Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gehoorverlies soos jy ouer word, is nie altyd so duidelik nie

Gehoor speel ’n belangrike rol in die manier hoe jy kommunikeer, wat beteken dit kan baie moeilik wees as jou gehoor aangetas word. Danielle Daniëls het meer oor gehoorverlies en simptome daarvan gaan uitvind.

Indien gehoorverlies by jou gediagnoseer word, behoort jy jou gehoor jaarliks te laat toets. Foto: ISTOCK

Jou gehoor is ’n baie belangrike sintuig, maar jy is nie verseker daarvan dat jy sonder probleme sal leef nie.

Gehoorverlies is ’n algemene gehoorprobleem wat jy kan ervaar.

Chanette Dreyer, ’n oudioloog en spraakterapeut van die De la Bat Skool vir dowes, sê gehoorverlies word nie aan ’n ouderdom gekoppel nie.

“Dit kan enige tyd intree. Dit kan geleidelik of progressief van aard wees (met ander woorde, dit vererger oor tyd) of ’n skielike aanvang het. Daar is verskeie oorsake van gehoorverlies, byvoorbeeld ’n virusinfeksie, trauma, asook die normale verouderingsproses.”

Jonger mense en bowenal diegene wat ouer is, moet na hul gehoor kyk.

“Jy kan jou gehoor oppas deur nie na harde musiek vir lang tye te luister nie (veral met oorfone of ’n selfoon), aangesien dit die gehoor kan beskadig. Persone wat in ’n lawaaierige omgewing werk, moet geskikte geraasbeskerming gebruik. ’n Gesonde leefstyl kan ook die ontstaan van ’n gehoorverlies beperk of uitstel, maar nie voorkom nie,” sê Chanette.

Tekens van gehoorverlies by ouer mense

Chanette sê ’n afbreuk in kommunikasie is die hoofklagte wanneer mense vir ’n gehoortoets opdaag.

“Uitsprake soos ‘Mense moet net duidelik praat’ of ‘Mense mompel’ is algemeen. Die familie kom dit dikwels agter voor die persoon omdat kommunikasie ’n probleem word. Indien dit nie aangespreek word nie, lei dit tot sosiale onttrekking, frustrasie en selfs depressie.”

Carien de Jager, ’n oudioloog van NB Hearing, stem saam dat daar verskeie maklike tekens is wat aandui dat ’n persoon se gehoor besig is om te verswak.

“Indien ’n persoon gereeld vra vir herhaling van woorde of sinne of sukkel om ’n gesprek te volg met twee of meer mense, kan dit gehoorverlies aandui. Dit is ook vir hierdie mense moeilik om ’n gesprek te voer met geraas in die agtergrond soos in restaurante of groter groepe.

“Hulle voel ook dat dit moeiliker is om vroue en kinders se stemme te hoor. Die gade van persone met gehoorverlies kla ook gewoonlik dat die televisie en radio te hard gestel is. Hulle sal ook gereeld verkeerd antwoord op vrae of die onderwerp heeltemal mis. Nog ’n goeie aanduiding van gehoorverlies is ’n suising in die ore.”

Carien voeg by dat indien jy of iemand in jou familie enige van hierdie simptome ervaar, is dit die beste om na ’n oudioloog in jou omgewing te gaan vir ’n volledige diagnostiese gehoortoets.

“Met hierdie toetse kan bepaal word wat die oorsaak van die gehoorverlies is en ook die graad van die verlies. Die oudioloog sal dan vir jou kan raad gee oor die toepaslikheid van ’n gehoorapparaat. Die pas en verstelling word dan ook deur haar gedoen. In gevalle waar daar ’n mediese toestand is wat met medikasie behandel kan word, sal jy ook verwys word na ’n oor-neus-en-keel-spesialis.”

Kinders en versorgers

Weens die aard van gehoorverlies, is dit die naasbestaandes wat eerste bewus word van die probleem.

Carien verskaf ’n lys van dinge wat kinders en versorgers moet doen wanneer hulle agterkom dat hul ouer geliefde besig is om hul gehoor te verloor:

  • Behou oogkontak. Maak seker dat jy vir die persoon kyk, sodat hy of sy jou lippe kan lees en die betekenis van die woorde kan optel.
  • Moenie die mond trek of oorartikuleer nie. Dit kan die boodskap onduidelik maak. Praat teen ’n normale spoed.
  • Noem die persoon se naam om sy aandag te trek, voor jy met die gesprek begin.
  • Herfraseer wat jy gesê het indien die persoon nie die eerste keer uitmaak wat jy gesê het nie. Gebruik korter en duideliker sinne om begrip te vergemaklik.
  • Indien jy die onderwerp van gesprek verander, maak seker dat die persoon met gehoorverlies bewus is daarvan. Om die konteks te weet maak dit makliker om te verstaan wat gesê word.
  • Maak seker dat die beligting goed is en dat daar min geraas in die agtergrond is. Draai die televisie sagter en maak die omgewing makliker om in te hoor.
  • Bly positief en behou jou humorsin.

Behandeling

Volgens Chanette is die beste behandeling vir gehoorverlies, om so vinnig as moontlik ’n oudioloog te besoek en die moontlikheid van mediese behandeling, ’n gehoorapparaat of kogleêre inplanting te ondersoek.

“Indien die pas van ’n hulpmiddel te lank uitgestel word, kan die brein die vermoë verloor om spraak te kan diskrimineer, veral te midde van geraas in die agtergrond. Indien die persoon se gehoorverlies reeds erg is en tot op hede geïgnoreer is, is die sukses van die pas van ’n hulpmiddel moontlik beperk.

“Die gebruik van ’n hulpmiddel vir gehoorverlies kan nie voorkom dat die gehoorverlies moontlik kan vererger nie, maar dit stimuleer die oorblywende gehoor en hou spraakonderskeidingsvermoëns in stand. Hoe vroeër, hoe beter!”

Dit is ook belangrik om jou ore te laat toets, veral as jy met gehoorverlies gediagnoseer is.

“In die geval van gehoorverlies wat reeds gediagnoseer is, behoort die gehoor jaarliks getoets te word om enige verandering te monitor. Indien gehoorapparate gepas is, geld dieselfde reël. Ek hou daarvan om jaarliks die gehoor te bevestig en die gehoorapparaat in te stel volgens die nuwe toets, sodat die pasiënt die beste resultate met hul gehoorapparate kan hê op die lange duur,” sê Carien.

Meer oor:  Gehoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.