestanddele is nie so vars en inspirerend nie.

WENK 5: “Eet voordat jy gaan inkopies doen. Om op ’n leë maag te gaan inkopies doen, is om vir moeilikheid te soek! Jy is dan baie meer geneig om jouself aan allerhande lekkernye te vergryp. Gaan doen inkopies en laat jou kop jou lei, nie jou grommende maag nie.”

Resep uit Armand kook kaal (Lapa, R380)

“Sodra jy ’n avo fyndruk, word dit oombliklik ’n wenresep deurtrek van hipster-coolness,” skryf Armand in sy resepteboek. “Dus is dit gepas om ’n fyngedrukte avokadoresep deel van hierdie boek te maak. Hoe vreemd dit ook al is, dit smaak eenvoudig net lekkerder. Soos ’n cappuccino met ’n blommetjiepatroon op. Niks minder of meer nie, net sielkundige kulkuns.”

Armand Aucamp (links) se avobakkies met spekvleis en haloumi.

Avobakkies met spekvleis en haloumi

2 porsies

5 min. voorbereiding

10 min. gaarmaak

Bestanddele

8 repies streepspekvleis

4 haloumistawe, 0,5 cm dik gesny

botter

2 ryp avokado’s

2 e olyfolie

varsgemaalde sout en peper

1 feta-wiel

2 e pampoensade

roketblare

2 suurlemoenwiggies

Metode

Skakel die oond se rooster aan. Plaas die spekvleisrepies op ’n oondrak in ’n roosterbak en braai die spekvleis tot krakerig.

Braai die haloumistawe in botter oor warm hitte in ’n braaipan tot goudbruin aan albei kante. Plaas op kombuispapier.

Sny die avokado’s in die helfte en skep dit met ’n lepel in ’n bakkie uit. Sprinkel olyfolie oor en geur met varsgemaalde sout en peper. Druk die avokado met ’n vurk fyn.

Haal die spekvleis uit die oond en sny dit in klein stukkies sodra dit effens afgekoel het.

Stel nou jou bakkies saam: Begin met ’n handvol roketblare.

Skep gelyke hoeveelhede van die fyngedrukte avokado op die roketblare.

Strooi die spekvleis oor die fyngedrukte avokado.

Krummel ½ wiel feta per bakkie oor die spekvleis.

Strooi een eetlepel pampoensade per bakkie oor die gereg.

Druk vars suurlemoensap oor.

Plaas twee haloumistawe aan die kant van elke bakkie.

En daar het jy jou fyngedrukte avobakkie. Gewoonlik word dit met ’n broodjie bedien, maar in hierdie geval gebruik jy die haloumi om die gereg, soos met ’n sny brood, op te skep.

Meer oor:  Keto-Dieet  |  Koolhidrate  |  Dieet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.