Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eiers verhoog risiko van hartsiekte, sê navorsers

’n Studie onder byna 30 000 Amerikaners sonder eiers uit as ’n bron van cholesterol wat die risiko van hart- en bloedvatsiektes met 1,1% en voortydige sterfte met 1,9% laat toeneem.

Luidens die navorsingsverslag wat Dinsdag in die Journal of the American Medical Association verskyn het, bevat een groot eier 186 mg cholesterol in die eiergeel, terwyl die dieet van ’n volwassene 300 mg cholesterol daagliks toelaat.

’n Dieet van meer as twee groot eiers word volgens ’n studie wat Vrydag gepubliseer is, verbind met ’n hoër risiko van hart- en bloedvatsiektes en vroeë sterftes. Foto: AP Photo

Onder die deelnemers aan ses groepstudies word elke bykomende 300 mg cholesterol per dag in die dieet verbind met ’n hoër risiko van hart- en bloedvatsiektes van 3,24% en ’n hoër risiko van vroeë sterfte van 4,4%.

Dit sluit in koronêre hartsiekte, beroerte, hartversaking en ander siektes verwant aan die hart en bloedvate.

Die verband tussen cholesterol in die dieet, die inname van eiers, en hartsiektes bly volgens die navorsers nog omstrede en daar is met die studie beoog om die verwantskappe uit te klaar.

Data is van 25 Maart 1985 tot 31 Augustus 2016 ingesamel en inligting wat self deur deelnemers aangeteken is, is ontleed. In die tydperk is 5 400 akute voorvalle van hart- en bloedvatsiektes aangemeld.

Die navorsers beveel aan dat die verwantskap tussen cholesterol, eiers en ’n hoër risiko van hartsiektes en sterftes by die opstel van dieetriglyne oorweeg moet word.

Victor Zhong van die Northwestern University in Chicago is een van die hoofskrywers van die studie.

Hy sê ’n moontlike rede waarom vorige studies teenstrydige bevindings oor die uitwerking van eiers gemaak het, is dat nie in ag geneem is dat die inname van eiers dalk met ander ongesonde gedrag soos min oefening, rook en ongesonde eetgewoontes verbind kan word nie.

“In teenstelling daarmee het die huidige studie ’n omvattende assessering van dié faktore ingesluit,” het Zhong aan

CNN gesê.

Victoria Taylor, ’n senior dieetkundige van die Britse hartstigting, sê egter dié soort studie wys nie op ’n oorsaak en gevolg nie, dit dui net op ’n verwantskap en meer navorsing is nodig om die redes vir die verwantskap te verstaan. Sy was nie by die navorsing betrokke nie.

“Eiers is voedsaam en hoewel dié studie let op die getal wat ’n mens eet, is dit net so belangrik om te kyk na hoe ons dit gaarmaak en wat ons saam met dit eet.

“Om gesond te eet gaan oor balans.”

– Saamgestel deur Malherbe Nienaber

Meer oor:  Gesondheid  |  Wetenskap  |  Navorsing  |  Eiers  |  Studie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.