Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Inperking'-vel? Kry meer son en stres minder!

Die tyd van inperking het vir baie mense velprobleme veroorsaak.
Sukkel jy met ‘inperking-vel’? Delia du Toit kry raad by kenners.

’n Mens sou dink jou vel lyk en voel fantasties tydens inperking – jy het meer tyd om te slaap, jy dra waarskynlik minder grimering en is minder aan besoedeling en die son blootgestel.

’n Mens sou dink jou vel lyk en voel fantasties tydens inperking – jy het meer tyd om te slaap, jy dra waarskynlik minder grimering en is minder aan besoedeling en die son blootgestel.

Maar baie mense kla dat juis die teenoorgestelde gebeur. Dubbel soveel Suid-Afrikaners het die woord “acne” in die laaste week van April op Google gesoek as wat middel Maart die woord ingetik het, en dis die gewildste wat die soekterm die afgelope jaar was.

Die soekterm “DIY face mask” het wêreldwyd met 233% toegeneem sedert die pandemie begin het, en “facial at home” met 115%, aldus Google Trends.

Dr. Ian Webster, ’n dermatoloog van Kaapstad (dermastore.co.za), sê baie van sy pasiënte kla hul vel se toestand het agteruitgegaan sedert die inperking in Suid-Afrika begin het.

“ ’n Mens sou verwag meer mense het nou kans om hul vel goed te versorg, maar ons het soveel klagtes gekry dat daar duidelik ander faktore is wat nou ’n groter rol speel.”

Wat gaan aan?

Stres is ’n groot oorsaak van velprobleme en kan toestande soos aknee, psoriase en ekseem vererger of selfs veroorsaak.

Stres is ’n groot oorsaak van velprobleme en kan toestande soos aknee, psoriase en ekseem vererger of selfs veroorsaak, sê Ian. “Die onsekerheid op die oomblik, die verlange na vriende en familie, die finansiële druk – dit alles kan stres en angs veroorsaak en die vel aantas.”

Stres kan ook veroorsaak dat jy minder slaap en ’n goeie nagrus is noodsaaklik vir ’n gesonde vel omdat dit dan rus en herstel nes die res van jou liggaam.

Maar daar is ook baie klein veranderings wat jy waarskynlik nie eens dink jou vel sal raak nie en moontlik probleme kan veroorsaak, sê hy verder.

“Jou roetine het seker heelwat verander en dit kan ’n uitwerking op jou vel hê. Dis moontlik dat jy saans opgehou het om jou gesig te was omdat jy nie meer jou normale roetine volg nie en dan vergeet om dit te doen.

“Boonop neem jy dalk langer storte en baddens omdat jy meer tyd het, wat jou vel kan uitdroog. Jy is heeldag tuis en naby die yskas, so jy eet moontlik meer ongesonde kos.

En jy gebruik dalk jou slimfoon, rekenaar en televisie meer, en die blou lig wat dié toestelle uitstraal, mors nie net met jou slaappatrone nie, maar studies het al bewys dit dring jou vel binne en kan kollageen beskadig.”

Siobhan Yeatman, ’n Durbanse skoonheidskenner en skrywer van die skoonheids-en-leefstylblog sugarspiceblog.­co.­za, sê baie mense maak ook die fout om te veel aan hul vel te doen – hetsy in ’n poging om probleme reg te stel of bloot omdat hulle meer tyd het.

Maskers en behandelings kan jou vel goed doen, maar té veel het die teenoorgestelde uitwerking omdat dit jou vel oorstimuleer.

“Maskers en behandelings kan jou vel goed doen, maar té veel het die teenoorgestelde uitwerking omdat dit jou vel oorstimuleer.”

En jou materiaal-gesigmasker kan ook tot die probleem bydra, sê Shan Fourie, ’n Johannesburgse skoonheidsblogger (shanfourie.co.za).

Vel-olies en bakterieë gaan sit daaraan vas en as jy nie jou masker elke dag was nie, kan dit jou porieë verstop en aknee of uitslae veroorsaak.

Wat kan jy daaraan doen?

Stap een is om in ’n roetine te probeer kom wat jou stresvlakke sal laat daal en sal help dat jy beter slaap, sê Ian.

Die goeie nuus is dat die mens in staat is om redelik vinnig by ’n nuwe roetine aan te pas. Probeer joga, meditasie of asemhalingsoefeninge om stres in toom te hou.

“Die goeie nuus is dat die mens in staat is om redelik vinnig by ’n nuwe roetine aan te pas. Probeer joga, meditasie of asemhalingsoefeninge om stres in toom te hou.”

Verder, sê hy, moet jy probeer om minder verfynde koolhidrate, stysel en alkohol in te neem en meer water, groente en vrugte.

“As jy sukkel met aknee, moet ook nie te veel suiwel eet en drink nie, want dit kan die probleem vererger.”

Ian, Siobhan en Shan gee ook dié wenke:

  • Skakel elektroniese toestelle ’n uur voor jy bed toe gaan af, sodat die blou lig nie jou slaap versteur nie. Sommige toestelle het deesdae ook ’n funksie wat blou lig blok.
  • Maak jou gesig twee keer per dag skoon. Dié met droë velle hoef net saans te was en soggens ’n misel-water (micellar water) te gebruik, terwyl dié met olierige en kombinasievelle twee keer per dag moet was.
  • Moenie te lank bad of stort nie, want dit verwyder natuurlike olies in jou vel en droog dit uit. Gebruik ’n goeie vogroom ná die tyd.
  • Moenie nou skielik ’n klomp nuwe produkte gebruik nie, want té veel nuwe dinge op een slag kan jou vel irriteer. Hou by jou roetine en produkte voor die inperking en verander net hier en daar ’n produk as jy wil.
  • Gebruik ’n lugbevogtiger (humidifier) as jy in ’n droë omgewing woon, veral as jy ’n verwarmer gebruik. Droë lug droog ook jou vel uit.
  • As jy byna net binne bly, probeer om vir 15 minute per dag buite te staan vir vars lug en ’n bietjie son. Andersins, gebruik ’n vitamien D-aanvulling – 600 IU per dag.
  • Beperk behandelings soos maskers en afskilferaars tot twee keer per week.
  • Koop twee materiaal-gesigmaskers sodat jy altyd ’n skone het.
  • As jou gesig styf voel nadat jy dit gewas het, is jou wasmiddel waarskynlik te sterk vir jou vel. Probeer ’n sagter, natuurlike produk wat bevogtigers bevat. ’n Romerige tekstuur is in dié geval beter as ’n seperige tekstuur.
  • Moenie grimering onder jou materiaal-gesigmasker dra nie, want die wrywing op jou vel kan jou porieë verstop.
  • Hoewel sommige vlugtige olies soos teeboom- (tea tree-), hamamelis- (witch hazel-) en olibanum- (frankincense-)olies antibakteries en anti-inflammatories is, moet jy oppas om enigiets - ook ontsmettingsmiddels - op jou materiaalmasker te spuit, omdat dit jou vel kan irriteer. Was eerder jou masker elke dag.
Jy het geen ander keuse as om gereeld jou hande te was nie en die meeste mense kla nou oor krokodilvel op hul hande.
Die voortdurende handewas en waterlose handreinigers wat ons gebruik, droog ’n mens se hande uit.

Jy het geen ander keuse as om gereeld jou hande te was nie en die meeste mense kla nou oor krokodilvel op hul hande.

Sterk, alkaliese sepe droog jou vel uit en antibakteriese middels maak goeie én slegte bakterieë op jou vel dood, wat die vel se mikrobioom versteur.

Volg dié wenke van dr. Ian Webster, ’n dermatoloog van Kaapstad, en Siobhan Yeatman, ’n Durbanse skoonheidskenner:

  • Gebruik ’n vogroom elke keer nadat jy jou hande gewas het. As jou vel uiters droog is, kan rome wat vir ekseem gemaak is, help.
  • Antibakteriese- en ontsmettingsmiddels droog jou vel meer uit as seep en water. Gebruik dit net as dit nie anders kan nie.
  • Vermy sterk sepe met geur- en kleurmiddels en gebruik eerder eenvoudige, natuurlike produkte. Dit was die virus net so goed af, maar is sagter op jou vel.
Meer oor:  Stres  |  Vel  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.