Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Goeie sorg help dat jy minder vatbaar vir infeksies is

Om te hoor jy het kanker is nie ’n maklike situasie om te hanteer nie. Danielle Daniëls het by kenners gaan uitvind hoe kankerpasiënte na hulself moet omsien.

Tydens chemoterapie is daar verskeie dinge wat jy moet en nie moet doen nie. Foto: istock

Kanker is ’n veeleisende siekte en daarom is dit belangrik dat jy presies weet hoe om na jouself om te sien.

Volgens Gawie Marx, hoofbestuurder van St Stephen Health Care en ’n kankeroorwinnaar vir 20 jaar, is ’n algemene riglyn vir ’n kankerpasiënt om sover moontlik ’n gebalanseerde dieet te probeer volg.

“Dit is ook belangrik om jou nie bloot te stel aan enige vorm van infeksie nie, aangesien jou immuunstelsel swakker is as gevolg van die kanker en moontlike behandeling. Dit is dus raadsaam om weg te bly van openbare plekke (soos ’n winkelsentrum) sover as wat dit moontlik is,” sê Gawie.

“Dit is ook belangrik om seker te maak jy kyk na jou gemoedstoestand om te verseker jy bly so positief as moontlik oor jou siekte en behandeling. Om van al die kundigheid wat die onkoloog se praktyk bied – soos ’n maatskaplike werker – gebruik te maak is ook raadsaam.”

Lauren Smith, ’n geregistreerde maatskaplike werker in privaat praktyk, deel ses wenke wat mense moet doen wanneer hulle met kanker gediag­noseer word:

  • Wees baie versigtig wanneer jy Google gebruik, en onthou om nie alles wat mense sê te glo nie. Jou onkoloog is die kenner, so rig altyd mediese vrae aan hom of haar.
  • Kry ’n betroubare vriend of familielid wat saam met jou na jou afspraak sal gaan en notas sal maak, sodat jy dit na die tyd kan deurgaan wanneer jy kalm is. Dit is ’n goeie idee om vroeg te identifiseer wie jou ondersteuningsbasis tydens jou kankerreis gaan wees.
  • Geen twee pasiënte se kanker is dieselfde nie, so moet geensins jou kanker met ’n vriend of familielid sin vergelyk nie. Jy kan luister na wat hulle te sê het en dankbaar wees vir hul ondersteuning.
  • Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Om vir hulp te vra is ’n sterkpunt en nie ’n swakheid nie. So kan hulp byvoorbeeld van jou onkologiese maatskaplike werkerspan of familielede kom.
  • Vat dit dag vir dag en wanneer die dae te lank word, keer terug na ’n oomblik-tot-oomblik-ingesteldheid.
  • Moet nooit hoop verloor nie en streef altyd na ’n positiewe uitkyk. Onthou dit is goed om af te voel, maar vra liewer vroeër as later vir hulp.

Behandeling

Chemoterapie is een van die behandelings wat kankerpasiënte ontvang om kwaadaardige selle te vernietig.

Gawie deel moets en moenies vir wanneer jy chemoterapie ontvang.

Moets

  • Probeer om ’n gebalanseerde dieet te volg.
  • Drink genoeg water.
  • Probeer om genoeg te stap.
  • Goeie higiëne is belangrik (was gereeld jou hande).
  • Eet slegs vrugte wat diep afgeskil is (moet dus nie die skil eet nie).
  • As jy koors ontwikkel, kontak jou dokter dadelik of besoek die hospitaal.
  • Bly in kontak met jou dokter as jy enigiets vermoed wat jou bekommer.

Moenies

  • Probeer soveel moontlik om suiker te vermy.
  • Vermy wegneemetes, kitskosse, vetterige kos, ens.
  • Vermy enige ongekookte kos.
  • Bly weg van groot skares soos by ’n winkelsentrum – jy tel maklik ’n infeksie op. Onthou jou immuunstelsel is as gevolg van die chemoterapie afgetakel.
  • Moenie enige persoonlike items (soos handdoeke en koppies) met jou familielede deel nie.

Met behandeling is daar ’n kans dat wonde kan ontstaan. Dit is belangrik om die wonde reg skoon te hou. “Goeie higiëne is belangrik. Volg die dokter en verpleegpersoneel se instruksies en raad.

“Moenie dat jou wond nat word tydens ’n stort of bad nie. As jy onraad vermoed, kontak jou dokter en besoek die hospitaal dadelik,” sê Gawie.

Meer oor:  Gesondheid  |  Behandeling  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.