Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hoe om jou hart te help

Tot 225 Suid-Afrikaners gaan daagliks weens hartsiekte dood. Delia du Toit vind uit hoe om hartprobleme vroegtydig beet te pak.

Dis belangrik om jou risiko vir hartsiektes deur jou dokter te laat bepaal. Sodoende sal jy weet hoe om ’n hartaanval te voorkom. Foto:

Toe die voormalige Springbok-rugbyspeler Chester Williams, ’n toonbeeld van gesondheid, vroeg in September op 49 aan ’n hartaanval dood is, was die land geskok. As dit met hom kan gebeur, kan dit dan met enigiemand gebeur?

Dit is inderdaad so dat hartsiektes deesdae in jonger mense voorkom, sê dr. Riaz Motara, ’n kardioloog van die Heart Wellness Centre in Johannesburg (heartwellness.info).

“Vyftig jaar gelede was hartaanvalle iets wat met ouer mense gebeur het; jy was ‘veilig’ tot ten minste 40-jarige ouderdom. Maar die pasiënte is deesdae ál jonger – my jongste is maar 16.”

Hy sê dis grootliks te wyte aan ons dieet en leefstyl. “Ons eet vandag heeltemal te veel suiker en verfynde stysel, en te veel olierige kos wat vlakke van die vetsuur omega 6 opstoot – te veel daarvan en te min omega 3 verhoog jou kans op hartsiekte.

“Boonop kry ons nie genoeg vitamienes en minerale in nie, want die grondgehalte verswak en gewasse word kunsmatig ryp gemaak, wat voedingstowwe in ons kos verminder. Ons stres ook baie meer en oefen en slaap te min. Dit alles veroorsaak mikro-inflammasie in die liggaam.”

Die algemeenste oorsaak van hartaanvalle vandag, sê hy, is ’n klein stukkie arteriële plaak wat loskom weens inflammasie.

“Almal het stabiele plaak in hul are, wat opbou soos ons ouer word. Wanneer ’n stukkie plaak loskom en ’n rou oppervlak in die aar agterlaat, dink die liggaam jy bloei en probeer dit regmaak deur ’n bloedklont te vorm. Die klonte kan dan ’n aar verstop en ’n hartaanval veroorsaak.”

Bepaal vroegtydig jou risiko

Chester het ’n familiegeskiedenis van hartsiekte gehad – ’n faktor wat jou risiko verhoog.

Sy broer is aan ’n hartsiekte dood in sy hoërskooljare en sy sus het skaars ’n week voor hom ’n hartaanval gehad.

As jy ’n familiegeskiedenis van hartaanvalle het, sê Riaz, moet jy vroeër vir gereelde ondersoeke begin gaan en ook stappe doen om jou risiko weens leefstyloorsake te verminder.

“Daar is geen aanbevole ouderdom wanneer jy vir hartondersoeke moet begin gaan nie. Dit verskil vir almal en hang af van jou risiko – sommige mense word met hartprobleme gebore en moet van kleins af vir ondersoeke gaan.

“Ek sou almal egter aanraai om hul risiko met hul huisdokter te bespreek. Jou dokter sal waarskynlik na jou hartklop luister, jou bloeddruk neem, ’n vingerpriktoets doen om jou cholesterol- en bloedsuikervlakke te meet en jou liggaamsmassa-indeks uitwerk. Hulle sal dan al die inligting, en jou familiegeskiedenis, gebruik om jou risiko uit te werk. Hoe meer risikofaktore jy het, hoe groter is jou kans om hartsiekte op te doen. As jou risiko baie hoog is, kan jou dokter jou na ’n kardioloog verwys vir verdere toetse.”

Verminder jou risiko

Die grootste risikofaktore vir hartsiekte is:

  • Oormatige alkoholgebruik
  • Vetsug
  • Hoë bloeddruk
  • Hoë cholesterol
  • Chroniese stres
  • Tabakgebruik
  • ’n Ongesonde dieet
  • Te min oefening
  • ’n Familiegeskiedenis van hartprobleme
  • Diabetes
  • Besoedeling

Tot 80% van hartsiektes in mense jonger as 65 kan voorkom word deur ’n gesonder leefstyl te volg, sê die Suid-Afrikaanse Hartstigting.

Verminder jou risiko met dié wenke van Riaz en die Hartstigting:

  • Eet gesond. Mik vir minstens drie porsies groente en vrugte per dag, verminder jou suikerinname en verfynde koolhidrate, vermy diepgebraaide kosse en eet meer kosse wat omega 3-vetsure bevat (vetterige vis en okkerneute is goeie bronne).
  • Oefen. As jy nie gewoond is aan oefening nie, begin stadig deur byvoorbeeld drie keer per week vir 20 minute te gaan stap en doen dan meer soos jy fikser word. Die ideaal is 150 minute se matige oefening per week. Moet nooit oefen as jy koorsig is nie – dit kan jou bloeddruk tot gevaarlike vlakke verhoog.
  • Verminder stres. Joga, meditasie en asemhalingsoefeninge is goeie teenvoeters.
  • Hou op rook. Dit sal jou risiko met tot 36% verlaag.
  • Handhaaf ’n gesonde liggaamsmassa-indeks. Deel jou gewig in kilogram deur die kwadraat van jou lengte in meter om dit te bepaal – meer as 24,9 is ongesond.
  • Beperk alkoholgebruik. Vroue moenie gereeld meer as een drankie per dag drink nie, en mans nie meer as twee nie.
  • Toets jaarliks jou bloeddruk- en cholesterolvlakke.

Waarskuwingstekens

Die waarskuwingstekens van hartsiektes sluit in ligte of matige borspyne, om uitasem te voel sonder dat jy oefening gedoen het, om al vinniger uitasem te begin voel wanneer jy oefen, of ongewone hartkloppings (hetsy te vinnig of te stadig, ’n skielike aritmiese klop of ’n gevoel dat jou hart harder teen jou bors klop) – veral as jy lighoofdig of duiselig voel saam met enige van dié simptome.

Die simptome kan soms vir onskuldige redes soos dehidrasie, moegheid of weens ’n verkoue voorkom, maar dis beter om ’n dokter te spreek as om dit te ignoreer, sê Riaz.

“Moenie enige hartwaarskuwingstekens ignoreer nie, en moet ook nie bang wees om vir hartsiekte te toets nie. Daar is verskeie medikasies, leefstylaanpassings en chirurgiese opsies om hartsiektes te beheer – en hoe vroeër jy hulp kry, hoe beter.”

As jy skielike, erge borspyne het, veral as die pyn tot in jou kaak of arms strek, is dit moontlik ’n hartaanval en moet jy spoedig by ’n dokter of hospitaal kom. Die simptome is ietwat verskillend in mans en vroue, sê Riaz: Mans voel gewoonlik asof iets baie swaar op hul borskas druk, terwyl vroue eerder pyn onder hul borskas, nader aan die maag, of in ’n skouer het. Vroue voel ook gewoonlik naar en uitasem daarmee saam.

Sorg dat jy dadelik ondersoek word, selfs al gaan die pyn weg.

Só werk die algemeenste harttoetse, volgens die Amerikaanse Hartvereniging:

Elektrokardiogram: Plakkers op jou arms, bene en borskas word met drade aan ’n masjien gekoppel. Die toets kan binne sekondes die elektriese aktiwiteit van jou hartklop bepaal, wat aandui of jou hart normaal, te vinnig of te stadig klop, en of enige van die hartspiere vergroot of oorwerk is.

X-strale, RT-aftasting of MRB: ’n Tegnikus neem beelde van jou hart, are en longe. X-strale kan ’n paar sekondes neem, terwyl jy tot 60 minute doodstil moet lê in ’n MRB-masjien. Vir ’n RT-aftasting word ’n drup in jou hand geplaas, maar die toets neem ’n paar minute. Die verskillende beelde gee die kardioloog inligting oor jou hart en are se vorm, grootte en werking.

Kardiogram: ’n Tegnikus of dokter sal plakkers op jou bors sit en dan ’n sonar gebruik om jou hart deur jou bors en ook vanaf jou nek en buik waar te neem. Dit kan byna enige hartvormdefek opspoor en ook hartspierfunksie wys. Dit neem sowat 40-60 minute.

Angiogram: Vir die toetse sal jy waarskynlik in ’n hospitaal opgeneem word. ’n Kateter word dan vanaf ’n been, arm of jou nek binneaars tot by jou hart deurgevoer om bloedsomloop op verskillende plekke in jou hart te meet. Vir ’n angiogram word ’n vloeistof ook in die kateter gespuit om klein X-strale te neem.

Meer oor:  Hartaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.