Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hou op rook en red jou gesondheid en finansies in 2021

Hoewel rook al lank deel is van ons kultuur en samelewing, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie dat tot 8 miljoen sterftes jaarliks tabakverwant is, met 7 miljoen die direkte gevolg van tabakgebruik en 1,2 miljoen weens tweedehandse rook.

Met ongeveer 3 miljoen mense wat hul werk as gevolg van die Covid-19-pandemie verloor het, behoort die finansiële en gesondheidsvoordele van ophou rook, as aanmoediging vir Suid-Afrikaners te dien.

Prof. Richard van Zyl-Smit, longspesialis en hoof van die kliniese navorsingseenheid oor longe aan die Universiteit van Kaapstad se long-instituut, sê navorsing wat deur Amerika se nasionale sentrum vir biotegnologie-inligting (NCBI) gedoen is oor die gevare van rook en die voordele wat dit inhou om op te hou rook, erken dat rokers wat vroeg in hul volwasse lewe begin rook en nie ophou nie, ’n dekade se lewensverwagting verloor teenoor nie-rokers.

Gooi vandag jou sigarette weg en spaar nie net geld nie, maar ook jou gesondheid. Foto: iStock

“Chroniese, nieoordraagbare siektes (NCD) is besig om toe te neem, met tabakverbruik wat een van die grootste bydraende risikofaktore is om aan ’n NCD te sterf. Om op te hou rook sal nie net persoonlike gesondheid help beskerm nie, maar ook diegene rondom jou teen blootstelling aan tweedehandse rook. Om op te hou rook, veral voor die ouderdom van 40, lei tot ’n laer risiko vir sterfte.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê sodra jy ophou rook, stel dit jou longe en hart onmiddellik in staat om beter te funksioneer. Binne 20 minute daal jou verhoogde hartklop en bloeddruk wat met rook verband hou, en na 12 uur keer die koolstofmonoksiedvlak in jou bloedstroom terug na normaal. Binne twee tot 12 weke verbeter jou sirkulasie en neem jou longfunksie toe, en na een tot nege maande hoes jy minder en voel jy nie meer so kortasem nie.

Prof. Van Zyl-Smit sê benewens verbeterde lewensgehalte en asemhalingsvermoë, kan jy ook beter proe en ruik. “As jy ophou rook sal jou immuunstelsel sterker word, wat beteken dat jy minder gereeld siek sal word.”

Nie net word persoonlike gesondheid deur rook beïnvloed nie, maar ook die ekonomiese groei en stabiliteit van Suid-Afrika, aangesien plaaslike rokers die regering geld kos.

Hierdie stelling word ondersteun deur navorsing wat deur dr. Hana Ross en kollegas aan die Universiteit van Kaapstad gedoen is. Dit dui daarop dat Suid-Afrikaanse rokers die regering jaarliks meer as R42 miljard kos.

Dit is belangrik om daarop te let dat onttrekkingsimptome ernstig kan wees, maar jou nie sal doodmaak soos sommige mense dink nie.

Op verbruikersvlak staar baie Suid-Afrikaners ’n enorme skuldlas in die gesig. Die skuldberadingsvereniging skat dat soveel as 10 miljoen Suid-Afrikaners in 2020 slegte skuld gehad het, met ’n gemiddeld van 63% wat hul na-belasting-inkomste aan terugbetalings bestee – ’n syfer wat beslis toegeneem het, met banke wat reken dat dit weer kan toeneem.

Inaggenome dat die gemiddelde pakkie sigarette ongeveer R40 kos, en veronderstel jy rook ’n pak van 20 sigarette per dag, beloop die gewoonte jou meer as R1 200 per maand en R14 400 per jaar.

“Jy kan redeneer dat, gegewe die huidige ekonomiese situasie van baie Suid-Afrikaners as gevolg van die Covid-19-pandemie, hierdie bykomende uitgawe beter aangewend kan word vir kos en behuising, of om in opvoeding te belê en huishoudelike finansiële situasies te verbeter,” sê prof. Van Zyl-Smit.

Hoewel dit bitter moeilik kan wees om tabakprodukte vaarwel te roep, is dit met die regte ingesteldheid, ’n verbintenis om te wil ophou en die regte mediese ingryping, nie onmoontlik nie.

“Dit is belangrik om daarop te let dat onttrekkingsimptome ernstig kan wees, maar jou nie sal doodmaak soos sommige mense dink nie. Nikotienonttrekking kan dit moeilik maak om op te hou, maar dit is belangrik om te onthou die simptome verdwyn gewoonlik binne twee tot vier weke,” troos prof. Van Zyl-Smit.

As jy daaraan dink om op te hou rook, gaan praat gerus met jou gesondheidspraktisyn oor die oplossings wat die beste vir jou sal werk.

  • Bron: Pfizer
Meer oor:  Gesondheid  |  Finansies  |  Rook  |  Tabak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.