Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Etes vir diabetes
Vickie de Beer en haar seun, Lucca. Sy sê sy bloedsuikervlakke is baie stabieler sedert hy die lae-koolhidraat-hoë-proteïen-dieet volg.

Tot 2008 was haar agtjarige seun ’n doodgewone kind, positief en vol energie. Maar oornag het hy futloos geword en gesukkel om in die oggend uit die bed op te staan.

Eers het Vickie de Beer en haar man, Joe, gedink Lucca word by die skool geboelie, maar ná ’n besoek aan sy onderwyser was hulle seker dis nie die geval nie.

Toe sy ’n vreemde soet reuk op sy asem ruik, het Vickie weer begin dink Lucca het net ’n keelinfeksie.

Dieselfde aand het sy in ’n tydskrifartikel die simptome van tipe 1-diabetes raakgelees: oormatige dors, gereelde urinering en onverklaarbare gewigsverlies. Lucca het al dié simptome getoon.

Die volgende oggend het Joe die dokter gevra om sommer ook Lucca se bloedsuikervlak te toets. Tipe 1-diabetes is by hom gediagnoseer.

Eerder lae koolhidraat as lae GI

Vyf jaar lank het Vickie gesorg dat Lucca ’n streng lae-GI-dieet volg, soos voorgeskryf deur ’n dokter en ’n dieetkundige. Maar sy bloedsuikervlak wou net nie stabiliseer nie. Op die grafiek waarop sy dit aangedui het, was daar elke dag besonder lae én hoë pieke.

Ná die bekendstelling twee jaar gelede van die boek The Real Meal Revolution deur die lae-koolhidraat-hoë-vet-profeet, Tim Noakes, het Vickie begin dink dis moontlik om bloedsuikervlakke te bestuur met dié soort dieet. Toe sy boonop vroeër vanjaar hoor van ’n Amerikaanse groep wat ’n lae-koolhidraat-hoe-proteïen-dieet volg om tipe 1-diabetes te bestuur, was die besluit geneem.

“Ek het besef proteïene kan ’n volhoubare, stabiele bron van energie wees omdat dit omgesit kan word in glukose,” skryf Vickie, Rooi Rose se kosredakteur, in haar en die pediatriese dieetkundige Kath Megaw se boek The Low Carb Solution for Diabetics. “Omdat proteïene stadig in glukose omgesit word, verminder dit die aantal pieke in jou bloedsuikervlak wat gewoonlik deur vinnig-vrystellende koolhidrate veroorsaak word.”

Boonop kan jy steeds insulien toedien, selfs al eet jy nie koolhidrate nie.

Binne vier weke het Lucca se bloedsuikervlakke heelwat stabieler vertoon op die grafiek en ná ses weke het dit laag ­gebly tussen 4 en 5,7 mmol/L – dit mag fluktueer tussen 4 en 7 mmol/L.

Implementeer die nuwe dieet só

“Ek en Joe het vir ons kinders verduidelik die manier waarop ons eet, maak vir ­Lucca siek en is ook op lang termyn sleg vir die res van ons,” sê Vickie.

In vier stappe het die hele gesin hul ­dieet verander.

Stap 1: Eers het hulle ontbytpap vervang deur omelette en roereier.

Stap 2: Volgende is stysel met aandete uitgesny. “Ons het dit vervang deur veselryke groentes, kapokpampoen en blomkoolrys. Eers was daar ’n bietjie weerstand, maar nadat ons twee weke daarmee volhard het, het almal dit aanvaar.”

Stap 3: Geen meer koolhidraat- en suikerryke happies nie.

Stap 4: Uiteindelik het Vickie laekoolhidraatbrode en -kolwyntjies begin bak vir die kosblikke. “Eers was dit ’n gejaag om in die aand te bak, maar nou het ek ’n bakhoekie in die kombuis ingerig, resepte versamel en ek weet al hoeveel brood vir die week benodig word.”

¦ The Low Carb Solution for Diabetics deur Vickie de Beer en Kath Megaw word uitgegee deur Quivertree Publications en kos sowat R300. Vir meer inligting besoek www.mylowcarbkitchen.com.

Mozzarellapizza

(Genoeg vir 2)

Hierdie pizza is blitsvinnig en super­maklik. Jy kan enige bolaag opsit, maar Lucca hou die meeste van avokado en spek.

375 ml (1½ k) gerasperde mozzarella

45 ml (3 e) volroom-roomkaas

1 eier, liggies geklop

166 g (2/3 k) fyn amandelmeel

2,5 ml sout

Vir die bolaag:

125 ml tamatie-pizzasous

6 repies spek

125 ml gerasperde mozzarella

1 avokadopeer, geskil

basiliekruidblaartjies vir bo-op

1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n bakplaat met ’n bietjie olie

2. Gooi die mozzarella en roomkaas bymekaar in ’n middelslag-mikrogolfvaste bak.

3. Mikrogolf vir 2 minute totdat die kaas smelt. Gooi die eier, amandelmeel en sout by en roer vinnig. Die “deeg” moet baie sag wees – so plaas dit nog 30 sekondes in die mikrogolfoond as dit te styf voel.

4. Haal uit en roer vinnig tot glad. Werk vinnig. Gooi die deeg uit op die bakplaat en druk en trek dit plat en ovaalvormig met jou vingers.

5. Bak in die oond vir 6-7 minute, totdat dit net-net goudkleurig is.

6. Smeer die tamatiesous op, sprinkel die mozzarella oor en pak die spek oor die pizza. Sit die pizza terug in die oond en bak sowat 15 minute tot goudkleurig en krakerig. Hou dit fyn dop – die kaas brand maklik.

7. Skep die avokadopeer op die pizza en sprinkel die blaartjies oor.

Kruisement-en-sjokoladeblokkies | Foto:

Kruisement-en-sjokoladeblokkies 

(Genoeg vir 10-12 blokkies)

Ek kon aanvanklik nie dié resep glo nie! Avokadopeer moet een van die wondervrugte wees – hier gebruik ons dit selfs in ’n nagereg. Hou hierdie blokkies liefs in die yskas, dit smelt maklik.

Kruisementlaag:

1 groot avokadopeer, uit die skil geskep

60 ml xilitol

90 ml kokosneutolie

2-3 druppels kruisementekstrak (kry dit by die bakafdeling van supermarkte)

’n knippie sout

Sjokoladebolaag:

125 ml kokosneutolie

50 ml xilitol

120 ml kakao

5 ml vanielje-ekstrak

1. Voer ’n 10 cm x 15 cm-pannetjie uit met bakpapier.

2. Vir die kruisementlaag: Meng al die bestanddele saam in ’n middelslag-mengbak met ’n elektriese klitser. Gooi dit in die bakplaat en smeer egalig met ’n mes.

3. Vir die sjokoladebolaag: Gooi al die bestanddele saam in ’n klein kastrolletjie oor matige hitte. Roer tot die xilitol gesmelt en glad is (hier en daar sal daar dalk nog ’n krummeltjie wees).

4. Haal van die hitte af en koel af tot by kamertemperatuur. Gooi oor die kruisementlaag en sit 1-2 uur lank in die yskas voordat jy dit in blokkies sny.

November is Diabetesmaand en The Low Carb Solution for ­Diabetics word op 13 November by Leopard’s Leap in Franschhoek bekend gestel. Dit kos R375 per persoon en sluit ’n middagete, lae-koolhidraat-kosdemonstrasie, wyn én die boek in. Bespreek by kelly@catalystcommunications.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.