Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hare gaan waai om 3 meisies gelukkig te maak
 Patricia Brown
Dr. Patricia Brown, ’n narkotiseur van Johannesburg, maak gereed om haar lang hare binnekort af te sny. Haar hare is reeds vir R20 000 verkoop om pruike vir drie jong meisies te befonds.

Dr. Patricia Brown (36), ’n narkotiseur by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, het nog altyd krag geput uit haar lang hare.

Nou is sy gereed om sowat 60 cm van daardie lang donker lokke af te sny sodat daar net enkele sentimeters gaan oorbly.

Die hare het nog nie eens gewaai nie en dis reeds vir duisende rande verkoop. Dié geld sal saam met ander geld gebruik word om pruike vir drie jong meisies te befonds.

Die Johannesburgse narkotiseur wil jong meisies bemagtig wat ’n stryd voer met ernstige siektes sodat hulle ook hul selfvertroue kan hê.

“Almal wat my ken, kan getuig dat ek nog altyd baie lang hare gehad het en dat ek baie geheg aan my hare is,” sê Brown.

“Ek het my hare nog altyd as ’n bron van krag gesien en het onlangs al daardie krag ingespan om my spesialisopleiding in narkose te voltooi.

“Ek wil dit nou oordra aan ander wat dit nodiger het as ek.”

Brown het ingestem om op 7 November al haar hare af te sny op ’n geleentheid wat regstreeks op sosiale media aangebied sal word.

Dr. Patricia Brown gaan haar hare van sowat 60 cm lank ná ses jaar heeltemal afsny om ’n pruik daarvan te laat maak. ’n Vrou wat weens ’n siektetoestand min hare het, het reeds Brown se hare vir R20 000 gekoop om vir haar ’n pruik daarvan te laat maak.

Dit is ter ondersteuning van A Few Grey Hairs se inisiatief, Hair with Love, wat vroue van alle ouderdomme aanmoedig om hul hare aan jong meisies in nood te skenk.

A Few Grey Hairs is ’n salon wat pruike maak vir vroue en kinders wat hul hare verloor het.

Die laaste keer dat ’n skêr deur Brown se hare is, was in 2014 toe dit in ’n soort bob-haarstyl gesny was.

Hoewel sy haar lang hare sal mis, weet sy dat dit weer sal teruggroei.

“Ek is ’n bietjie bang, want dit is ’n groot verandering vir my. Maar dit is vir ’n goeie doel en daaroor is ek opgewonde.”

’n Kliënt van A Few Grey Hairs wat weens siekte yl hare het, het reeds Brown se hare vir R20 000 gekoop.

“Hair with Love kry baie skenkings van hare van sowat 30 cm lank wat geskik is om die meisiespruike te maak. My hare sal langer as 60 cm lank wees en daarom is dit waardevol,” sê Brown.

“Die kliënt weet die geld is vir ons veldtog.”

Deur ’n skarebefondsingsveldtog met ’n mikpunt van R30 000 op BackaBuddy, die verkoop van haar hare en die hulp van Susan Friese, ’n medekampvegter wat ook geld insamel, hoop Brown om genoeg geld te hê om die pruike te laat maak.

Dr. Patricia Brown, ’n narkotiseur van Johannesburg, maak gereed om haar lang hare binnekort af te sny. Haar hare is reeds vir R20 000 verkoop om pruike vir drie jong meisies te befonds.

Een van die begunstigdes is Teagan Walsh (4) wat in die Amerikaanse deelstaat Texas woon. Sy het haar hare verloor weens neuroblastoom-behandeling.

Die ander twee is Liané Ferreira (7) van Boksburg by wie Clauston-sindroom gediagnoseer is en Lisa Venter (13) van Parys in die Vrystaat by wie totale kophaarverlies (alopesie) gediagnoseer is. Albei is toestande wat hulle met min of geen hare laat, sonder die moontlikheid van toekomstige haargroei.

“Ek het spesifiek kinders gekies om te help, want ek weet hoe spesiaal my hare vir my as meisie laat voel het en ek wil hê dat hulle daardie ervaring moet hê,” sê Brown.

Volgens Liané se ma, Anuska Ferreira, sal dit haar tweede pruik wees wat sy deur die Hair with love-inisiatief kry.

Sy het twee jaar gelede haar eerste pruik gekry.

Liané is sowat 50% bles en het geen liggaamshare nie. Nie eens wimpers en wenkbroue nie.

“Die bietjie haartjies op haar kop het in die afgelope sewe jaar tot so drie sentimeter gegroei en word elke jaar minder. Wanneer sy in die spieël kyk, laat ’n pruik haar normaal voorkom. Dit is vir haar emosioneel beter (om ’n pruik te dra) en hoe natuurliker ’n pruik is, hoe meer gee dit haar selfvertroue ’n hupstoot,” sê Ferreira.

Volgens Lisa se ma, Susan Venter, sukkel sy al twee jaar met haarverlies en het geen hare op haar kop nie. Dit sal ook die tweede pruik wees wat sy deur die Hair with Love-inisiatief ontvang.

“Dit is lewensveranderend vir Lisa om baat te vind by ’n natuurlike pruik. Hare is belangrik vir enigiemand.”

Brown het binne drie weke al meer as R21 700 deur die skarebefondsingsveldtog ingesamel.

Liané Ferreira (7) met die eerste pruik wat sy twee jaar gelede deur die Hair with love-inisiatief ontvang het.
Die haartjies op Liané Ferreira (7) se kop is sowat 3 cm lank en word jaarliks al hoe minder. Clauston-sindroom is by haar gediagnoseer.

“As ’n gesondheidswerker het ek kinders teëgekom wat hul hare verloor het weens chemoterapie of omdat hulle alopesie het. Ek het elke keer gewens ek kan vir hulle van my hare gee saam met my krag, sodat hulle teen hul omstandighede kan baklei. Al wat ’n meisie wil hê, is om normaal, geliefd en mooi te voel,” sê Brown.

“Ek weet baie ouers is onder groot finansiële druk wanneer hul kind behandel word. Hare word dikwels as ’n luukse gesien wat hulle nie kan bekostig nie. Ek hoop met my veldtog kan ek hul reis ’n bietjie makliker maak en hopelik ander inspireer om dieselfde te doen.”

Skakel regstreeks op 7 November in vir die “Big Chop” op Brown se Instagram :

https://www.instagram.com/patricia.brown/?hl=en

Embed:

https://www.youtube.com/watch?time_continue=506&v=dZhmWp9CO9Q&feature=emb_logo

https://www.backabuddy.co.za/patricia-brown

Meer oor:  Hare  |  A Few Grey Hairs  |  Patricia Brown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.