Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Getroue hulp van dokters, ondersteuners help gesin

Kanker kan met enigeen gebeur, selfs kinders. Danielle Daniëls gesels met Colette van de Giessen oor hul gesin se ervaring met dié siekte.

Keanu Moore-van de Giessen (3) is tans in remissie na fase-4-neuroblastoom. Vir sy ouers, Colette van de Giessen en André Moore, is hierdie siekte emosioneel veeleisend, maar hulle sal enigiets doen om die beste behandeling vir hom te kry.Foto: Mish Hamilton

’n Doodgewone gesin. Dís hoe Colette van de Giessen, Keanu (3) se ma, hul gesin beskryf voordat hy met kanker gediag­noseer is.

“Ek het gesukkel om swanger te word, so dit was goeie nuus en ’n absolute wonderwerk toe ek Keanu verwag.”

In Oktober 2017 is Keanu op tweejarige ouderdom met fase-4-neuroblastoom gediagnoseer.

“Hy is met die kanker gebore, maar is verkeerd gediagnoseer omdat baie van die simptome soortgelyk aan normale verkoues en siektes is. So, in die algemeen word dié soort kanker eers op ’n later stadium gediagnoseer, ongelukkig wanneer dit al na ander dele van die liggaam en organe versprei het,” vertel sy.

“By geboorte ontstaan neuroblastoom by die bynier en skiet deur die neurologiese gedeelte van die liggaam. Keanu het ’n gewas by sy bynier en tot by drie van sy werwels bo sy rug gehad, wat naby sy hart gepenetreer het. Sowat 65% van sy beenmurg en bene was met kanker besmet. Onder leiding van dr. Anel van Zyl by Tygerberg-hospitaal het hy met sy kanker-protokol begin wat baie erge chemoterapie behels, stamseloorplanting en bestraling.”

Omdat dit ’n skaars kanker is en ’n lae oorlewingsyfer het, het Keanu se ouers aanhou navorsing doen oor watter ander behandelings nog beskikbaar is. “Ek het by ’n internasionale netwerk ingeskakel, begin vrae vra en dokters gekontak. Dr. van Zyl het ons ondersteun om saam met hierdie dokters te werk om vrae te kan beantwoord. Op dié manier het ons by dr. Jaume Mora, ’n spesialis in neuroblastoom van SJD-hospitaal in Barcelona, uitgekom, waar Keanu verder immunoterapiebehandeling ontvang het.

“Dit was ’n fase-3-studie waaraan Keanu deelgeneem het en dit het ons ’n paar miljoen rand uit die sak gejaag, maar die publiek het ons so mooi gehelp deur fondse te skenk aan die Cure4Keanu-ini­siatief wat op Facebook bemark word.”

Hy is soos enige ander normale kind, behalwe dat sy immuunstelsel bietjie swak is. Ons moet hom maar uit die skool hou, veral met die medikasie wat hy tans ontvang wat newe-effekte veroorsaak. Keanu gaan ook weekliks vir swemlesse en doen speelterapie.

Tans is Keanu besig met ’n fase-2-studie wat by die Helen de Vos-hospitaal in Michigan uitgevoer word.

“Ek en hy moet elke paar maande opvlieg. Hy moet elke oggend en aand tablette drink en vir ’n driejarige is dit baie moeilik, so ons probeer dit bietjie verbloem.”

Colette sê wat hulp betref, het baie vreemdelinge (wat nou soos familie is) oor hul pad gekom.

Keanu is tans in remissie, wat ’n wonderwerk is, want hy het omtrent geen kans op oorlewing gehad het nie.

“Ons is uiters dankbaar hieroor. Die siekte is vreeslik emosioneel en finansieel stresvol vir ons as gesin. Ek moes my werk opgee om voltyds in en uit saam met Keanu in die hospitaal te wees. Ons moes ook leer om met een salaris oor die weg te kom, maar dis alles die moeite werd.”

Colette sê hulle probeer nou om ook ander ouers te help wie se kinders met hierdie kanker gediagnoseer word.

“Ek probeer om inligting van oorsee aan hulle te verskaf, oor ons ervaring, hoe ons deur die trauma gekom het en raad oor behandeling wat tans slegs oorsee beskikbaar is.

“Keanu het vir ons gewys hy is ongelooflik sterk. Ons glo dat hy geen terugslag sal beleef nie en dat God hom genees het.”

Volgens Colette is Keanu, wat op 22 Junie vier word, ’n baie intellektuele seuntjie.

“Hy is soos enige ander normale kind, behalwe dat sy immuunstelsel bietjie swak is. Ons moet hom maar uit die skool hou, veral met die medikasie wat hy tans ontvang wat newe-effekte veroorsaak. Keanu gaan ook weekliks vir swemlesse en doen speelterapie. Ons maak hom gereed dat hy in die volgende paar maande terug skool toe kan gaan.”

Met fase-4-neuroblastoomkanker is die kanse vir terugslag baie groot.

“Met Keanu se behandeling sal hy vir die volgende vyf jaar mooi na omgesien moet word. Vir die eerste twee jaar sal hy elke drie maande moet gaan vir nukleêre inspuitings gaan, MIBG-skanderings om uit te lig of daar enige kanker in die liggaam is en urine-toetse om sy VMA-vlak te toets vir enige nuwe gewasse. Hy sal vir ’n hele paar jaar gemonitor word,” beskryf sy die onmiddellike toekoms wat vir hul gesin voorlê.

Meer oor:  Gesondheid  |  Ondersteuning  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.