Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Genetika: Dís hoekom DNS-toetse belangrik is

Genetika is ’n komplekse deel van die menslike liggaam, tog is dit belangrik om te weet wat in jou liggaam aangaan om siektes te voorkom. Tasneem van Rooyen gesels met kenners oor wat jy kan wys word uit DNS-toetse.

DNS-toetse kan jou help om jou liggaam te leer ken sodat jy beter besluite kan neem oor jou gesondheid. Foto: iSTOCK

As jy aan die werking van die menslike liggaam dink, kan dit vinnig ingewikkeld raak en laat die meeste mense dus maar die genetiese deel van hul gesondheid in dokters se hande oor.

Dit is egter nie alleenlik jou dokter se plig om jou hieroor in te lig nie, jy moet ook jou eie liggaam ken.

Deoksiribonukleïensuur (DNS)-toetse is al vir jare deel van die mediese veld en kan bystand bied met gesondheidskwessies.

Voordele van DNS-toetse

Volgens dr. Christa North van Geneway, ’n onderneming wat in DNS-toetse spesialiseer, gaan hierdie soort toetsing oor jou individuele gesondheid.

“Deur hierdie toetse kan ons vasstel watter dieet die beste vir jou sal wees, watter oefening of sport jy moet doen en watter aanvullings jy benodig.

Dit kan ook help met die voorkoming van siektes en om jou lewensgehalte te behou soos jy ouer word,” sê dr. North.

Dr. Anel van Putten van EWC Mediwellness Centre, wat onlangs ook Geneway-toetse begin aanbied het, sê baie pasiënte wil weet watter risiko hulle dra om ’n genetiese siekte te ontwikkel, terwyl ander probeer om te verstaan waarom hulle so met hul gesondheid sukkel.

“DNA-toetse gee ook aan pa­siënte die geleentheid om te kyk op watter medikasie hulle die beste sal reageer,” sê sy.

Waarom wil mense dit doen?

EWC Mediwellness Centre se Carina Brits sê almal word deesdae bestook met inligting oor wat gesond is en wat nie.

Daar word baie geskryf oor verskillende diëte met navorsing wat dit ondersteun, asook watter aanvullings jy behoort te gebruik.

Jy kan jou dus in ’n situasie bevind waar jy onseker of deurmekaar voel as gevolg van teenstrydige menings en aanbevelings oor wat reg is, meen sy.

“Met die DNS-inligting bemagtig jy jouself met die korrekte inligting oor jouself om ’n holistiese plan uit te werk, wat hopelik jou lewensgehalte in die toekoms kan verbeter.”

Hoe word dit gedoen?

’n DNS-toets is pynloos en eenvoudig, verduidelik dr. North.

“ ’n Steriele stokkie met ’n sponsie aan die punt word aan die binnekant van jou wang gevryf om selletjies bymekaar te maak (net soos op die CSI-program).”

Jy kan die speekseltoets by enige gesondheidspraktisyn wat deel is van die DNS-maatskappy se netwerk laat doen, sê Carina.

Volgens haar word geen bloed vir die toetse getrek nie.

Swangerskap of enige medikasie wat jy op daardie stadium mag neem, het geen invloed op die neem van die monster nie.

Carina sê dat jy die toets op enige ouderdom kan doen.

“Ouers kan veral dié inligting gebruik om hul kinders se gesondheid van kleins af reg te bestuur, en ook vanuit ’n emosionele oogpunt te begin verstaan waarom hulle op ’n sekere manier optree,” sê Carina.

Verskillende DNS-toetse

Dr. North sê daar is vyf verskillende DNS-toetse:

  1. ’n Gene-toets wat kyk of jy “foute” in jou gene het wat jou vatbaar maak vir siektes soos diabetes, hartaanvalle, beroerte, demensie, gemoedsversteurings (soos depressie en AGHS), sekere soorte kanker en of jy hormoonvervanging kan gebruik. Dit is belangrik om te weet dat die toets nie ’n diagnose is nie, maar ’n presiese verslag van wat jy kan doen om hierdie risiko-gene te “onderdruk” om siektes te voorkom.
  2. ’n Dieet-toets wat aandui watter soort dieet die beste vir jou sal werk en hoeveel oefening jy moet doen vir gewigsverlies en gewigsinstandhouding. Dié toets wys ook watter vitamiene en minerale jy benodig as seker gene nie reg werk nie.
  3. ’n Sport-toets wat die krag en uithouvermoë van gene analiseer. Dit help met besluitneming oor hoe jy jou oefentyd die beste kan bestee om jou gene te optimaliseer.
  4. ’n Vel-toets met teenveroudering as doelwit– van binne en buite. Dié toets gaan dus nie net oor hoe jy lyk as dit by velsorg kom nie, maar ook oor die sellulêre vlak binne jou liggaam om selle jonk te hou.
  5. ’n Medikasie-toets wat volgens dr. North vir almal ’n móét is. Sy sê bykans almal gaan of het al op ’n stadium van hul lewe pille geneem. Dié toets dui aan watter medikasies heel waarskynlik vir jou gaan werk en wat nie. Dit help dokters en aptekers om die regte medikasie in die regte dosisse aan te beveel.

Waar kan jy DNS-toetse doen?

Jy kan die speekseltoets by enige gesondheidspraktisyn wat deel is van die DNS-maatskappy se netwerk laat doen, sê Carina.

Sy sê ook dit is ’n goeie idee om eers ’n konsultasie te doen om vas te stel watter toets of kombinasie van toetse die beste vir jou gaan wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.