Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitaal reël ‘matriekafskeid’ vir 19-jarige pasiënt

Toe ’n matrikulant se een long platval, was daar geen manier dat sy die hospitaal kon verlaat om haar matriekafskeid by te woon nie.

Craig Radue en sy dogter, Larisca, toe die hospitaalpersoneel haar in die Livingstone-hospitaal met ’n “matriekafskeid” verras het. Foto: Lulama Zenzile
Craig Radue vee sy dogter, Larisca, se trane af. Sy was oorstelp toe die hospitaalpersoneel haar met ’n “matriekafskeid” verras het. Foto: Lulama Zenzile

Danksy goedhartige hospitaalpersoneel is ’n “matriekafskeid” egter na haar gebring.

Die rok, grimering- en haarafspraak, en selfs ’n ontmoeting met Chad Durheim, mnr. PE UberMANn, het die afgelope Vrydag op Larisca Radue (19), ’n matrikulant aan die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar in Uitenhage in die Oos-Kaap, gewag nadat sy haar eintlike matriekafskeid misgeloop het.

Larisca, by wie sistiese fibrose gediagnoseer is, se dubbele longoorplanting is vroeër uitgestel juis sodat sy haar matriekafskeid begin Oktober kon meemaak.

Volgens haar pa, Craig Radue, het sy dogter haar hele hoërskoolloopbaan na haar matriekafskeid uitgesien.

Radue sê dié teleurstelling, én dat haar long platgeval het, het sy dogter se gemoed tot ’n ongekende laagtepunt laat daal.

“Sy was baie mismoedig. Dit is moeilik om so iets te aanvaar. Saam met die lang tyd in die hospitaal en deurdat sy die dans sou misloop, het dinge net te veel geraak.”

Die hospitaal se verrassing het volgens Radue net betyds gekom sodat Larisca weer positief kon wees vir haar longoorplanting.

“Daar is nie woorde om te beskryf hoe mooi die geleentheid was nie,” sê hy.

Chad Durheim, Mnr. PE uberMANn, vergesel Larisca Radue by die hospitaal uit. Foto: Lulama Zenzile
Craig Radue neem sy dogter, Larisca, in ’n rolstoel tot by hul motor. Foto: Lulama Zenzile

“My dogter was oorweldig toe sy die dokters en verpleegsters in ’n erewag in die gang sien staan. Toe sy op die punt by my uitkom, het sy net begin huil. Sy het pragtig gelyk.”

Larisca en haar pa kon selfs vir sowat 30 sekondes dans voordat sy uitasem was.

“Dit was beslis een van die mooiste hoogtepunte in ons lewe, maar nou lê die groot stryd voor.”

Larisca is Dinsdag per ambulans saam met haar pa na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geneem.

“Die rit was maar stadig, want hulle het kort-kort gestop om te kyk of sy genoeg suurstof het en om toetse te doen.”

Dit was beslis een van die mooiste hoogtepunte in ons lewe, maar nou lê die groot stryd voor.

Hulle het Dinsdag omstreeks 20:00 by die hospitaal aangekom. Dokters probeer Larisca, wat nou 39 kg weeg, se gewig nou opstoot terwyl sy op ’n paar beskikbare longe wag.

Radue sê sy dogter is gespanne oor die operasie.

“Dit is ’n verskriklike groot operasie en sy weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Dit kan in die middel van die nag wees – as die longe daar is, moet dit gebeur. Maar sy is sterk.”

Radue is ’n enkelouer nadat sy vrou en Larisca se ma, Lia, sowat drie jaar gelede aan borskanker dood is.

“Finansieel gaan dit uitdagend wees om op en af te vlieg, maar ek is seker daar sal ’n uitkoms wees.”

Hy het Larisca Woensdag met ’n swaar hart gegroet omdat hy na sy sakebelange en sy ander twee kinders tuis moet omsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.